SA owerhede bekommerd oor terugkeer van uitgeroeide siekte

Estimated reading time: 3 minutes

Hoewel Suid-Afrika sedert die vroeë 1950’s geen uitbreking van Ooskuskoors of Januarie-siekte gehad het nie, is die owerhede bekommerd dat dié siektes weer na die land kan terugkeer.

Die Suid-Afrikaanse Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het hierdie waarskuwing uitgereik nadat owerhede ’n Theileriose-uitbreking teen die einde van Januarie in Zimbabwe bevestig het. Theileriose is ‘n groep bosluisgedraagde siektes wat veroorsaak word deur protosoïese parasiete van die Theileria-genus.

Beide Ooskuskoors en Januarie-siekte word veroorsaak deur beesaangepaste variante van die Theileria parva-parasiet, wat deur bruinoorbosluise (Rhipicephalus appendiculatus) versprei word. Alle vorme van Theileria parva is beheerde siektes in Suid-Afrika en daarom moet enige teken van ’n uitbreking by die staatsveearts aangemeld word.

Lees meer oor die aangemelde siektes die tydens lente van 2023 hier.

Dr Danie Odendaal, eienaar van V-Net, sê Ooskuskoors, soos dit onder Suid-Afrikaanse produsente bekendstaan, is in 1955 reeds plaaslik uitgeroei nadat dit 50 jaar vantevore na die land versprei het. “Dit is ook in Zimbabwe uitgeroei, maar dit het in ’n ander vorm na die land teruggekeer. Dit staan nou as Januarie-siekte bekend.”

Dr Odendaal sê Zimbabwiese owerhede het nie meer die vermoë om siektes so doeltreffend as in die verlede te bestuur nie. Hy vermoed dít is die rede waarom Suid-Afrikaanse owerhede bekommerd is oor die verspreiding van die parasiet.

Die enigste Theileria-siekte wat tans in Suid-Afrika voorkom is korridorsiekte, wat in die Hluhluwe-Imfolozi-wildreservaat gevind kan word. “Daar word dié dodelike siekte van buffels na beeste versprei.”

Die departement sê Suid-Afrika voer al jare lank geen lewendige beeste van Zimbabwe af in nie. Die vereiste vir die invoer van enige ander hoë-risiko kommoditeite, soos velle en hooi, is dat dit bosluisvry moet wees. Owerhede het egter nie beheer oor besmette bosluise wat onder andere deur mense of voertuie oor die grens gedra word of deur onwettige vee-invoere versprei word nie.

Vanweë die lewensiklus van bruinoorbosluise is die risiko vir siekte-oordrag die grootste tydens maande met ‘n hoë somerreënval. Die tydperk tussen Desember en Mei is dus ’n tydperk van hoë risiko in Suid-Afrika.

Geen medikasie beskikbaar

Hoewel daar medikasie vir Theileria is, is dit nie in Suid-Afrika beskikbaar nie. “Die rede hiervoor is dat die staat ’n siekte-uitroeiingsroete volg,” sê Dr Odendaal. “Hulle wil nie hê dat produsente siek diere moet behandel en ons dan met diere sit wat ’n draerstatus het nie.”

As ’n dier een keer Theileria gehad het en herstel, bly die parasiet lewenslank in die dier se bloedstroom. Siekteverspreiding bly dus ’n risiko omdat daar moontlik weer ’n bruinoorbosluis op die dier kan voed en die parasiet dan weer na ander beeste versprei kan word. – Susan Marais, Plaas Media