Na twee jaar waarin Nampo uitgestel moes word, is Rovic Leers behoorlik uitgehonger om die nuutste tegnologie in landboumeganisasie met Suid-Afrikaanse produsente te deel.

Rovic Leers bedien die mark al vir 95 jaar met landboutoerusting en spesialiseer in ’n wye reeks implemente, gepas vir elke landbougewas regdeur die jaar. Met ’n groeiende wêreldbevolking om te voed, moet landbouproduksie al hoe vinniger en makliker plaasvind. Rovic Leers is gereed vir hierdie toekoms, met toerusting wat die moderne produsent help om meer doeltreffend te produseer.

Krone-balers en -harke

Die Krone VariPack-rondebaler is reeds in 2020 in Suid-Afrika geloods, maar sal vanjaar vir die eerste keer by Nampo gesien kan word. Dit is ’n beltbaler met ’n verstelbare baalkamer, spesifiek ontwerp om droëmateriaal te hanteer en dus perfek vir Suid-Afrikaanse toestande.

Lees meer oor balers kies.

In die plaaslike lusernbedryf is Krone ook goed bekend vir sy Big Pack-baler. Tydens Nampo 2022 word die nuwe, vyfde-generasie Krone Big Pack-baler vir die eerste keer ten toon gestel – voorwaar ’n produk waarop Rovic Leers baie trots is!

’n Relatiewe nuwe tipe implement vir die hark van hooi, is die Kuhn Belt Merger. Dié implement beskik oor ’n optelmeganisme soortgelyk aan ’n baler, wat materiaal tot 9,5m wyd kan optel en op ’n voerband neersit, wat dit dan netjies in ’n windry plaas. Dit is verseker die hark wat die vinnigste werk, met die minste hantering om die skoonste windrye te lewer. Daarom is die Kuhn Belt Merger baie gewild onder produsente wat ’n hoë-kapasiteit lusernproduksie lewer.

Die Kuhn Belt Merger is by Nampo 2022 te siene.

Planters en spuittoerusting

Vir die graanbedryf bied Rovic Leers nie net ’n volledige reeks toerusting vir die bewerking van grond nie, maar ondersteun ook bewaringsboerdery voluit. Die Rovic Syncroplant-planter is een van die mees gevorderde groot saadplanters wat vir Suid-Afrikaanse landboutoestande ontwerp is. Dié planter word deur sy robuuste ontwerp, asook akkurate en doeltreffende werking onder moeilike omstandighede, onderskei.

Rovic Leers stel ook vanjaar die nuwe Cima 3 000ℓ lae-volume boordspuit bekend. Cima-spuittoerusting is welbekend vir hul optimale toediening. Dit lewer geteikende, fyn, opgebreekte druppels, sodat plante die aktiewe bestanddeel wat gespuit word, maksimaal kan benut. Cima-spuite, wat tot dusver vanaf 300 tot 2 000ℓ beskikbaar was, spuit tot vier keer groter oppervlaktes as ’n konvensionele spuit, danksy die lae-volume tegnologie. Die 3 000ℓ-weergawe is vir die Suid- Afrikaanse mark, wat ’n behoefte aan groter kapasiteit het, ontwikkel.

Bykomende produkte

Rovic Leers bied ook ’n wye reeks bykomende produkte soos skottels, haakpenne, pompe en vele meer wat op die plaas gebruik word. Hierdie reeks staan as RC Parts bekend en sal soos altyd onder die groot Nampo-tent uitgestal word.

Sedert die begin van 2021 het Rovic Leers nog verder uitgebrei en onder meer ’n besproeiingsafdeling op die been gebring. Hierdie produkafdeling sluit groot name soos Hunter, Toro, STF en Savita in, en sal ook onder die groot tent besigtig kan word.

Rovic Leers vertoon vanjaar dié en vele ander landbou-implemente. Produsente kan verwag om deur ons entoesiastiese, professionele en gasvrye personeel by standplase B15, B16 en B17 ontvang te word. – Willie Human, besigheidsbestuurder, Rovic Leers

Vir meer inligting, kontak Willie Human by Rovic Leers se Johannesburgkantoor op 011 396-6200 of besoek ons webtuiste by www.rovicleers.co.za.