RPO Noord-Kaap bied suksesvolle roetevergaderings aan

Estimated reading time: 5 minutes

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Noord-Kaap het ‘n paar jaar gelede begin om jaarliks ‘n roetevergadering aan te bied en verskeie gebiede in die provinsie te besoek. Dié geleentheid word gekenmerk deur sprekers wat ‘n nuwe perspektief op bestaande sake bied. Vanjaar het die organisasie Carnarvon, Calvinia en Kenhardt besoek.

Die tema was mededingendheid en volhoubaarheid met ‘n blik op die toekoms van boerdery en die land. Bekendes soos omgewingkenner, Dave Pepler, die konstitusionele juris, prof Koos Malan, onafhanklike landbouweerkundige, Johan van den Berg, en die RPO Nasionaal se Corine Steyn, het met die boere gesels.

Vleisproduksie en die toekoms

Omgewingskenner, Dave Pepler, het gesels oor die toekoms van vleisproduksie en die bewaring van die landbou-ekologie in Suid-Afrika. Volgens hom sal daar altyd ‘n mark wees vir vleis. Suid-Afrikaners eet gemiddeld 43kg vleis per jaar en in die middelklas en hoër-inkomstegroepe is dit meer. Volgens hom word die toekoms van vleisproduksie nie bedreig deur die vraag na vleis nie, maar eerder deur die ongeërgde houding van mense teenoor die natuur.

Daar word baie gepraat van aardverwarming, maar min word gedoen om dit teen te werk. Hy meen landbouers het ‘n enorme taak om die stukke grond wat onder hul beheer is, na die beste van hul vermoë te probeer herstel.

“Elke plaas het sy eie dinamika en daarom is daar nie ‘n klinkklare antwoord nie. Gebruik jou logika en die wetenskap om die grond onder jou beheer te ontwikkel en herstel. Elke bossie en elke vierkante meter het sy eie mikro-ekosisteem en dit is hierdie ekosisteem wat die aarde weer herstel.”

Hy het veral klem gelê op herlewingsboerdery en gesê elke boer moet konserwatief wees ten opsigte van die drakrag van sy plaas.

Lees meer oor die RPO se streeksvergaderings in die Oos-Kaap.

Verwagte weerpatrone

Die onafhanklike weerkundige, Johan van den Berg, is ‘n bekende in landboukringe en het met boere gesels oor verwagte weerpatrone vir die volgende jaar of drie. Sy boodskap was nie so positief soos laasjaar nie.

“Die La Niña-tendens is besig om op te breek en is nou in die sentrale fase. Volgens my berekeninge lyk dit of die Noord-Kaap hierdie seisoen nog ‘n 50/50-kans het op normale reën, maar in die volgende reënseisoen, vanaf November 2023, verwag ek dat die reën sal afneem en ons moenie verbaas wees as ons weer ‘n droogtetyd ingaan nie,” het hy gewaarsku.

Sorg self vir jou besigheid

Prof Koos Malan, ‘n man wat vir jare Publiekreg doseer het aan die Universiteit van Pretoria, en ook ‘n kenner in die konstitusionele reg is, het hartsnare aangeraak toe hy gesels oor die regeerbaarheid van Suid-Afrika.

Hy het verduidelik dat elke staat op drie pilare staan. Die eerste is dat daar ideologiese eenstemmigheid moet wees. Die tweede is dat die staat die monopolie moet hê om wet en orde te handhaaf. Die derde pilaar is dat die staat infrastruktuur moet skep wat die burgery in staat sal stel om die ekonomie te ontwikkel.

Volgens prof Malan het al hierdie pilare getuimel en bevind ons ons tans in ‘n vervallende staat. Hy het ook bygevoeg dat dit onmoontlik sal wees om die staat te red. Daarom moet elke individu eerder probeer om self sy besigheid werkbaar te maak, self sy infrastruktuur te onderhou, en self vir sy beveiliging te sorg. Hy glo landbou is ‘n noodsaaklike bedryf in die land en sal sovêr moontlik beskerm word.

Lees meer oor die effek van beurtkrag op die abattoirbedryf.

Selfregerende strukture

Corine Steyn van die nasionale RPO het op haar beurt weer met produsente gesels oor die werksaamhede van die RPO. Sy het verduidelik wat die RPO doen om produsente te beskerm.

Produsente is prysnemers, het sy verduidelik, en gesê dat organisasies soos die RPO nodig is om te verseker dat produsente behoorlike vergoeding vir hulle karkasse ontvang. Dit gaan egter nie net oor vleispryse nie; die RPO is ook betrokke by aspekte soos dieregesondheid en doen moeite om aspekte soos vleis-invoere te monitor. – Koos du Pisanie, AgriOrbit

Vir meer inligting oor die RPO Noord-Kaap se werksaamhede, kontak Julize Volschenk by 076 424 2791.

Avoid unilateral changes to the employment contract

Estimated reading time: 4 minutes The employment contract can be of immense value to...

Snotsiekte: ’n Taai tameletjie

Estimated reading time: 5 minutes Snotsiekte is ’n dodelike virussiekte wat deur wildebeeste na...

Delictual duty of the SAPS to prevent crime, disorder and damage

Estimated reading time: 4 minutes In two recent cases, the High Court of Pretoria...

Vermy saalsere op jou veeperde

Estimated reading time: 5 minutes Een van die grootste probleme is met veeperde is...