Estimated reading time: 3 minutes
Bedryfsrelevante navorsing tot voordeel van die totale suiwelwaardeketting én Suid-Afrikaanse publiek is die hoofrede hoekom Melk SA en die staat se Tegnologie Innoveringsagentskap (TIA) op 7 Februarie ’n samewerkingsooreenkoms onderteken het. “Befondsing bly ’n groot uitdaging want net ’n gedeelte van die statutêre suiwelheffing is vir navorsing geoormerk,” sê Dr Heinz Meissner, Melk SA se navorsing- en ontwikkelingbestuurder. “Natuurlik hou dit ook voordeel in vir die TIA, want hulle het sekerheid dat die navorsing wat hulle befonds wel kwessies aanspreek wat ’n prioriteit vir die melkbedryf is.”
Dr Meissner sê die verwagting is dat die eerste befondsing met die afskop van die nuwe finansiële jaar beskikbaar gestel sal word. Befondsing sal oor ’n kwessie van drie jaar beskikbaar gestel word, wat ooreenstem met die tydlyn van die projekte wat die partye gesamentlik wil aanpak.

Groot navorsingsprojekte beplan
Drie groot projekte, met verskeie onderlinge projekte, gaan aanvanklik nagevors word met befondsing wat min of meer op ’n 50/50 grondslag verdeel sal word. Die eerste projek gaan oor gesigekseem op melkkoeie wat deur die toksien, sporidesmin, besmet word. “Dié toksien groei veral op raaigras en veral Oos-Kaapse melkboere verloor jaarliks miljoene rande as gevolg van dié probleem,” sê Dr Meissner.
Die tweede groot projek gaan oor die beskerming van die omgewing. Die afvalwater en mis van melkstalle word dikwels na ’n put afgevoer waar dit verdun word. Daardie verdunde vloeistof word dan weer oor weiveld uitgespoel, waar verlore minerale weer deur die grond en plante opgeneem kan word. Dr Meissner sê daar is egte ’n moontlikheid dat dié afvoerwater vleie en strome kan besoedel as dit daarin afspoel. Verdere navorsing is nodig om te verseker dat dié hulpbron korrek benut word en dat besoedeling op so ’n wyse verhoed kan word.
“Ons wil graag sorg dat die hele suiwelkompleks beter bestuur word, sodat voedingstowwe sinvol gebruik word,” sê Dr Meissner en voeg by dat die betrokke put opsigself ook metaan produseer, wat nog iets is wat met behulp van navorsing meer sinvol aangespreek kan word.
‘n Derde belangrike kwessie wat hanteer moet word, is dat die huidige brusellose-entstof wat vir die bedryf beskikbaar is, heelwat beperkings het. “Verse kan byvoorbeeld nie ingeënt word nie en die entstof kan ook ’n negatiewe invloed op vrugbaarheid hê,” sê Dr Meissner. Daarom wil Melk SA graag ’n projek van stapel stuur waar ’n nuwe entstof ontwikkel kan word.
TIA loof melkbedryf
Dr Vuyisile Phehane, TIA se hoof van bioekonomie, sê Suid-Afrika het een van die mees doeltreffende en mededingende suiwelbedrywe ter wêreld. “Anders as die meerderheid lande wat suiwel in die wêreldmark verkoop, word Suid-Afrika se produsente nie deur regeringssteun onderhou nie. Ten spyte van die feit dat die aantal melkplase en verwerkingsaanlegte sedert deregulasie in 1997 gekwyn het, is die bedryf steeds in staat om voldoende roumelk en suiwelprodukte van hoë standaard aan verbruikers te voorsien.”
TIA benader en assesseer waardekettings as ’n kluster en daarom het dit vir Dr Phehane en sy span sin gemaak om met Melk SA, as sambreelliggaam van die suiwelbedryf, hande te vat. “Deur hierdie benadering wil ons graag sistemiese swakhede aanspreek wat innovasie en kommersialisering belemmer eerder as om bloot befondsing aan individuele projekte te verleen.” Dr Phehane is onder meer opgewonde oor die geleentheid om saam te werk en TIA se suiwelgenomikaprogram te verbeter. – Susan Marais, Plaas Media

