SA Stamboek wys ‘beste van die beste’ aan

Estimated reading time: 18 minutes

SA Stamboek se Nasionale Elite-toekenningsgeleentheid vir 2023, is daarop gemik om erkenning aan die land se voorste telers, stoetkuddes en stoetdiere te gee, en vanjaar was weer geen uitsondering nie. Hierdie dertiende glansgeleentheid van sy soort is Maandagaand, 1 Mei, by die Monte Bello-landgoed buite Bloemfontein aangebied en is voorafgegaan deur die gesogte Vleissentraal/SA Stamboek Nasionale Elite Bulgroeiklas, wat by Bloemskou plaasgevind het. 

SA Stamboek is sinoniem met die handhawing van topstandaarde aangesien al sy dienste en produkte op goeie wetenskap gegrond is. Koos Vosloo, president van SA Stamboek, sê die instelling spog met van die beste aantekening- en genetiese verbeteringstelsels ter wêreld en hierdie geleentheid, wat enig in sy soort is, getuig jaarliks daarvan.

Plaas Media/SA Stamboek Nasionale Elite platinum bul

Hierdie eerbewys gee jaarliks erkenning aan stoetbulle wat besonder goed in ‘n groeitoets presteer het en ‘n uitsonderlike genetiese meriete vir ekonomies-belangrike eienskappe het. Erkenning word gegee aan stoetbulle wat uit ‘n moeder geteel is, wat twee of meer keer ‘n Elite goue status in die voorafgaande twee of meer jare op SA Stamboek se Logixstelsel behaal het. Deelnemende bulle moes ook tussen 1 Julie en 30 Junie in die voorafgaande jaar, ‘n plaas- of sentrale groeitoets voltooi het, steeds aktief wees en ook SP-status (studbook proper) of die hoogste status in die ras hê.

Die toetsgrootte moet meer as 15 per kontemporêre groep wees. In terme van teelwaarde-indekse moet ‘n bul se geboorte- en speendirek meer as 100 wees, terwyl die speen-maternaal ook meer as 100 moet wees. Die bulle word ook gerangskik volgens die teelwaarde-indeks vir gemiddelde daaglikse toename (GDT) en ‘n maksimum van slegs vyf bulle met vrugbaarheidsteelwaarde-indekse van meer as 90 kwalifiseer jaarliks.

Vanjaar se Elite-vleisbeesbulle is:

  • Hendrik Meyer van Rhenostervallei Beefmasters se bul, RLR 200030, kom uit die goue elite-koei, FXF090740, wat op 28 maande gekalf het, met ’n tussenkalfperiode (TKP) van 353 dae oor 12 kalwers. Haar kalwers het 100% stoetgoedkeuring. RLR 200030 se speengewig was 296kg en hy het ’n uitstekende haarkleed en skede. Hy kombineer uiters gewenste teelwaardes van kalfgemak (94), goeie voorspeense (122) en naspeense groeivermoë (131), genoeg melk (105), oogspieroppervlakte (155) en produksie (122).
  • Frikkie Kruger van Kruger Bonsmara se bul, WAT 200187, se ma, WAT 110111, het in 2023 ’n goue Elite-toekenning ontvang. Sy is 11 jaar oud en het reeds tien kalwers gehad, waarvan agt gekeur is. Uitstaande eienskappe van dié bul is sy besonderse lengte en uitstaande seleksiewaardes soos kalwingsgemak (109), kalfgroei (129), melk (103), speenkalf (132), groei (130), karkas (134) en produksie (126).
  • Nick Serfontein van Sernick Bonsmaras se bul, NFS 210154, se ma, ZVJ120092, spog met ’n TKP van 365 dae. Sy is tien jaar en ses maande oud en het reeds agt kalwers gehad. Haar gemiddelde speenindeks is 109 oor sewe kalwers. Dié bul se pa, YF150155, is ’n geregistreerde KI-bul. NFS 210154 het goeie kalwingsgemak (106), melkwaarde (113), vrugbaarheidswaarde (114), uitstekende groeiwaarde (116) en koeiwaarde (119). Hy het goeie diepte en balans, en stap gemaklik met ’n mooi houding.
  • Serfontein het nog ‘n spogbul wat in hierdie kategorie uitgeblink het. NFS 210076 kom uit ’n uitstekende koei, NFS090061, wat 13 jaar en tien maande oud is en steeds in die kudde is. Sy het reeds elf kalwers gehad en spog met ’n TKP van 387 dae. Al elf haar kalwers is gespeen en sy het ‘n gemiddelde speenindeks van 105. Dié medium-plus bul het ‘n sterk kop, mooi skof, goeie bespiering, kloue en haarkwaliteit en beskik oor uitstekende groei (114), voeromsetverhouding (VOV, 107) en koeiwaardes (108).
  • Russell en Ed Clark van die HBH Tuli-stoet se donkerrooi bul, HBH 200091, het goeie liggaamslengte en ‘n uitstekende skrotumomtrek. Die bul het tydens die plaas se groeitoets ‘n gemiddelde daaglikse toename (GDT) van 125 en ‘n oogspierwaarde van 131 op RTU-skandering behaal. Die bul spog ook met ‘n koeiwaarde van 126, ‘n kalfgroeiwaarde van 120, ‘n produksiewaarde van 128 en handhaaf ‘n vrugbaarheidswaarde van 110. Hy kom uit ‘n familie van presteerders en sy moeder, HBH 080079, is 15 jaar oud en het 12 kalwers in haar leeftyd gehad. Sy het in 2022 ‘n Elite platinum koei-toekenning ontvang.

