Die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie word jaarliks deur Veeplaas en Stockfarm aangebied en is vanjaar vir die vierde keer gehou. Die doel van die kompetisie is om by te dra tot die bevordering van goeie kuilvoerpraktyke. Santam Landbou het pas bevestig dat hy in 2018 weer as naamborg van die kompetisie sal optree.

Die 2017 Suid-Afrikaanse kuilvoerkoning is reeds aangekondig en die bal word binnekort weer aan die rol gesit vir die 2018-weergawe van die kompetisie. Die wenner van die vierde Nasionale Kuilvoerkompetisie, of dan die SA Kuilvoerkoning, is Westend Landgoed van Mpumalanga. Daar was drie kategorieë waarin deelnemers kon inskryf, naamlik mielies, hawer en sorghum. Die drie kategoriewenners was Hano Lombard van Westend Landgoed van Mpumalanga vir mielies, Danie Louw van Klipheuwel vir hawer, en Sparta Baby Beef van Marquard vir sorghum. In die skolekompetisie het Hoërskool Bekker die eerste plek behaal, gevolg deur Morgenzon, Wagpos en Weston.

Die kompetisie het in die vier jaar van sy bestaan met rasse skrede gegroei en waar daar in die eerste jaar slegs agt maatskappye deelgeneem het deur hul kliënte se kuilvoerbunkers in te skryf, het daar vanjaar presies dubbel soveel maatskappye deelgeneem. Vanjaar alleen het sewe nuwe maatskappye hul kliënte se bunkers ingeskryf. Altesaam 77 inskrywings is ontvang, asook vier inskrywings van landbouskole.

“Soos reeds genoem, is die doel van die kompetisie om goeie kuilvoerpraktyke te bevorder. Dit is juis waar Santam Landbou as deel van elke kliënt se risikobestuursplan waarde wil toevoeg en so ‘n bydrae maak tot volhoubaarheid en stabiliteit,” verduidelik Hanlie Kroese van Santam Landbou hulle betrokkenheid.

“As ons die nasionale beraamde kuilvoerproduksie (nat) van ongeveer 9 miljoen ton gebruik en die prys per ton R500 maak, sal ‘n skamele 3% verbetering in kuilvoerproduksiemetodes ‘n besparing van R135 000 000 beteken. Dit is hoekom dié kompetisie so belangrik is,” het Gerhard Diedericks, hoof van Santam Landbou, tydens die aankondiging van vanjaar se wenners gesê. – Persverklaring

Hou www.agriorbit.com en die hutsmerk #kuilvoerkoning op sosiale media dop vir die jongste nuus oor die kompetisie.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY