Estimated reading time: 4 minutes
GWK se aandeelhouers het onlangs ten gunste van die voorgestelde samesmelting van GWK en VKB gestem. Dié besluit is tydens ʼn spesiale aandeelhouersvergadering wat op Douglas aangebied is geneem.
VKB se direksie het reeds voorheen binne hul mandaat die transaksie goedgekeur, onderhewig aan instemming deur GWK se aandeelhouers en die betrokke regulatoriese goedkeurings, onder meer van die mededingingsowerhede.
Lees meer oor die Overberg Streeksjeugskou hier.
Nicolaas Kruger, voorsitter van die GWK Groep se direksie, sê ná afloop van ʼn baie konstruktiewe en deeglike onderhandelingsproses tussen GWK en VKB, het GWK se direksie eenparig besluit om die transaksie te ondersteun en vir goedkeuring aan die maatskappy se aandeelhouers voor te lê. Die GWK-aandeelhouers se ondersteuning vir die transaksie tydens die spesiale aandeelhouersvergadering is ʼn baie belangrike strategiese mylpaal in GWK se geskiedenis.
ʼn Transaksie met strategiese voordele
“Ons is verheug dat GWK se aandeelhouers saamstem met die strategiese voordele wat die transaksie met verloop van tyd vir die verskillende belanghebbendes kan ontsluit, insluitend skaalvoordele, groeigeleenthede en risiko-diversifisering,” sê Kruger.
Volgens Coenraad Fick, voorsitter van die VKB Groep se direksie, is VKB oortuig dat die voorgenome transaksie waarde inhou vir albei ondernemings en hulle aandeelhouers: “Ons verwag dat sinergie ontsluit kan word wat tot groter stabiliteit en volhoubaarheid sal bydra in ʼn uitdagende en veranderlike omgewing.
“Die ooreenstemmende besigheidskulture en visie van die ondernemings behoort by te dra om implementering te vergemaklik. Ons voorsien ook dat dit dienslewering aan kliënte sal verbeter met gepaardgaande voordele. Ons is opgewonde dat dit ʼn soliede basis sal skep om geleenthede vir toekomstige groei en vooruitgang te benut.”
Die goedkeuring deur GWK se aandeelhouers volg ná gesprekke tussen die twee maatskappye reeds in Julie 2020 afgeskop het en, meer onlangs, ʼn vaste voorneme aankondiging vir die moontlike samesmelting wat in Julie 2022 aan GWK se aandeelhouers bekendgemaak is.
Die aankondiging is opgevolg deur ʼn reeks spesiale inligtingsessies vir GWK se aandeelhouers in Julie 2022 om fynere besonderhede oor die transaksie met GWK se aandeelhouers te deel, ter voorbereiding vir die spesiale GWK-aandeelhouersvergadering. Die gesprekke en noukeurige werk is in die langtermyndoelstellings van albei maatskappye gewortel en het ten doel om momentum te behou met die besighede se groei- en toekomsstrategieë.
Lees meer oor hoe om werksafleggings te hanteer hier.
Die voorgestelde transaksie behels die volgende:
- ʼn Kontantbedrag asook ʼn finansiële instrument wat deur VKB uitgereik word aan GWK-aandeelhouers om op ʼn regverdige grondslag volgens kapitaalwaarde saam met aandeelhouers van VKB belange en stemreg in die gesamentlike onderneming te hê.
- Verteenwoordiging van albei maatskappye se historiese aandeelhouers op die direksie van die gesamentlike onderneming.
- Behoud van albei handelsmerke, sowel as voortgesette besigheid onder hierdie handelsmerke.
- ʼn Integrasiekomitee met gelyke verteenwoordiging uit die twee groepe sal ingevolge die transaksie die mandaat hê om die integrasie van die ondernemings se bedrywighede te beplan en te monitor.
Die samestelling en ontwerp van die transaksie is gedryf deur afgevaardigdes van GWK en VKB, in samewerking met, Pallidus, ʼn eksterne, onafhanklike korporatiewe adviseur om ʼn ooreenkoms saam te stel wat verseker dat albei partye beskerm en bevoordeel word. Die afgevaardigdes van GWK en VKB het krities gaan kyk na verskeie aspekte, onder meer sinergie in terme van maatskappykultuur en -struktuur, ʼn gedeelde visie om landbou te bevorder, die behoud van ʼn besigheid in boerebesit en die voortsetting van gehalte ondersteuning aan produsente op plase.
Llewellyn Brooks, die GWK Groep se besturende direkteur, sê die ondersteuning van GWK se aandeelhouers is ʼn belangrike mylpaal in die besigheid se strategiese reis. “Ek is opgewonde oor die geleenthede wat hierdie transaksie vir al ons belanghebbendes gaan ontsluit en sien uit daarna om die landboumaatskappy van die toekoms te help skep.”
Volgens Koos Janse van Rensburg, die VKB Groep se huidige besturende direkteur, is die GWK-aandeelhouers se aanvaarding van VKB se aanbod die resultaat van twee jaar se onderhandelingsgesprekke.
“GWK én VKB se produsente sal by die transaksie baatvind. Die sinergie wat tussen die besighede bestaan sal die groter besigheid na ʼn volgende rat laat oorskakel ná die transaksie. Dit sal nuwe geleenthede ontsluit en ook aan personeel beter persoonlike groeigeleenthede bied. Ons sien uit om die geleenthede te ontgin indien die regulatoriese owerhede die transaksie goedkeur,” sê hy.
Lees meer oor die Agri Oos-Kaap Jongboer van die Jaar wenner hier.
Dr PG Strauss, wie Janse van Rensburg van 1 Oktober 2022 as besturende direkteur van die VKB Groep sal opvolg, sê GWK en VKB het ʼn belangrike bydrae om te maak in die Suid-Afrikaanse landboubedryf. “Samewerking verbeter die volhoubaarheid van albei ondernemings, en verseker dat albei ondernemings ook in die toekoms produsente sal kan ondersteun om vooruit te gaan en volhoubaar te wees. Dít met die doel om voedselsekuriteit en ekonomiese groei van Suid-Afrika te ondersteun,” sê Dr Strauss.
Die voorgestelde transaksie tussen GWK en VKB sal eersdaags dien voor die mededingingsowerhede en is, onder meer, onderhewig aan hierdie goedkeuring voor die integrasieproses aanvang kan neem. Die gesprekke tussen die twee maatskappye was, en word steeds, onderhewig aan voldoening aan mededingingswetgewing en ander regulatoriese goedkeurings hanteer. – Gesamentlike persverklaring, VKB en GWK