Landbouweekblad/SA Stamboek se Elite platinum vleisbeeskoei

Slegs een koei per ras kan vir hierdie eerbewys kwalifiseer en ‘n koei moes ‘n Elite goud-toekenning as beste produserende koei (BPK) tydens die betrokke jaar ontvang het. ‘n Koei mag ook nie voorheen ‘n Elite-platinumtoekenning ontvang het nie. ‘n Koei se gemiddelde TKP mag nie langer as 400 dae wees nie en sy mag een kalf ouer as 270 dae (speenouderdom) sonder ‘n speengewig hê.

Aspekte wat beoordeel is sluit in dat ‘n koei se koeiwaarde 100 groter en gelyk aan 100 moet wees, en ‘n persentasie-retensie van haar nageslag met inagneming van geslag en stamboekstatus van elke kalf word ook in ag geneem. Haar persentasie prestasie-getoetste kalwers (met geldige geboorte- en speengewigte) word in ag geneem asook die aantal kalwers met geldige speengewigte met inagneming van die koei se ouderdom. Dae sedert die laaste kalwing op lopiedatum moet nie groter as 400 wees nie.

Vanjaar se Elite platinum vleisbeeskoeie is:

  • Dr Johan Kahts van die Wenspan Angus-stoet se koei, CBC 100656.
  • Tony Spolidoro van Spoldoro Beefmaster se koei, SPB 130095.
  • Neil Dry van Niemen Shorthorns se koei, NMS 110005.
  • Gabriel Pelissari de Rodrigues van Bella Alianza Agronegocios SA/Cabaña Bella Alianza in Paraguay se Bonsmara-koei, BBA 130084.
  • Heidi Oestlund van die Helku Family Trust se koei, HOB 130074.
  • Dirk Spaargaren van Karooveld Bonsmaras se KVB 130035.
  • Johan Scheepers van Bosiu Borane se koei Anne AVZ 100019.
  • Hans Bester en dogters van die Witbek Braunvieh-stoet se platinum-koei, Witbek Lenka.
  • Freddie Wasserfall van Chute-Deau Charolais se koei, SW 11057.
  • Die Neuman Broers van die Frelon Drakensberger-stoet se koei, F 120183.
  • Die PP Mong Trust van BM Herefords se koei, BM Rachel 10-25.
  • Henk van Rensburg van die Koperkop Hugenoot-stoet se koei, B 100669.
  • Elmien Willemse van Leeuwdoornpan Nguni-stoet se koei, EW 130025.
  • Dail van Rensburg van Rensbou Romagnola se koei, DT 120072.
  • Die Santa Gertrudis-koei, DT 120130, ook van Dail se Rensbou Santa Gertrudis.
  • Theuns Vlotman van Vlotvlei se Senepol elite-koei, VL 130026.
  • Dawie Albertyn van die Nacht Wacht Sussex-stoet se koei, NW 120032.
  • Casper Kriel van die Casman Tuli-stoet se koei, CHK 100130.

