Estimated reading time: 5 minutes

Met ’n bydrae van R2 miljard en sowat 30 000 werksgeleenthede tot ons ekonomie, is rosynproduksie in Suid-Afrika (SA) ’n klein maar tog ontwikkelende bedryf. As die wêreld se vyfde grootste produsent naas Turkye, produseer SA tans 6% van die wêreld se rosyne, maar produksie het sedert die 2006/2007-seisoen verdubbel met besondere sterk groei oor die afgelope vyf jaar.

Daar is bykans 1 100 rosynprodusente en sewe hoofrosynverwerkers en -verpakkers in SA se rosynbedryf. Produksie geskied hoofsaaklik in die Oranjeriviergebied in die Noord-Kaap en sorg vir minstens 90% van die gesamentlike jaarlikse produksie, terwyl die Olifantsriviergebied in die Wes-Kaap vir die oorblywende 10% sorg. Die Noord-Kaap is prominent – waterbesproeiing uit die Oranjerivier is heeljaar beskikbaar en die warm, droë klimaat is taamlik stabiel. Die omgewing is dus ideaal vir druiwe en sondroging, wat die mees algemene metode in SA is om druiwe te droog omdat dit vinniger en goedkoper is.

Produksie beur voort, maar verwerking en logistiek kort aandag

Rosyne SA se aangepaste beraming vir die 2021/2022-seisoen is 65 000 ton bemarkbare rosyne, maar jaarlikse opbrengste sal na verwagting teen 2025 tot 100 000 ton groei, te danke aan nuwe aanplantings en die stelselmatige vervanging van wingerde sedert 2014. Terselfdertyd het die Noord-Kaapse provinsiale regering, in samewerking met Rosyne SA, ’n 200-hektaarontwikkeling in Eksteenskuil van stapel gestuur om die groei van kleinskaalboere te bevorder. Dit het daartoe gelei dat volumes van 800 ton tot meer as 2 000 ton per jaar gegroei het, terwyl produsente se jaarlikse inkomste sedert die 2013/2014-groeiseisoen van R15 miljoen tot R45 miljoen toegeneem het.

Die hoofverwerkers en -verpakkers het egter tans ’n jaarlikse kapasiteit van tussen 90 000 en 100 000 ton. Belegging in die uitbreiding van verwerkingskapasiteit en doeltreffendheid is dus van kritiese belang vir die plaaslike rosynbedryf. Gegewe die voortdurende produksiegroei en die feit dat sommige verwerkers reeds byna volle kapasiteit bereik het, is die uitbreiding van bestaande verwerkingsgeriewe of die ontwikkeling van nuwe geriewe ’n dringende saak om rosynproduksie te laat groei.

Verder is daar groeiende kommer oor die beduidende impak wat SA se verswakte logistieke infrastruktuur op uitvoere kan hê. Volgens die Wêreldbank en IHS Markit se Comparative Assessment of Container Port Performance is SA se hawens soos Kaapstad, Gqeberha, Durban en Coega onderaan die lys van 351 hawens in verskeie lande. Ons hawens funksioneer teen sowat 30% van internasionale standaarde. Dit beteken ons hawens verrig slegs ’n derde van die moontlike verwerkingskapasiteit met betrekking tot die op- en aflaai van skeepshouers.    

Uitvoermarkte groei steeds, ondanks voortslepende uitdagings wêreldwyd

Byna 90% van SA se rosynbedryf se produksie word uitgevoer na hoofmarkte soos Europa, Amerika, Kanada, die Verenigde Koninkryk (VK) en die res van Afrika. Duitsland is SA se grootste uitvoermark vanweë hul streng maatreëls op die maksimumsurpluslimiete, en SA se songedroogte rosyne bevat minder surplusvoorraad.

Oor die afgelope twee seisoene het die neiging tot gesonder lekkernye ’n toename van 25% in uitvoere na die VK tot gevolg gehad. Hoewel uitvoere na Amerika en Kanada effens gedaal het, geniet SA se rosynuitvoere belastingvrye toegang tot Amerika volgens die wet op groei en geleenthede (African Growth and Opportunity Act), wat tot kompeterende pryse lei.

Nóg ’n voordeel vir SA produsente is dat hul algaande deur SA-GAP, ’n vertakking van die GlobalGAP-sertifisering, geakkrediteer word. Dié sertifisering verg produksie van hoë gehalte, naspeurbaarheid, chemiese beheer en konsekwente verskaffing, en plaas die land in ’n goeie posisie in die internasionale mark.

SA produsentpryse word geraak deur faktore soos vraag en aanbod en die buitelandse wisselkoers. Produksie word hoofsaaklik aan verwerkers uitgekontrakteer, en albei partye beding vóór elke seisoen die prys en verskaffingskontrakte. Met dié oorkeenkoms in plek word die voorraad teen die einde van elke seisoen as verkoop beskou. Dit beteken dat daar teen die einde van elke bemarkingsjaar minimale of geen surplusvoorraad is nie, wat produsente in ’n goeie posisie laat.

Wanneer wêreldhandel egter geraak word – soos in onlangse jare – kan die land moontlik surplusvoorraad na die volgende bemarkingsjaar oordra, wat verlede jaar die geval was. Die Covid-19-pandemie het wêreldhandel ’n knou gegee. Daar was ’n tekort aan aarbeid, skeepsvertragings en te min skeepshouers wat aan voedselgraadstandaarde voldoen, en ongelukkig blyk hierdie ’n blywende kwessie te wees weens die krisis tussen Rusland en Oekraïne.

Lees meer oor die wyndruiwe-oes hier.

Sal SA se rosynbedryf deur die krisis in Oekraïne geraak word?

Rusland voer jaarliks sowat 20 000 ton rosyne in – ongeveer 1,6% van die gesamentlike rosynproduksie wêreldwyd – dus sal die handelsbedreiging na verwagting beperk wees aangesien Rusland minder as 0,2% van SA se gesamentlike rosynuitvoere verteenwoordig. Die indirekte impak sal waarskynlik groter wees weens die stygende koste van brandstof en kunsmis. Onsekerheid in die markte kan ook tot ’n sterker Amerikaanse dollar lei, wat tot korttermynvoordeel van die bedryf sal wees omdat rosyne in dieselfde geldeenheid verhandel word. Dit sal egter oor die mediumtermyn teen hoër inflasiedruk verreken word aangesien baie insette ingevoer word.

Wanneer die gunstige omstandighede wat SA vir dié gewas bied opgeweeg word teen die feit dat stygende insetkoste en wêreldwye ontwrigting van verskaffingskettings waarskynlik tydelik sal wees, glo ons dat die plaaslike rosynbedryf die potensiaal het om aansienlik te groei. Die bedryf kan ook sy posisie as die grootste rosynprodusent in die Suidelike Halfrond versterk tot een van die top drie ter wêreld.

Dis egter van kritiese belang om kwessies wat verbetering verg, aan te spreek, en om betrokke te raak by rolspelers in logistiek en infrastruktuur, asook die regering, om oplossings te vind. Nedbank spits hom voortdurend daarop toe om die algehele landboubedryf regdeur die proses te ondersteun en by te staan – veral met finansiering van die kapasiteitsgroei wat nodig is om die sektor ’n hupstoot te gee. – Pieter Botha, Nedbank