Estimated reading time: 6 minutes
Die pekanneutbedryf in Suid-Afrika neem met rasse skrede toe. Suid-Afrika is tans die derde grootste produsent in die wêreld met die Verenigde State (VSA) en Meksiko die grootste produsente in die internasionale pekanbedryf. Pekanneute van Suid-Afrikaanse gehalte is hoog in aanvraag op die internasionale mark.
Gedurende die 2022/23-seisoen is sowat 155 000t pekanneute geproduseer (gebaseer op die kerne – met ander woorde die gedeelte van die neut wat primêr gebruik kan word, wat sowat 50% tot 60% van die totale neut is). Ongeveer 88% van daardie produksie het uit die VSA en Meksiko gekom, terwyl Suid-Afrika se bydrae sowat 10% was. Die oorblywende 2% is deur China en Brasilië geproduseer.
Verbruik neem toe
Volgens internasionale syfers neem die verbruik van pekanneute toe. In 2021 was die verbruik sowat 76 000t in die VSA, 22 000t in China, 13 000t in Meksiko en 20 000t in Europa.
Valdor Dudley, algemene bestuurder: GWK Pecans, sê China is een van die belowende markte vir pekanneute. Na verwagting gaan die verbruik in China toeneem tot sowat 25 000t (kernwaarde) of 50 000t neut-in-dop. Die meeste van Meksiko se pekanneute word na die VSA uitgevoer en ’n gedeelte gaan ook na China as neut-in-dop. Die VSA voer ook neut-in-dop na China en reeds gekraakte produkte na Europa uit. Die VSA verbruik dus die grootste gedeelte van hul eie produk en goeie produkontwikkeling is al in die VSA gedoen.
Vind meer uit oor volhoubare neuteversekering hier.
Pekanneutbedryf in Suid-Afrika
In Suid-Afrika wen die pekanneutbedryf vinnig veld. Geografiese areas wat baie geskik is vir die aanplantings sluit die Vaalharts-omgewing, Benede-Oranje, en gebiede in die Noord-Kaap soos Hopetown, Vanderkloof en Douglas in. Verder is daar aanplantings in die Oos-Kaap (Cradock en Grahamstad), KwaZulu-Natal (meestal in die Muden/Greytown omgewing), Noordwes, dele van die Vrystaat en noord van Pretoria.
Volgens Valdor se skatting is bome al op sowat 40 000ha geplant waarvan 50% volwasse bome is. Volwasse bome is sowat tien jaar en ouer. Hy sê die Vaalharts-omgewing lewer ongeveer 57% van die land se totale produksie. Suid-Afrikaanse produksie het sedert 2015 gestyg van 14 500t neut-in-dop (sowat 7 200t kern) tot ’n geskatte 28 000 ton (14 500t kern) vir die 2024-seisoen. Daarvan word ongeveer 92% uitgevoer – die meeste na China. China neem tans net neut-in-dop, aangesien hulle die produk verwerk en kraak vir hul verbruikersmark.
Gehalte van Suid-Afrikaanse pekanneute
Suid-Afrika is bekend vir pekanneute van goeie gehalte en die Chinese mark heg groot waarde aan die Suid-Afrikaanse produk. Tans is die Wichita-kultivar die grootste in aanvraag in China en sowat 70% tot 80% van die totale Suid-Afrikaanse produksie bestaan uit dié kultivar.
China het ’n potensiële vraag van ongeveer 50 000t (neut-in-dop) waarvan Suid-Afrika na verwagting 50% tot 60% kan lewer. Dit beteken 95% van Suid-Afrika se produk sal na China gaan.
“Om aan een mark te lewer, is ’n groot risiko en dit is belangrik om die risiko te versprei. Daar het intussen ook ’n kraakmark in Suid-Afrika ontwikkel wat hoofsaaklik die Europese mark bedien wat die laaste vier jaar onder druk was weens ekonomiese groei. Die VSA is tans die grootste bediener van die Europese mark,” sê Valdor.
Die Chinese mark is die grootste neut-in-dop-mark (neute word in China gekraak en verwerk), terwyl lande in Europa en die Midde-Ooste slegs gekraakte neute koop.