GeneSA/SA Stamboek se Elite platinum melkkoei

Hier word erkenning gegee aan die land se voorste melkkoeie deurdat objektiewe metings en gepaardgaande genetiese meriete gebruik word om die beste koeie te identifiseer. Weens die verskillende rasse het elk ras sy eie kriteria, maar in al die gevalle moes die koeie reeds ‘n vyfde laktasie of meer voltooi het en steeds lewend wees. Die kilogram vastestofproduksie per dag van lewe word uitgewerk en koeie word daarvolgens en op grond van tussenkalfperiode (TKP) in rangorde geplaas. Topkoeie se genetiese vlakke word ook in berekening gebring en vir die Ayrshire en Holstein/Friesland dien die Logix Meriete-indeks (LMI) as aanduiding van koeie se saamgestelde genetiese meriete en vir Jersey is dit Sainet.

Die nasionale Elite Platinum melkkoeie is:

  • Jan Wessels van Meesuid Ayrshires se koei JW 15 0005. Sy is in haar sesde laktasie met die vorige vier wat almal oor 10 000kg was. Haar kalfinterval is 400 dae en sy is negatief vir somatiese seltelling (SST).
  • JH Blanckenberg van Kipmabo Holsteins se koei, Klipmabo 15 0003, ’n sesde-laktasie Jacey-dogter, wat reeds meer as 107 000kg melk geproduseer het. Haar gemiddelde produksie oor haar leeftyd is 56 liter/dag en sy het ’n tussenkalfperiode (TKP) van 385 dae.
  • AJ, JA en PJ Schoonwinkel van Kluitjieskraal Jerseys se melkkoei, Kluitjieskraal 14 0199, een van die uitblinker Valentino-dogters in hierdie stoet. Sy is tans in haar sewende laktasie en het oor haar eerste ses laktasies ’n gemiddelde produksie van 10 450 liter gehandhaaf.

MPO/Dairy Mail/SA Stamboek se Nasionale Elite Genetiese Suiwelkudde van die Jaar

Genetiese meriete vir winsgewendheid is gebruik om die top melkkuddes vir elk ras te identifiseer. Eienskappe ten opsigte van vroulike vrugbaarheid, melkkoeikwaliteit, uiergesondheid, onderhoud, produktiewe kuddelewe en melkproduksie is vir dié eerbewys in ag geneem. Die wenners was:

  • Jan Wessels van Meesuid Ayrshires: Jan se stoetkoeie word vir 60 jaar al geteel om optimaal by hul omgewing aan te pas. Buiten goeie aanpasbaarheid word deurgaans vir hoë melkproduksie, vrugbaarheid, langslewendheid, sowel as gesondheidseienskappe soos lae somatiese seltellings (SST’s) geselekteer.
  • JH Neethling van Rooikoppies Holstein: Hierdie stoetkudde beskik oor van die heel beste genetika in die land. Die Neethlings teel gebalanseerde diere met die klem op eienskappe van ekonomiese waarde en gebruik hul vroulike diere se eienskappe, prestasiedata en soveel as moontlik inligting oor die beskikbare bulle om finale seleksie te maak.
  • Leon Thom van Leon Thom Jerseys: Leon se teeldoelwit was uit die staanspoor om beeste te selekteer wat baie melk met voldoende vastestowwe produseer. Daarby het hulle stelsels daargestel om die koeie met watersproeiers en groot waaiers af te koel om die kudde in staat te stel om hul produksiepotensiaal te verwesenlik.

Vleissentraal/SA Stamboek se Elite bulgroeitoetsklas

Met hierdie eerbewys word erkenning gegee aan die eienaars en telers van die bulle wat in dié klas by Bloemskou deelgeneem het. Slegs een bul per ras kan deelneem en bulle word geplaas op grond van strukturele korrektheid en funksionele doeltreffendheid, met ‘n finale plasing van die wenner op grond van genetiese meriete vir ekonomies belangrike eienskappe.

