SA se vernaamste handelsvennote onder die vergrootglas geplaas

Estimated reading time: 3 minutes

Suid-Afrika is ‘n netto uitvoerder van landbouprodukte en het volgens die 2022-handelsyfers in totaal US$12,8 miljard se landbouprodukte oor die hele wêreld uitgevoer. Hierdie uitvoer is moontlik gemaak deur handelsooreenkomste wat oor baie jare gevestig is. So het Daneel Rossouw, Nedbank se funksionele hoof van landbou, op die jaarvergadering van die Wes-Kaapse Rooivleisprodusente-organisasie op Delsma Plaas, Riebeek-Kasteel, gesê.

Een van Suid-Afrika se belangrikste handelsooreenkomste met Amerika, die AGOA-ooreenkoms (African Growth and Opportunity Act), word tans bedreig deur diplomatieke konflik tussen die twee lande nadat Amerika Suid-Afrika daarvan beskuldig het dat hy militêre toerusting aan Rusland gelewer het. Rossouw het gesê in die lig van hierdie gebeure wat vrae oor politieke en handelsverhoudinge tussen Suid-Afrika en Amerika laat ontstaan het, is dit interessant om te kyk wie ons vernaamste handelsvennote is en veral hoe handel met Amerika en Rusland vergelyk.

Afrika as ‘n vasteland is verreweg ons grootste handelsvennoot. Ongeveer 37% van ons landbouprodukte se waarde word na Afrika uitgevoer. Die tweede grootste handelsvennoot is die Europese Unie en Groot Brittanje.

Lees meer oor die protokol rakende die uitvoer van lewende hawe hier.

Uitvoer na Amerika en Rusland

Suid-Afrika se uitvoer na Amerika maak ongeveer 9% van sy totale uitvoere uit. Dit is aansienlik, veral as in ag geneem word dat daar baie hoëwaarde-produkte na Amerika uitgevoer word, het Rossouw gesê. Wat die uitvoer van landbouprodukte betref, word ongeveer 4% van Suid-Afrika se totale landbou-uitvoer in waarde na Amerika uitgevoer. Die landbouprodukte wat onder die AGOA-ooreenkoms val, maak ongeveer 64% tot 66% van dié 4% uit en het ‘n waarde van ongeveer $428 miljoen. “Dit is die waarde van die AGOA-ooreenkoms vir landbou in Suid-Afrika.”

Uitvoere na Rusland maak ongeveer 4% van Suid-Afrika se totale uitvoer uit. Landbou-uitvoere na Rusland was net 0,2% van die totale uitvoer na Rusland en die waarde van landbou-uitvoere na Rusland was die afgelope vyf jaar gemiddeld 2% van ons totale uitvoere. Rusland is dus nie een van ons grootste handelsvennote nie, het Rossouw gesê.

Lees meer oor Rusland se effek op die Oekreine se landboubedryf hier.

SA wolbedryf steun op China

China is as land een van ons grootste handelsvennote. Uitvoere na China maak sowat 10% van Suid-Afrika se totale uitvoere uit. Dié mark is veral belangrik vir die Suid-Afrikaanse wolbedryf, omdat 70% van Suid-Afrika se wol na China uitgevoer word. Hoewel die uitbreking van bek-en-klouseer veroorsaak het dat woluitvoere na China in 2022 altesame 21% minder was as in 2021, het die waarde van woluitvoere na China steeds $337 miljoen in 2022 beloop. Dit is ongeveer 3% van ons totale landbou-uitvoere, het Rossouw gesê.

Beesvleis het groot potensiaal

Hy het ook gesê die uitvoer van beesvleis verteenwoordig net 1 % van Suid-Afrika se totale landbou-uitvoere. In 2022 was die waarde ongeveer $151 miljoen, sowat ‘n derde van die waarde van woluitvoere. “As daar egter gekyk word na die moontlikheid van toekomstige beesvleisproduksie in Suid-Afrika, is daar ‘n ongelooflike potensiaal om die uitvoer van beesvleis in die volgende paar jaar te laat groei,” het Rossouw gesê. – Hugo Lochner, AgriOrbit

RSG Landbou: 2 Oktober 2023 – geborg deur Plaas Media

Goeie nuus vir landbou en inwoners wat afhanklik is van water uit die Kougadam...

Plaas TV: Klimaatslim boerdery, AFMA Forum, Agbiz Graan- en Oliesade-simposium en Kubota-trekkers

Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is...

Strategies for managing seasonal infertility in pigs

Estimated reading time: 7 minutes The phenomenon of seasonal infertility among pigs is real,...

Avoid unilateral changes to the employment contract

Estimated reading time: 4 minutes The employment contract can be of immense value to...