As jy vandag ’n suksesvolle veeboer wil wees, sal jy noukeurig moet aandag gee aan meting. As jy dit nie meet nie kan jy dit nie bestuur nie en as jy dit nie bestuur nie het jy nie daaroor beheer nie. Dit was die finale boodskap van Nick Serfontein van die Sernick-groep op ’n onlangse boeredag op die Sernick Landgoed buite Edenville in die Vrystaat.

Sowat 150 boere het die dag bygewoon. Die sprekers was die politieke analis dr Theo Venter van die Noordwes Universiteit, die bekende landbou-ekonoom prof Johan Willemse, Hennie Snyman van Paradigm Landboukundige Adviseurs en Nick Serfontein, voorsitter van die Sernick-groep.

Die boodskap was deurgaans postief, te midde van die negatiewe gebeure die afgelope tyd in die land.

Theo Venter het die vertroue uitgespreek dat die politieke stelsel in die land sal hou en dat boere nie onnodig moedeloos hoef te raak nie, terwyl Johan Willemse boere aangemoedig het om ’n plan te formuleer, daarop te fokus en hulle daarvan te weerhou om hul aandag te laat aflei. Siklusse is deel van die landbou-omgewing, en boere moet verstaan waar presies ’n spesifieke siklus op ’n gegewe tydstip is.

Op meer praktiese vlak het Hennie Snyman gedemonstreer hoe ’n goeie bees beoordeel moet word, waarna Nick Serfontein afgesluit het deur boere daarop te wys dat die antwoord van winsgewendheid in presisieboerdery lê. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY