Saaiboerdery
Lede van Graan SA het Prieska se saaiboere besoek ten einde hulle in te lig oor die werksaamhede van die organisasie en die suksesse wat reeds bereik is. Op die foto is die gaste saam met twee van die saaiboere. Van links is Jan-Philip Botha van Prieska, Dirk Strydom van Graan SA, dr Pieter Taljaard, uitvoerende hoof van Graan SA, Richard Krige, voorsitter van die SA Winter Cereal Industry Trust, en Chris de Villiers van Prieska

Die nuwe uitvoerende hoof van Graan SA, dr Pieter Taljaard, en die voorsitter van die nuwe SA Winter Cereal Industry Trust (SWACIT), Richard Krige, het aan die saaiboere van Prieska besoek gebring. In die binnekringe van Graan SA is daar heelwat wiele aan die rol en volgens dr Taljaard is al die projekte wat aangepak word, daarop gefokus om die produsent te help om meer winsgewend te boer.

Hy sê die voormalige uitvoerende hoof, Jannie de Villiers, het verlede jaar al begin om alles in plek te kry vir die nuwe SWACIT met die doel om weg te beweeg van staatsbeheerde organisasies wat nie vir die boere waarde vir hul geld gee nie. Die boere het begin om vrywillige heffings te betaal vir dié talle projekte van SWACIT wat aangewend word om die toekoms van graanboerdery in Suid-Afrika (SA) te bevoordeel.

Hy het verskeie punte aangeraak en onder meer ook gepraat oor die landbou-meesterplan wat opgestel is met die doel om landbou op nasionale vlak beter te bestuur. Graan SA het ’n groot bydrae tot hierdie plan gelewer. Taljaard sê die plan is gedryf deur groei en indiensneming, met ander woorde om landbou te vergroot en meer werksgeleenthede te skep.

Meesterplan sal landbou laat groei

Volgens hom is daar baie praktiese aksies ingebou met die doel om hervorming aan te moedig, met die oog op ontwikkeling en groei in die landbousektor. Hy sê die land kan nie voortgaan sonder volhoubare landbouers nie, maar dinge soos grondhervorming gaan plaasvind en ontwikkeling en groei in die landbou moet altyd voorop gestel word.

In die meesterplan word daar ook baie duidelik na samewerking tussen die staat en die privaatsektor verwys. Dit was ook ’n punt wat die staatspresident, Cyril Ramaphosa, tydens die staatsrede baie duidelik uitgewys het. Die land se ekonomie kan nie groei as die staat en die privaatsektor nie hande vat nie. In die landbou is dit ook so. Taljaard sê dit is oor en oor bewys dat landbouprojekte nie kan slaag as daar nie kommersiële boere betrokke raak wat ervaring en onderrigting het nie. Die staat is ook baie meer geneë om die ervare kommersiële landbouers in die saal te hou.

Uit die meesterplan is dit een van landbou se doelwitte om in internasionale arena op ’n meer kompeterende vlak mee te ding. Die staat onderneem om ’n omgewing te skep waar landbouers met meer vrymoedigheid produkte kan uitvoer. Ten einde landbou veilig te hou moet die veiligheid op die platteland ook prioriteit geniet, en daar word na al hierdie faktore omgesien.

Taljaard sê die Covid-kwessie was ’n voordeel vir die landbou omdat almal skielik besef het die landbou is belangrik in die oorlewing van ’n land, en moet nie onder die tafel ingevee word nie. Hy sê hierdie meesterplan maak voorsiening vir alles om die landbou te laat groei, maar al die planne op papier is een ding. Dit moet egter geïmplementeer word en dit is gewoonlik daar waar die probleme ontstaan. Volgens hom word dié implementeringsplanne ook met omsigtigheid benader ten einde die landbousektor ’n wen-wen-situasie vir elke rolspeler te maak. – Koos du Pisanie, AgriOrbit