Om te kwalifiseer, moes ‘n bul ‘n plaas- of sentrale bulgroeitoets in die tydperk van 1 Julie tot 30 Junie in die voorafgaande jaar voltooi het en ‘n speenindeks groter as of gelyk aan (≥) 95, ‘n gemiddelde daaglikse gewigstoename (GDT-indeks) groter as gelyk aan (≥) 100, en ‘n voeromsetverhouding (VOV) groter as of gelyk aan (≥) 100 hê/.  Die bulle wat in ‘n plaasgroeitoets geëvalueer is, se beraamde teelwaarde-indekse vir speen en GDT moet 95 of meer gewees het.  Altesaam 20 bulle is vanjaar deur die onderskeie beestelersgenootskappe genomineer en die wenner van hierdie klas, was RC Malherbe van Roechama Angus in Hertzogville in die Vrystaat. RC en sy broer André en hul pa, Gert, bedryf ’n gemengde boerdery bestaande uit Angus, Brangus, Suffolk en Vleismerino-stoeterye op die plaas Graslaagte. Die Rooi Angus-bul, Honey Comb, beskik oor uitstekende lengte en breedte, ’n goeie toplyn en het ’n manlike kop. Hy kom uit ’n goeie stam­boom met sy maternale vader, Vansia Bertus, wat ’n voormalige nasionale kampioen was. Sy vaar, Roechama Honey Badger, het tydens die pas-afgelope nasionale kampioenskappe twee kampioene opgelewer.

Vir die volledige lys van vanjaar se deelnemers, klik hier.

Unistel/SA Stamboek se Nasionale Elite Onwikkelende Teler van die Jaar

Die toekennings gee jaarliks erkenning aan ‘n stoetteler uit voorheen benadeelde gemeenskappe wat aan die streng vereistes van volwaardige stoettelerskap voldoen. Dié eerbewys het vanjaar aan Mpho Munyai, eienaar van die Vhanyai Boran-stoetery, wat uit meer as 350 stuks beeste bestaan, gegaan. Mpho het in 2018 die korporatiewe wêreld verlaat om sy passie vir beesproduksie op ‘n voltydse grondslag na te streef en het sy merk gemaak in die beesbedryf, ondanks verskeie uitdagings.

Mpho word as ‘n verantwoordelike en uitnemendheidsgedrewe Boranteler en mentor, gereken. Hy boer op die plaas Vlakfontein naby Magaliesburg en Syferbult in Noordwes en glo dat hy verantwoordelik is vir die produksie van ‘n hoogs vrugbare, funksionele nageslag wat nie baie onderhoud verg nie. Om winsgewendheid te optimaliseer, sê hy, moet hy voortgaan om wins te meet deur die hoeveelheid beesvleis per hektaar geproduseer, eerder as om wins volgens speenkalfgewig te meet. Hy pas beide ‘n genotipiese en fenotipiese seleksiekriteria toe.

Farmer’s Weekly/SA Stamboek se Nasionale Elite Mentorteler van die Jaar

Dié toekenning is aan Hella en Streicher Coetzee van Hochfeldstreek Bonsmaras by Omantumba naby Hochfeld in die sentrale gedeelte van Namibië gemaak. Die stoet is in 1978 deur Hella se pa, Harald Metzger, gevestig. Hella se teelbeleid is om goed aangepaste, medium-raam beeste met goeie lengte, breedte, diepte en goeie groei, te teel. Sy spits haar die afgelope paar jaar toe op genetiese ontwikkeling van ‘n veelsydige Bonsmara vir die Namibiese kommersiële Bonsmara-boer, asook osprodusente wat kruisteling toepas.

Stoetboere klop ook by hulle aan vir bulle wat nie die dubbelbespieringgeen dra nie en nageslag teel wat maklik kalf, goeie bouvorm het en groeipotensiaal toon. Diere voltooi ‘n streng Fase D-veldtoets waarna hulle vir aanpasbaarheid en velddoeltreffendheid geselekteer word. Hul bulle word op veilings regoor die land aangebeid. Hella was ook betrokke by die vestiging van die gewilde 2022 Bees-indaba en beoog om dit ‘n gereelde instelling op die plaas te maak.

Standard Bank/Telwiedrè Voere/SA Stamboek se Nasionale Elite Stoet vir ander spesies

In hierdie kategorie word Elite-platinumstatus toegeken aan stoetkuddes van ander spesies soos varke, wild, honde en ander, wat by SA Stamboek aanteken. Objektiewe kriteria word toegepas op grond van kuddes/diere met die beste aantekeningpraktyke, data-integriteit en deelname aan bedryfsaktiwiteite. Die wenner in hierdie kategorie was Adré Steenkamp van Elevation Boerboels. Die ander benoeming was Riaan en Chandre Ludeke van La Boela Boerboels.

Vleissentraal/SA Stamboek se Nasionale Elite vleisbees- en kleinvee-stoetkudde

‘n Objektiewe kriteria word gebruik om die beste stoettelers vir vleisbees- en kleinvee-kuddes te identifiseer wat in aanmerking kom vir erkenning as Elite Nasionale Platinumkuddes. Die kriteria is gegrond op objektiewe evaluering van reproduksie- en produksieprestasie, die akkuraatheid van data, gereelde deelname aan aantekening (registrasie en prestasie, gemiddelde Logix-teelwaardes van diere in die kudde, deelname aan telersgenootskappe- en bedryfsaktiwiteite en die genetiese impak (bul- en ramverkope) in die ras.

Die wenner van die Nasionale Elite Vleisbeesstoetkudde vir 2023 is Frikkie Kruger van Kruger Boerdery. Hy beskou die bestuur van sy Bonsmara-stoet as ‘n holistiese wetenskap waar elke aspek van die boerdery noukeurig hanteer word. Hy het in 1982 met die stoet begin en beywer hom om aan kommersiële produsente bulle te verskaf wat goeie speenkalwers en slagosse kan teel. Koeie word jaarliks vir vrugbaarheid en doeltreffendheid geselekteer. Sy leuse was nog altyd gehalte, integriteit en tevrede kliënte. Daarom is goeie bestuur ook ’n prioriteit.

Hendrik Meyer van Rhenostervallei Beefmasters was tweede en Fourie Scheepers van Zinabos Bonsmaras, derde. Die ander benoemings in hierdie kategorie was André Breytenbach se Maluti Angus, L’Ormarins Pty Ltd se Fredericksburg Angusstoet, Wilhelmus van der Schyff van Schyff Beefmasters, Thinus Maritz van Maritz Boerdery – Bonsmara, Thabo van Zyl van Thuso Bonsmaras, JG Viljoen en Seuns van Gelibar Bonsmaras, en Gawie en Frik Roux van Rouvus Drakensberger.

Wenners in die onderskeie kudde-van-die-jaar kategorieë
Die wenners in die onderskeie kudde-van-die-jaar kategorieë is, voor van links, AJ, JA en PJ Schoonwinkel (afwesig) van Kluitjieskraal Jerseys wat die Nasionale Elite Melkbees Stoetkudde van die Jaar-toekenning ontvang het. Chanelle Steenekamp van SA Stamboek het die toekenning namens hulle ontvang. Langs haar is Frikkie Kruger van Kruger-boerdery, die wenner van die Elite Stoetkudde van die Jaar Vleisbeeste-afdeling. Agter is Adré Steenkamp van Elevation Boerboels, wenner in die Kudde van die Jaar Ander Spesies-afdeling, Driaan Fourie van die Marmari Nooitgedacht-perdestoet in die Pretoria-omgewing, Nasionale Perdekudde van die Jaar, en Louis van Rensburg, wenner van die Nasionale Elite Kleinveestoetkudde van die Jaar, wat die toekenning namens Robbie Meintjes van RS Meintjes Dorpers ontvang het.

Die wenner in die Nasionale Elite Kleinveestoetkudde was Robbie Meintjes van RS Meintjes Dorpers wat al vir meer as ses dekades met Dorpers boer en klem plaas op getoetste veldramme. Ervaring het hom geleer dat skape aanpasbaar kan wees onder enige veldomstandighede, indien goeie seleksie en teling betrokke is. Dit is vir hom belangrik om topgenetika onder Dorper-produsente te versprei. Daarom is goeie rekordhouding en die gebruik van beskikbare inligting van ’n funksionele, foutlose dier vir suksesvolle boerdery nodig. Dr Carl Scholtz en Lodie van Reenen van Nova Barletta Dormers was tweede en Christo van Deventer van Brakpoort Dorpers was derde.

Die ander benoemings in hierdie afdeling was HG Human van HG Human Dorpers, Jaco van Rensburg van Louis van Rensburg Dorper-stoet, Johannes Human van JJ Human Dorpers (Witdorper), Jan en Hennie de Villiers van Koringland Merino’s, Johann Kotzé van Korhaansrug Merino’s, Jacques Neethling van Verfheuwel Merino’s, en Cobus Uys van Patryskraal Merino’s.

Standard Bank/ Telwiedrè Voere/ SA Stamboek se Nasionale Elite Melkbees Stoetkudde van die Jaar

Ses melkprodusente is as finaliste aangewys in hierdie kategorie. Hierdie kuddes moes reeds Elite goud-status behaal het vir die huidige siklus van toekennings. Die toekenning is gegrond op vastestof-gekorrigeerde melkproduksie, reproduksiepersentasie, SST’s, kuddesamestelling, aantekeningspraktyke en die kudde se genetiese vlak.

Die wenner was AJ, JA en PJ Schoonwinkel van Kluitjieskraal Jerseys wie se sukses op drie pilare naamlik bestuur, genetika en voeding, gegrond is. ’n Volledige Delpro-bestuursprogram word gebruik, asook CowManager se oorplaatjies. Hulle gebruik slegs beproefde bulle. Klem word op produksie-eienskappe soos hoë melkproduksie, hoë vastestofkilogramme en bogemiddelde uierindekse gelê. Hulle het tans 800 koeie in produksie met ’n stalgemiddeld van 30 liter/koei/dag, ’n gemiddelde SST van 120 000 en ’n TKP van 365 dae. Die ander benoemings was Joubert Fourie van die Limpopo-melkery (Holstein), JH Neethling van Rooikoppies Holstein, Leon Thom van Leon Thom Jerseys, John en Christoff Walker van Walker en Seun (Jersey), en Miles Stead (eienaar) en Poena van Niekerk (bestuurder) van Ede Farming (SA Friesland).

Standard Bank/Telwiedrè Voere/ SA Stamboek se Nasionale Perdestoet

Die kriteria vir hierdie afdeling is die korrektheid van data, gereelde deelname aan aantekening (registrasie en produksie) en deelname aan ‘n telersgenootskap- en bedryfsaktiwiteite. Die wenner was Driaan Fourie, trotse eienaar is van die Marmari Nooitgedacht-perdestoet in die Pretoria-omgewing. Hy hierdie stoet van slegs agt perde tot bykans 40 uitstaande diere uitgebrei. Vir Driaan is ’n perd nie net ’n mooi ryding nie – dit is ’n dier wat sy kant moet bring en daarom teel hy perde met ’n goeie temperament, uitstekende konformasie, en wat goed kan beweeg en dus in enige perdesport gebruik kan word. Hulle is ook uiters geskik vir kinders en veteraanruiters.

Die ander benoemings in hierdie afdeling was Jan Engelbrecht van die Nicolandreas Percheron-perdestoet, en die Jacobsz-familie (Carl en Martie) en hul seun Jannie Jacobsz van die Calela-boerperdstoet.

RDB Consulting/SA Stamboek Nasionale Elite Unieke Presteerder van die Jaar

Hierdie eerbewys gaan vanjaar aan Sernick (Edms) Bpk waarvan Nick Serfontein die eienaar is. Die unieke wyse waarop Sernick ‘n bydrae maak tot die aantekening en gebruik van korrekte evaluasiemetodes om doeltreffende groei by vleisbeeste te meet, het vir die beoordelaars uitgestaan. Sernick is ook ‘n voorloper in terme van die meet van voerinname en hierdie fasiliteit is ook aan medetelers beskikbaar gestel, onder meer die lede van die Hoëveld Bonsmara-klub.

