Monday, August 15, 2022

SA die tuiste van toonaangewende kongres oor Chenin Blanc

Estimated reading time: 4 minutes

’n Toonaangewende, multi-dissiplinêre kongres oor Chenin Blanc, wat as ’n sleutel tot die toekoms van wynbou beskou word, word in November in Stellenbosch gehou. Dit sal na verwagting deur kenners van oral oor bygewoon sal word. Chenin, een van die mees hittebestande en veelsydige kultivars ter wêreld, is ook Suid-Afrika se toonaangewende witwyn-druifsoort. Hoewel dit sy oorsprong in die Loire gehad het, het Suid-Afrika meer aanplantings van Chenin as die res van die wêreld saam. 

Die Franse stad Angers, wat die dryfkrag was agter die reëling van die eerste internasionale Chenin-konferensie wat in 2019 daar gehou is, het toestemming verleen vir die hou van die opvolg-konferensie op Stellenbosch.   

Lees meer oor die jongwyne van 2022 hier.

Die rol van Chenin Blanc onder die vergrootglas

Vanjaar se konferensie, wat die klem sal laat val op die rol van hierdie druifsoort in ’n snel-veranderende omgewing, sal na verwagting bygewoon word deur wyn-akademici, klimatoloë, deskundiges op die gebied van regeneratiewe wynbou, wynmakers, landbou-ekonome, tendens-analiste en bemarkers van oor die wêreld heen. Die toestemming daarvoor is die gevolg van uitgebreide medewerking tussen wyn- en akademiese instellings in Frankryk en Suid-Afrika. 

Die konferensie word aangebied deur die Académie du Chenin en Destination Angers, tesame met die Suid-Afrikaanse Chenin Blanc-vereniging en Stellenbosch Universiteit. Verskeie ander wynorganisasies is ook betrokke as vennote, terwyl steun ook verkry word van Toerisme Suid-Afrika

Die titel van die konferensie is Chenin: Revealer of Place en dit vind van 1 tot 3 November in ’n hibridiese formaat met kaartjies vir digitale of persoonlike teenwoordigheid plaas. Dit word gehou by die Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Studie en bied ’n wye verskeidenheid akademiese aanbiedinge, en ander van meer algemene belang asook besoeke aan wingerde. Afgevaardigdes sal kan kies van ’n verskeidenheid opsies. 

Die konferensie sal die klem laat val op volhoubaarheid en innovering. Sprekers en werksessies sal veral fokus op drie sleutelareas: die volle genoomsekwensie van die Chenin Blanc-druifsoort om ’n wetenskaplike grondslag vir intravariëteitsverskille binne die kloonverskeidenheid te vind; wingerdbou en wynmaak teen die agtergrond van klimaatsverandering; en hoe om aan te pas by verbruikersvoorkeure en leefstyltendense in ’n verskeidenheid van kulture. 

Onder die hoof-aanbieders tel dr Jamie Goode, ’n wyd gepubliseerde en bekroonde wynskrywer van die Verenigde Koninkryk wat sy doktorsgraad in plantbiologie behaal het, en Rosa Kruger, een van Suid-Afrika se voorste wingerdboukundiges en ’n wydbekende voorsitter van die Old Vine Project. Hulle sal onder meer die jongste ontwikkelinge op die gebied van regeneratiewe wingerdbou bespreek. 

’n Ander groot trekpleister is die Franse neuro-wetenskaplike, dr Gabriel Lepousez, ’n internasionale deskundige op die gebied van sintuiglike waarneming en breinplastisiteit. Hy is as navorser aan die Pasteur Instituut verbonde en spesialiseer in die breinnetwerk wat by sensoriese persepsie, geheue en emosies betrokke is. Hy bied ook neuro-sensoriese opleiding aan mense betrokke by die wynbedryf, vir hulle om te verstaan hoe die brein tydens die proe van wyn reageer.

Lees meer oor die Suid-Afrikaanse wynbedryf hier.

Heelwat SA akademici sal lesings aanbied

Ken Forrester, voorsitter en medestigter van die Chenin Blanc-vereniging, het gesê: “Dit is ’n besondere prestasie vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf om ’n konferensie van hierdie kaliber aan te bied. Dit is terselfdertyd ’n erkenning van die kernrol wat hierdie land daarin gespeel het, om die wêreldwye reputasie en bewussyn van Chenin te verhoog.

“Dit bied ook ’n uitnemende geleentheid aan lede van ons eie wyn- en onthaalbedrywe om gedagtes uit te ruil met internasionale deskundiges op hul onderskeie gebiede.” 

Tot 50 afgevaardigdes word van slegs Frankryk verwag. Benewens van verskeie lande in Wes- en Oos-Europa, word aanbieders en gaste ook van Australië en Amerika verwag. 

Forrester het bevestig dat ’n bygewerkte weergawe van Suid-Afrika se Chenin Blanc-aromawiel ook in onder meer Zulu-, Xhosa- en Shona-weergawes by die konferensie bekendgestel sal word. 

“Elke aspek van hierdie konferensie sal daarop gemik wees om Chenin Blanc se relevansie en toeganklikheid in die veranderende wêreld van wyn te beklemtoon.”

Alle aanbiedinge sal in Engels sowel as Frans beskikbaar wees. Die Suid-Afrikaanse wynorganisasie, Winetech, wat betrokke is by navorsing, kennisoordrag en ontwikkeling, sal al die lesings wat by die konferensie gelewer is, publiseer. – Persverklaring, SA Chenin Blanc-vereniging

Versorging van ooie en lammers tydens lamtyd

Estimated reading time: 4 minutes Sorgsame bestuur van pasgebore lammers en hul moeders is...

Caring for ewes and lambs during lambing

Estimated reading time: 4 minutes A strong lamb crop is highly dependent on meticulous...

Streng seleksie sorg vir klipharde Bonsmaras

Estimated reading time: 6 minutes Sowat 100km vanaf Johannesburg, aan die voet van die...

RSG Landbou: 4 Augustus 2022 – geborg deur Hygrotech

Talle plaaseienaars maak dikwels van ‘n maatskappy gebruik om tydelike of seisoenale werkers in...