Gerard Martin

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf vind nuwe maniere om klimaatsverandering te pak deur onder meer slim agri-hulpmiddels, droogtebestande kultivars, waterspanningsbestuur en effektiewe besproeiingsbestuur na te vors.

Read it in English. 

“Hoewel die bedryf al langer as ʼn dekade navorsing oor aspekte verwant aan klimaatsverandering doen, fokus ons nou baie sterk in navorsing op maniere waarop ons waterverbruik meer effektief kan monitor en bestuur,” sê Gerard Martin, uitvoerende bestuurder van Winetech, die wynbedryfliggaam verantwoordelik vir navorsings- en tegnologiese innovasie en oordrag.

Navorsingsprojekte tans in die pyplyn sluit in:

Databasis vir geïntegreerde klimaats-, afstandswaarnemings- en weermonitering

“Dit is onontbeerlik dat die bedryf ingeligte besluite neem oor die volhoubaarheid van ʼn spesifieke gebied vir landbou in die Wes-Kaap in die konteks van die wêreldwye klimaatsverandering, inaggenome ekonomiese druk en toekomstige beperkings op watervoorraad,” sê Gerard.

Die geïntegreerde databasisprojek bied oplossings geskoei op vorige studies oor klimaatsverandering, waterbeskikbaarheid, grond en topografiese data. Dit word met nuwe tegnieke soos afstandswaarneming en masjienleer geïntegreer om verandering in die Wes-Kaap beter te verstaan en te kwantifiseer.

“Die kwantifisering van klimaatsverandering, veral wanneer en waar in die seisoen die veranderings die prominentste is, sal vorentoe al hoe belangriker word,” sê Gerard. “Om doeltreffend by klimaatsverandering en seisoenswisseling (wat as uiterste weerstoestande manifesteer) aan te pas, moet ons ook die wingerdstok se reaksie op hierdie veranderinge bestudeer.”

Evalueer jou watervoetspoor

“Kennis oor watervoetspore stel ons in staat om gebiede vir verbetering in die produksieketting te meet en te identifiseer, spesifiek waar dit die grootste effek op ʼn vermindering in waterverbruik sal hê,” sê Gerard. Die watervoetspoor dui die hoeveelheid water aan wat gebruik word om goedere en dienste te produseer en is ʼn aanduider van volhoubaarheid.

Die hoofdoel van die projek is om verskeie datastelle in ʼn raamwerk te integreer wat die evaluasie van watervoetspore sal vereenvoudig, met ʼn spesifieke fokus op wyndruifproduksie en byprodukte.

Sodra hierdie projek afgehandel is, sal dit riglyne bied om watervoetspore op verskillende vlakke in die wynbedryf te bepaal, asook ʼn raamwerk om afstandswaarneming, georuimtelik en ander datastelle te integreer om sodoende watervoetspore op verskillende vlakke in die produksieketting te bepaal.

Wingerdstok se reaksie op waterstres

“Die bostokkultivars sowel as die onderstokvariëteite verskil in hul bestandheid teen en reaksie op beperkte waterbronne. ʼn Geënte stok se reaksie op waterspanning kan nie noodwendig voorspel word op grond van die bo- en onderstokkultivars se individuele reaksies nie,” sê Gerard.

Hierdie navorsing beoog om antwoorde te gee oor waterspanning en spesifieke besproeiingspraktyke om onaanvaarbare stresvlakke wat ʼn negatiewe effek op druifopbrengs en gehalte kan hê, te voorkom.

“Ons plaas verskillende bo- en onderstok wyndruifkombinasies onder gedefinieerde waterspanning om die molekulêre, metaboliese stres-vingerafdrukke te vergelyk. Uiteindelik sal ons in staat wees om die onderskeie plantmateriale se potensiaal om by waterspanning aan te pas, te identifiseer om wingerdboukundige praktyke te verbeter,” sê Gerard.

Besproeiing in hoëpotensiaal-opleistelsels in die kusgebied

Hierdie veldeksperiment het die potensiaal om kennis vir die bedryf in te samel oor hoe om opbrengste van wyndruifwingerde te verhoog sonder om noodwendig wyngehalte in te boet, spesifiek in die kusgebied van die Wes-Kaap.

Opleistelsels wat hoër opbrengste bied, word saam met verskillende besproeiingstrategieë getoets. Die studie sal spesifiek waterverbruik, opbrengs én gehalte van bosstokwingerde meet, sowel as wingerde wat onder drupbesproeïng en op vertikale lootplasing (VSP)-opleistelsels verbou word, teenoor wingerde wat opgelei is in stelsels wat hoë opbrengspotensiaal bied in die kusgebied.

Die ekonomiese insetvereistes vir druiweproduksie by verskillende lowerbestuur/opleistelsels en besproeiingstrategie-kombinasies word ook vergelyk.

Meting van droogtebestandheid van geselekteerde bostokkultivars

Wingerdstokke is van genoeg water afhanklik vir volhoubare opbrengste en gehalte. Volgens klimaatsveranderingsvooruitskouings kan reënval in die Wes-Kaap oor tyd afneem en droër toestande sal met ʼn styging in temperatuur gepaardgaan.

In droër streke soos die Swartland word heelwat wingerde droëland of met beperkte besproeiingswater verbou. In streke waar besproeiing moontlik is, soos die laer Olifantsrivier, lei ʼn lae winterreënval in die opvangsgebiede dikwels tot die instel van waterbeperkings.

“Die risiko van opbrengsverliese in die droëland en sekere besproeide wingerde kan verlaag word as meer droogtebestande bostokkultivars geplant word. Hierdie projek sal die droogtebestandheid van geselekteerde alternatiewe bostokkultivars bepaal, vergeleke met ander kultivars,” sê Gerard.

Ander navorsingsprojekte

Winetech het ook onlangs navorsing laat doen oor masjienleer, oftewel kunsmatige intelligensie, deur sogenaamde ‘big data’ te gebruik; die skakel tussen afstandswaarneming en wingerdprestasie; asook ʼn webgebaseerde toepassing vir fenoliese analise.

Leer en ontwikkeling

Buiten Winetech se rol in navorsing en ontwikkeling, koördineer die besigheidseenheid ook die Wynbedryf Leer- en Ontwikkelingstrategie, een van die uitkomstes van die wynbedryf se strategiese raamwerk, bekend as WISE. Die strategie se visie is om die bedryf te ontwikkel tot een wat op die vermoëns van sy mense geskoei is, in staat is om belegging op opbrengs te optimaliseer én die eerste keuse as werknemer vir nuwe toetreders tot die landbousektor sal wees.

Om hierdie doel na te streef is ʼn advieskomitee gestig, ʼn toegewyde L&O-bestuurder is aangestel en ʼn aanlyn-leerlingbestuurstelsel begin. ʼn Bevoegdheidsmatriks word tans ontwikkel, wat ʼn lys van posisies in die bedryf, basiese kernprestasie-areas, kwalifikasies en programme insluit om sodoende verder rigting vir ontwikkeling te gee. – Persverklaring

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY