Estimated reading time: 3 minutes

Suid-Afrikaanse Agri Inisiatief (Saai) het gister bekendgemaak dat dié organisasie ook tot die stryd gaan toetree om vergoeding vir sowat 600 van sy lede, wat hul grond tydens Zimbabwiese grondvergrypings verloor het, te probeer kry. Só het dr Theo de Jager, voorsitter van Saai, gister tydens ‘n mediakonferensie in Pretoria gesê.

“As jy vra hoe dit nou in Zimbabwe gaan, is die produsente se antwoord altyd dieselfde: ‘Dinge is moeilik, maar hierdie jaar gaan ons groot ommekeer kom!’ Elke jaar. Dit is nou 23 jaar nadat Mugabe se Zanu PF begin het om wit produsente brutaal van hulle plase af te jaag, en amper drie jaar nadat die Global Compensation Deed met landbou-organisasies geteken is.

“Daarvolgens het Zanu PF erken dat hy vergoeding aan die produsente verskuldig is en hom tot ’n afbetalingsreëling verbind, maar nog niks het gerealiseer nie,” het De Jager gesê. “Baie van die produsente het intussen reeds gesterf en ander word elke jaar ouer. Die regering is bewus daarvan en dit wil lyk of hulle hoop dat hierdie probleem letterlik sal uitsterf, maar dit mag nie gebeur nie,” sê dr De Jager.

Lees meer oor projekte om Zimbabwe-produsente terug te kry hier.

Saai ontmoet amptenary en media

Daar is onlangs ‘n vergadering gehou met ambassades in Pretoria om groter bewussyn te skep van die lot van onteiende produsente en om hulle op hoogte te bring van die nuutste aanbiedinge van die Zimbabwiese regering om vergoeding te betaal. Dit is opgevolg met ‘n mediakonferensie waar Willie Spies, ‘n prokureur van Hurter Spies Ing, die aanloop en huidige stand van regsaksie teen die Zimbabwiese en Suid-Afrikaanse regerings uiteengesit het.

“Ons kan nie te veel van ons strategie in die media bespreek nie, maar dis belangrik om ’n manier te vind om die korporatiewe sluier te deurboor, sodat diegene wat verryk is deur die grondvergrype uiteindelik vir hul wandade kan betaal.”

Lees meer oor jong boere in Zimbabwe.

Hulpfonds gestig

“Daar word wel sporadies klein bedrae deur die Zimbabwiese regering aan die mees kwesbare ou produsente betaal om hulle met agterstallige doktersfooie en medisynerekeninge te help,” sê De Jager, maar voeg by dat hierdie hulp egter as ’n geweer teen die kop van die breër produsentegemeenskap gebruik word. “Dit dra die dreigement dat dit tot ‘n einde sal kom as titelaktehouers nie die nuwe aanbod wil aanvaar nie.”

Daarom het Saai ’n hulpfonds gestig om vir die mees weerbare produsente uit ‘n alternatiewe bron te kan help om te oorleef.

“Saai is ook besig om ’n bellegingsinstrument vir Zimbabwiese titelaktes te skep, wat gebaseer is op die hoop vir billike vergoeding. Produsente kan hulle titelaktes aan die beleggingsinstrument verkoop of dit vir eie voordeel daarin deponeer om aan die titelaktes en gepaardgaande eise ‘n langer lewe as hulle eie lewe te gee.”

De Jager meen dié beleggingsinstrument sal verseker dat die ongereg nie ongestraf sal bly nie, selfs al sou die Zimbabwiese regering nog dekades sloer om die produsente te betaal.

Wynand Hart, ‘n voormalige Zimbabwiese produsent, sê hierdie is ’n stryd wat moet voortduur.

Tussen Hart en sy swaer het hulle ‘n 110 huisgesinne van werk voorsien. “Daardie mense se hele lewens was op ons plase. Hulle het onderrig, behuising en hulle families se blyplek vir baie generasies in die proses verloor. Voorheen het ons volle beheer oor ons toekoms gehad.”

“Selfs al moet my kinders en kleinkinders voortveg na my afsterwe, kan hierdie ongeregtigheid nie bly staan nie. Ons moet geregtigheid en eiendomsreg in Zimbabwe herstel,” sê Hart. – Susan Marais, AgriOrbit