Die pad vorentoe lyk positief
Die toekoms van die pekanneutbedryf lyk positief. Valdor noem ’n paar punte wat aandui dat die mark gesond is:
- Indiese mark: Daar is positiewe aanduidings dat die Indiese mark meer toeganklik gaan word, veral as die bevolkingsgroei en die groei van die middelklas in ag geneem word. Die groei in besteebare inkomste is belangrik, aangesien pekanneute as ’n meer “luukse neut” gesien word. Indië se eetgewoontes is op die gebruik van neute gefokus. Die Indiese mark gaan wel verkies om die produk in kern-vorm te koop en nie neut-in-dop soos in die geval van China nie. Dit sal die Suid-Afrikaanse mark verplig om genoeg kraakkapasiteit te bekom, wat ’n groot kapitaaluitleg vir die verwerkers is.
- Goeie pryse: Die Suid-Afrikaanse produk het goeie waarde in die buitelandse mark en in baie gevalle is kopers bereid om ’n premie daarvoor te betaal. Met die toename in Suid-Afrika se produksie moet Suid-Afrikaanse produsente aanvaar dat die pryse ’n plato gaan bereik as die vraag nie in dieselfde verhouding toeneem nie. Die kompetisie met ander neute soos makadamias, okkerneute, amandels en kasjoeneute is ook ’n belangrike faktor.
- Ewewig tussen vraag en aanbod: Suid-Afrika se insetkoste, sowel as natuurlike hulpbronne en klimaat, is in ons guns, terwyl inset- en produksiekoste in die VSA in verhouding meer toeneem as die prys van die produk. Amerikaanse pekanneutboere is dus in ’n swakker posisie en sou internasionale pryse van pekanneute daal, sal baie Amerikaanse produsente alternatiewe opsies moet volg en selfs van hul bome moet verwyder. Dit is belangrik om die ewewig tussen vraag en aanbod, die posisie van substituutprodukte en die verbruiker se posisie deeglik te verstaan.
- Onderhou hulpbronne: Dit is belangrik dat Suid-Afrika spesifiek aan natuurlike hulpbronne soos water en grond moet aandag gee. Skoon water en verantwoordelike hantering van grond sal verseker dat Suid-Afrikaanse produsente op ’n volhoubare grondslag pekanneute van goeie gehalte sal kan lewer.
- Kostebestuur en markontwikkeling: Markontwikkeling en verbruikersgedrag/markanalise gaan groter rolle begin speel. Gelukkig is baie van die werk reeds deur makadamia- en ander neutprodusente gedoen. Kostebestuur moet deurlopend en effektief toegepas word om te verseker dat die bedryf volhoubaar bly.
Raad aan voornemende pekanneut-produsente:
Valdor gee die volgende wenke aan produsente wat beoog om die mark te betree:
- Doen deeglike finansiële beplanning indien jy van plan is om tot die bedryf toe te tree. Dit neem ongeveer sewe jaar vir die boom om in produksie te kom en nog drie jaar voordat dit optimaal kan wees.
- Daar is aan en af jare by pekanneute. Neem dit in ag by die beplanning en kontantvloei van jou besigheid. Wees konserwatief in die vooruitskatting.
- Die dollarprys van pekanneute gaan wissel soos die mark beweeg, dit gaan nie altyd opwaarts beweeg in lyn met jou inflasie op die plaas nie. Neem dit in ag by jou beplanning. Die rand/dollar-wisselkoers is ’n belangrike veranderlike en drywer. Neem ingeligte besluite daaroor en raadpleeg die kenners.
- Jy moet genoeg toegang tot water hê, ’n pekanneutboom wil genoeg water en voedingstowwe kry. Moenie koste daarop probeer sny nie, dit haal jou op die langer termyn in.
- Wees ingelig oor die pekanneutmark en verstaan die veranderlikes en drywers in die mark. Daar is genoeg inligting beskikbaar.
- Kies ’n betroubare verwerker wat jou neute verwerk en maak seker dat jy hul prosesse verstaan en dat dit vir jou sin maak. As jy onseker is, besoek die verwerker en ervaar die proses.
- Gesels met produsente wat reeds ’n langer pad in die bedryf gestap het.
- Dit is ’n gesonde omgewing met goeie potensiaal waar Suid-Afrika heelwat mededingende voordele het.
- Dit is wel belangrik dat die bedryf sy risiko moet verbreed, aangesien daar tans ’n groot fokus op die Chinese mark is. Dit moet verander.
Vir meer inligting, skakel Valdor Dudley by 083 488 8990 of epos valdord@gwk.co.za. – Deur Koos du Pisanie (Plaas Media) en Valdor Dudley (GWK)