Die bekroonde Suid-Afrikaanse (SA) Kaasfees keer ná twee jaar terug. Kaas- en wynliefhebbers kan uitsien na ’n splinternuwe ervaring – ’n maandlange ontdekkingsreis van kaas en meer! ’n Reeks van vier SA Kaasfees Opwip-pieknieks vind oor vier naweke in April 2022 by vier gewilde bestemmings plaas.

Kom ervaar hoe hierdie gewilde fees in ’n ware ontdekkingstog ontbondel – met ’n wenresep van gehalte. ’n Verskeidenheid van uitstallers sal by elke SA Kaasfees Opwip-piekniek alles bied vir ’n uithalerpiekniek, van piekniekmandjies tot plaaslike, internasionale en boetiekkase; uitgesoekte wyn, bier en gin; asook besonderse plaaslike produkte. Besoekers kan ook uitsien na gratis vermaakprogramme met top SA kunstenaars, interaktiewe proe-ervarings met bekende sjefs en opwindende aktiwiteite.

Die SA Kaasfees Opwip-pieknieks skop op 2 en 3 April 2022 af by Warwick-wynlandgoed buite Stellenbosch. Hierna kronkel die pad na Benguela Cove Lagoon-wynlandgoed buite Hermanus op 9 en 10 April 2022. Ná Paasnaweek is dit tyd vir die Weskus-roete tot by Groote Post buite Darling op 23 en 24 April 2022. Om April af te sluit en die nuwe maand van Mei in te lui, wag ’n herontdekking van Sandringham buite Stellenbosch op 30 April en 1 Mei 2022.

Kaartjies kos R350 per persoon per dag met besoekerstye van 10:00 tot 18:00. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets (bit.ly/sacheesefest-popuppicnics) asook in Pick n Pay-winkels. Geen kaartjies sal by die hekke verkoop word nie. Slegs ’n beperkte hoeveelheid kaartjies is by elke bestemming beskikbaar, en streng Covid-19-protokolle sal geld. – Persverklaring, Agri-Expo