Tuesday, March 21, 2023

Biosekuriteit: Rolspelers moet saamwerk

Estimated reading time: 3 minutes

Dr Alicia Cloete, staatsveearts verbonde aan die Departement Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, het by die Herkouer-veterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA) se onlangse kongres ’n opsomming gegee van basiese beheerde siektes wat by herkouers voorkom. Sy het beklemtoon dat die suksesvolle beheer en voorkoming van siektes soos bek-en-klouseer, Slenkdalkoors, brusellose, Peste des Petits Ruminants (PPR), aansteeklike beespleuropneumonie (CBPP) of longsiekte en hondsdolheid van die samewerking tussen privaatveeartse, die staat en produsente afhang. “Ons benodig volhoubare veeartsenykundige dienste om siektes soos hierdie te voorkom en te beheer en ook om sekere siektes uit te wis, wat uiteindelik die land se diereproduksie en voedselsekuriteit sal verseker,” het sy gesê.

Beginsels van biosekuriteit

Produsente het ’n verantwoordelikheid om gesonde diere aan die mark te lewer en biosekuriteit is ’n belangrike beginsel wat lewendehawe teen siektes weens virusse, parasiete, bakterieë en dies meer beskerm. Om hierdie rede is dit, volgens dr Cloete, van die uiterste belang om sorg te dra dat kuddes gesond bly en, indien ’n siekte wel uitbreek, die siekte in die kudde te beheer en te sorg dat dit nie na ander kuddes versprei nie.

Sy beskou biosekuriteit as praktyk wat deur elke produsent toegepas moet word. “Een aspek daarvan is om kennis te neem van mense wat op die plaas kom, vanuit die oogpunt dat mense ook draers van siektes of parasiete soos bosluise kan wees, en om jou kuddes dus nie onnodig daaraan bloot te stel nie.

Lees meer oor die belangrikheid van biosekuriteit hier.

“ ’n Ander aspek van biosekuriteit is om seker te maak dat diere wat ingekoop word of met jou kudde meng, siektevry is en reeds teen sekere siektes beskerm word. Dit is ’n produsent se verantwoordelikheid om seker te maak dat diere wat gekoop word, vooraf getoets en/of ingeënt is. Indien nie, moet daar ’n afsonderingsgebied op die plaas wees waar die nuwe diere getoets en ingeënt kan word.”

Alhoewel die aantal somervektore gewoonlik gedurende die kouer maande afneem, versoek dr Cloete produsente om steeds op hul hoede te wees, omdat siektes soos brusellose, tuberkulose en hondsdolheid regdeur die jaar kan uitbreek.

Soönotiese siektes

’n Aspek wat dikwels oor die hoof gesien word, is die oordrag van siektes waar mens en dier in kontak kom. “Ons verwys na siektes wat mense van diere af kan kry, as soönotiese siektes,” het dr Cloete later tydens ’n gesprek met Plaas Mediagesê. “Die dodelike een wat mense gewoonlik baie bang maak, is hondsdolheid, wat hoofsaaklik vanaf honde na mense oorgedra kan word. Maar dan kry jy ook siektes soos brusellose, tuberkulose en Slenkdalkoors, wat hoofsaaklik plaasdiersiektes is en aan mense oorgedra kan word.

“As ’n mens byvoorbeeld ongepasteuriseerde melkprodukte gebruik van kuddes wat met brusellose en tuberkulose besmet is, kan ’n persoon hierdie siektes opdoen. En dit is waarom daar op volgehoue biosekuriteitsmaatreëls gehamer word – dit kan ’n wesenlike verskil maak in die gesondheid van verbruikers, veekuddes en die welstand van die bedryf.”

Vir meer inligting, stuur ’n epos na aliciac@dalrrd.gov.za of besoek www.dalrrd.gov.za. – Carin Venter

Popular stories