Estimated reading time: 5 minutes
Die Mooirivier-studiegroep in Potchefstroom het onlangs ‘n paneelbespreking by Bovivet gehou waar kwessies wat speenkalfprodusente in die rooivleisbedryf raak, breedvoerig bespreek is.
Awie Barnard, die leier van die studiegroep wat bestaan uit kommersiële speenkalfprodusente en stoettelers, het beklemtoon dat die byeenkoms bedoel was om bydraes van georganiseerde landbou te ontvang en ‘n visie vir die toekoms te vorm. Dit was ook gemik op die versterking van samewerking onder rolspelers, veral in die lig van die uitdagings wat klimaatsverandering en droogte in Suid-Afrika en omliggende lande inhou.
Die lede van die paneel, insluitend Boeta du Toit, die hoofbestuurder van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in Noordwes en Agri Noordwes, Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, en dr Theo de Jager, voorsitter van die Saai-raad, het ‘n reeks vrae oor verskeie belangrike onderwerpe beantwoord. Onder die kwessies wat die meeste aandag getrek het, was die lae rooivleispryse, die effek van invoere uit buurlande, die bestuur van bek-en-klouseer, en die belangrikheid van naspeurbaarheid. Johan Strydom, ‘n aktiewe lid van die studiegroep, het die bespreking gefasiliteer.
Die impak van invoere
Du Toit het uitgelig dat daar ‘n wanopvatting bestaan oor die impak wat ingevoerde speenkalwers op die plaaslike mark het. Hy het verwys na ‘n artikel deur dr Frikkie Maré, die hoofuitvoerende beampte van die RPO, vir verdere insig. Klik hier om die artikel te lees. Du Toit het beklemtoon dat die bestaande invoerprotokol tussen die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap-lande in Suid-Afrika se guns werk, wat die noodsaaklikheid van heronderhandeling in twyfel trek. Hy het verder verduidelik dat ingevoerde speenkalwers direk na voerkrale gestuur word vir die afrondingsproses en slagting, eerder as na plaaslike veilings, en dat daar streng dieregesondheidstandaarde in plek is.
Speenkalwers wat in voerkrale afgerond word, verteenwoordig ongeveer 80% van beesslagtings in Suid-Afrika. In 2023, het ingevoerde speenkalwers uit Namibië 7,38% en Botswana 5,84% van plaaslike slagtings uitgemaak, wat ‘n klein persentasie is. Suid-Afrika se goed gestruktureerde voerkraalbedryf dra by tot hoë-waarde uitvoere na 29 lande, insluitend die Verenigde Arabiese Emirate, China, Nederland, en Griekeland, via bilaterale ooreenkomste wat deur staatstrukture goedgekeur word. Van Zyl het gesê dat die regering eerder probeer om goedkoop kos aan mense te voorsien as om die markkragte vry te laat, maar organisasies soos die RPO, TLU SA, en Saai kan saamwerk om uitdagings in hierdie verband aan te spreek. Dr De Jager het gesê dat Namibië se beter naspeurbaarheidstelsel en voorspelbare beleidsomgewing dit makliker maak om vee na Suid-Afrika uit te voer, wat Suid-Afrika benadeel omdat dit nie aan dieselfde standaarde voldoen nie.
Bek-en-klouseer en die toekoms
Volgens Du Toit is die RPO aktief betrokke by die Nasionale Diergesondheidsforum. Die ontwikkeling van Suid-Afrika se eie bek-en-klouseer-entstof, TTT-FMD, vorder goed, maar registrasie is nog hangende. Die entstof dek die drie stamme, SAT 1, 2, en 3, wat inheems aan Suid-Afrika is en verskil van dié in Botswana en Namibië. Dit bewys dat plaaslike bek-en-klouseer-uitbrekings nie van speenkalwers uit buurlande kom nie. Hy het gesê entstof word tans uit Botswana ingevoer, maar is nie effektief teen Suid-Afrika se stamme nie. Dit verklaar waarom inentings elke drie maande herhaal moet word. Hy het benadruk dat vals gerugte oor uitbrekings vermy moet word, aangesien dit die land se handelsverhoudinge kan benadeel. ‘n Siektebeheergebied word slegs afgekondig wanneer die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) ‘n uitbreking bevestig.
Die RPO se Noordwes-tak bring sy kant
Du Toit het ook verduidelik dat Noordwes sedert 5 Maart vanjaar bek-en-klouseer vry is. Geen plase is meer onder kwarantyn nie. Daar is geen kliniese of serologiese tekens van die siekte of enige virussirkulasie sedert November 2022 nie. Die idee dat die Noordwes Rooivleisprodusente-organisasie (NWRPO) niks gedoen het om produsente in hierdie tyd te ondersteun nie, is verkeerd en dui op oningeligtheid. Sedert die uitbreking het die organisasie verskeie inisiatiewe geneem en met staatsamptenare saamgewerk.
Die 18 uitbrekings tussen 2022 en Februarie 2024 is volgens die WOAH se rapporteringsprosedures uitgefaseer. Du Toit het benadruk dat bek-en-klouseer ‘n staatsbeheerde siekte is, en produsente is steeds verantwoordelik vir die gesondheid van hul diere. Produsente en veilingsagentskappe moet steeds die voorgeskrewe biosekuriteitsmaatreëls nakom, soos deur die Landbouprodukte-agenteraad (APAC) voorgeskryf.
Naspeurbaarheid en die koste-effek
Du Toit het verduidelik dat hoewel die Suid-Afrikaanse regering nie van produsente vereis om naspeurbaarheid te gebruik nie, is dit noodsaaklik vir uitvoere. Sommige voerkrale het reeds naspeurbaarheidstelsels, maar produsente dra die koste. Daar is ‘n mening dat produsente wat aan sulke stelsels deelneem, ‘n premie moet ontvang. Die Livestock Identification and Traceability System (LITS-SA) is operasioneel, maar produsente moet deur ‘n staatsveearts goedgekeur word om te registreer.
In die siektebestuursgebiede van Limpopo en KwaZulu-Natal is ongeveer 566 000 diere reeds op die stelsel geregistreer. Du Toit het gesê die RPO is gefrustreerd omdat die staat stadig optree om LITS-SA finaal goed te keur. Noordwes beplan om ‘n paar produsente te kies vir ‘n loodsprojek om die stelsel te toets. Hy moedig rooivleisprodusente aan om vrywillig aan naspeurbaarheid deel te neem in plaas daarvan om te wag vir nuwe wetgewing. As LITS-SA nie gou goedgekeur word nie, sal die RPO ‘n alternatiewe stelsel implementeer wat steeds versoenbaar is met LITS-SA. – Christal-Lize Muller, Plaas Media
Vir meer inligting kontak Awie Barnard, voorsitter van die Mooirivier-studiegroep by kudde@bovivet.co.za of 071 3828490 of Boeta du Toit, hoofbestuurder NWRPO by 082 388 1722 of dutoitboeta@mweb.co.za.