Die uniekheid van Sernick se bydrae lê in die feit dat selfs telers van kleiner kuddes die geleentheid gegun word om hul bulle se genetiese meriete in dieselfde toetsgroepe as ander telers se diere op die proef te stel. Sernick se geriewe en dienste lewer ‘n wesenlike bydrae om genetiese doeltreffendheid in die vleisproduksiesiklus voorop te stel.

SA Stamboek se Beste Telersgenootskap-Jaarverslagtoekenning

Die Nguni-, Drakensberger- en Boerperd-telersgenootskap is vanjaar se finaliste in hierdie kategorie wat onder meer erkenning gee aan die administrasie van genootskappe se kantoorpersoneel, die innovering van die onderskeie rade en die deeglikheid waarmee ‘n genootskap hul lede dien in belang van ‘n betrokke ras. Aspekte waarna gekyk word tydens die beoordeling is hoe inligting oorgedra word, die korrekte weergee van raads- en jaarvergaderingbesluite, die gebruik van illustratiewe maniere om boodskappe oor te dra, die gemaklike inhoudsopgawes en kruisverwysing en die algemene voorkoms het vanjaar uitgestaan.

Die wenner van vanjaar se toekenning was die Nguni-beestelersgenootskap.

SA Stamboek se presidentstoekenning

Dr Buks Olivier word beskou word as een van die land se voorste veekundiges, veral in die kleinveebedryf. Dié eerbewys het vanjaar aan hom gegaan vir sy lewenslange toewyding en diens. Buks het sy loopbaan in navorsing in 1978 by die Grootfontein-landboukollege begin, en het onder andere as verantwoordelike beampte by die Klerefontein-proefplaas gedien. Hy het sy PhD in 1989 voltooi en was een van die eerste nagraadse studente wat die metodiek van BLUP-teelwaardes in die land gevestig het. Nadat hy aan die stuur was van die navorsingsgroep by Grootfontein, het Buks hom vanaf 1990 tot 1996 by die Landbounavorsingraad (LNR) as kleinveeverbeteringsleier aangesluit. Hy was sedert 2010 tot sy aftrede in 2017 wetenskapbestuurder by Elsenburg.

Hy het al erkenning ontvang vir sy waardevolle bydrae tot dieregenetika en is deur die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Veekunde (SAVV) vereer met ‘n silwermedalje vir sy bydrae tot veeverbetering, met die klem op kleinvee. Hy het in 1997 en 2007 die wisseltrofee vir die beste wetenkaplike artikel in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Veekunde ontvang. Landbouskrywers SA het hom in 2013 vereer as Landbouwetenskaplike van die Jaar vir die sentrale gebied. Hy is ook deur die Federasie van Kleiveetelers vereer vir sy lewenslange bydrae tot kleinveeverbetering.

Must read

Dairy industry benefits from research at Outeniqua Research Farm

Estimated reading time: 2 minutes Western Cape minister of Agriculture, Dr Ivan Meyer, recently visited the Western Cape Department of Agriculture’s Outeniqua Research Farm, outside of George. The research farm is known for its...

Katoen-verwysingsprys: Week van 8 April tot 12 April 2024

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee. Hierdie is slegs ’n afgeleide prys wat bereken word op...
So ’n span gesonde kalwers op goeie groenweiding bied die beste potensiaal vir sukses.

Strategieë vir die voerkraalvoorbereiding van kalwers

Estimated reading time: 7 minutes Voerkraalvoorbereiding, beter bekend as backgrounding, verwys na ’n fase in die beesvleisproduksieproses waar jong beeste, tipies pas-gespeende kalwers, in ’n voerprogram geplaas word wat daarop gemik is om hulle...

Ekonomiese oorsig vir Maart: Landboumarkte wissel

Estimated reading time: 3 minutes Die rand het ‘n goeie maand ervaar tydens Maart en het deurlopend teenoor die dollar versterk en ‘n redelike stabiele maand teenoor die euro ervaar. Die rand het die...
grootveeproduksiestelsels

Veediefstal: Omgewingskriminologie en misdaadanalise

Estimated reading time: 5 minutes Veediefstal is ‘n misdaad wat ouer as die berge is. Boba omskryf misdaadontleding as “die sistematiese studie van misdaad- en wanordeprobleme, asook ander polisieverwante kwessies – insluitend sosiodemografiese, ruimtelike...