Estimated reading time: 3 minutes
Hoewel Saoedi-Arabië se voedsel-en-medisyne-owerheid (Safda) verlede week die verbod op vleis- en rooivleisprodukinvoere vanaf Suid-Afrika gelig het, sal dit nog ’n tyd neem voor die eerste besending vleis daarheen uitgevoer kan word. So sê Louw van Reenen, uitvoerende hoof van die Beefmastergroep.
“Dit is beslis ’n fantastiese geleentheid, want Saoedi-Arabië beskik oor die grootste ekonomie in die Midde-Ooste, ’n streek wat ál hul vleis moet invoer,” sê Van Reenen. Hy voeg by dat die enkele land se ekonomie omtrent so groot soos al die ander lande in die streek se gekombineerde bruto-binnelandse produk is. “Ons wag egter nog om te hoor watter uitvoerders deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling goedgekeur sal word om daarheen uit te voer.”
Verder sal enige goedgekeurde abattoir of rooivleisverwerkingsaanleg steeds ’n koper in Saoedi-Arabië moet identifiseer en die nodige kontrakte in plek kry.
“Een van Safda se voorwaardes is dat ’n staatsveearts elke besending vleis moet inspekteer en sertifiseer voor dit verskeep kan word. Beefmaster is reeds vir 20 jaar gesertifiseer om vleis uit te voer en ons probeer om met die staatsveearts te reël dat sertifisering tussen sy ander werk deur gedoen kan word,” sê Van Reenen.
Lees meer oor die huidige vleisprystendense.
Staatsbande versterk
Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement, het verlede week bevestig dat Safda se besluit ’n direkte gevolg is van ’n staatsbesoek van president Cyril Ramaphosa aan die Midde-Oosterse land verlede Oktober.
“Tydens die besoek het ministers Thoko Didiza (minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling) en Ebrahim Patel (minister van handel, nywerheid en kompetisie) met minister Khalid A. Al-Falih, die Saoedi-Arabiese minister van belegging, Safda-amptenare en Suid-Afrikaanse rooivleisrolspelers vergader. ’n Taakspan, wat uit Suid-Afrikaners en Saoediërs bestaan het, is aangestel om die saak te ondersoek en op grond van die ondersoek is die uiteindelike verbod gelig.
In reaksie op die besluit het Patel in ’n persverklaring gesê dat die Saoediese mark op US$5 miljard beraam word en daarom is dit ’n belangrike mark. “Suid-Afrika het reeds ’n sterk teenwoordigheid in soortgelyke halaal-markte, soos die Verenigde Arabiese Emirate en Maleisië.
Didiza het bygevoeg dat sy hoop dat die samewerking uiteindelik daartoe sal lei dat Suid-Afrikaanse pluimvee ook voortaan na dié land uitgevoer kan word.
Kry die nuutste rooivleispryse.
RPO verwelkom geleentheid
Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê die nuwe markgeleentheid is goeie nuus vir die rooivleisbedryf. “Suid-Afrikaanse rooivleis en produkte is van hoë gehalte en dis net reg dat ons dit na die sogenaamde dollar-, yen- en pond-markte moet uitvoer. Dié goedkeuring is net nog ’n stap in die regte rigting – om uitvoermarkte met welgestelde verbruikers te bewerkstellig. Die inkomste per capita in Saoedi-Arabië is van die hoogste ter wêreld en dit waarborg goeie koopkrag.”
Handel is een van die fokusareas van die vleisbedryf se nuwe statutêre heffing en hierdie stap sal op ’n inklusiewe basis die uitvoere verhoog, sê Schutte. “Dit sal ook verseker dat die opkomende sektor kan groei en die winsgewendheid en volhoubaarheid van primêre produsente verhoog.”
Aangesien Suid-Afrikaanse vleispryse tans 30% laer as die wêreld gemiddeld is, is plaaslike produsente baie mededingend teenoor die res van die wêreld, sê Schutte. “Hierdie uitvoere baan ook die weg vir die uitvoer van lewendige slagvee asook genetiese materiaal na Saoedi-Arabië.”
Hoewel Suid-Afrika steeds nie sy bek-en-klouseerstatus by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) herwin het nie, word rooivleis, danksy bilaterale ooreenkomste, tans na 28 lande uitgevoer. – Susan Marais, Plaas Media