Estimated reading time: 3 minutes
Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Suiweltegnologie (SAVST) het onlangs sy jaarlikse simposium by Nottingham Road in KwaZulu-Natal aangebied. Vanjaar was die fokus ‘Suiwel: Die volgende dekade – geleenthede en uitdagings’.
Samestelling van die program
As huidige president van die vereniging, is Christine Leighton verantwoordelik vir die samestelling van die program. Vier hooftemas is oor die twee dae van die simposium aangespreek. Die eerste sessie het gefokus op geleenthede en uitdagings, die tweede op voedselvermorsing en -verlies, die derde op verbruikerstendense en regulatoriese aangeleenthede, en die finale sessie oor fermenteringstegnologie.
“Hierdie jaar was eintlik die derde aflewering van ’n reeks van aaneenskakelende temas wat ons hanteer het. Twee jaar gelede het die fokus op die bestuur van water, spesifiek afvalwater, geval. Verlede jaar is op omgewingsfaktore gekonsentreer en vanjaar op uitdagings en geleenthede. Soveel het die afgelope jaar verander, veral met die oorlog in Oekraïne, dat ons gevoel het ons moet dit spesifiek aanspreek.”
Vind meer oor meester suiwelboere uit hier.
Tegnologiese ontwikkeling
Wat tegnologiese ontwikkeling betref, sê sy, het baie in die veld van fermentasie en gefermenteerde voedsel gebeur. “Die Covid-pandemie het ons gedwing om tegnologie op ’n ander vlak in te span. Dit het meegebring dat ons nou sprekers van oor die hele wêreld by die simposium kon betrek vir aanlyn-voordragte. Ses internasionale sprekers kon op hierdie manier aan die simposium deelneem, wat ’n ander dimensie daaraan gegee het.”
Tertius Cilliers, uitvoerende hoof van Synercore, het die simposium afgesluit met ’n paar opsommende opmerkings. Wat vir hom veral uitgestaan het, sê hy, was juis die groot verskeidenheid van sprekers.
“Daar was ’n diverse versameling van sprekers wat verskillende uitdagings in die bedryf vanuit verskillende hoeke aangespreek het. Wat sterk deurgekom het, is die feit dat die bedryf ’n groot verantwoordelikheid het rondom volhoubaarheid – vanaf die melkplaas tot wanneer ons produk in die verbruiker se hande beland.”
Hy het spesifiek verwys na ontwikkelinge op die gebied van presisie-fermentasietegnologie wat toenemend gebruik word om selfs ’n fraksie van ‘n melkproteïen te vervang. Die uitdaging vir die bedryf is hoe om by hierdie tegnologie aan te pas en dit optimaal te benut.
Beste vir die verbruiker
“Die verbruiker moet altyd vooropgestel word. Veral in hierdie moeilike ekonomiese klimaat is dit ons taak om voortdurend daarna te streef om vanuit beide ’n koste- en voedingsperspektief vir hulle die beste moontlike waarde vir geld te bied.”
Dit is ook die plig van suiweltegnologie-rolspelers om, ten spyte van die geweldige hoë en ingewikkelde vlak van tegnologie, verbruikers van relevante en akkurate inligting te voorsien sodat hulle ingeligte verbruiksbesluite kan neem.
Vir meer inligting, besoek www.sasdt.org.za. – Izak Hofmeyr, Plaas Media