Estimated reading time: 3 minutes
Verskeie rolspelers in die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf het ’n paar jaar gelede ’n plan op die tafel gesit en ‘n visie opgestel met die doel om ‘n strategie te ontwikkel om die bedingingsmag in die waardeketting van rooivleisproduksie te versterk.
Tydens die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se Noord-Kaap-kongres in Kimberley het Corine Steyn van RPO Nasionaal, produsente oor dié visie wat almal raak, ingelig.
In dié visie word die rooivleisbedryf as ’n mededingende en volhoubare bedryf gesien waar daar vir produsente waarde toegevoeg kan word en ook waar produsente se waarde ontsluit kan word.
Heelwat rolspelers het reeds hande gevat en deel geword van dié visie en Corine sê daar is reeds heelwat dinge in plek om dit te laat werk.
Visie 2030 se fokusareas is:
- Diere- en openbare gesondheid.
- Marktoegang.
- Inklusiewe groei.
- Mededingendheid en volhoubaarheid.
Lees meer oor RPO Noord-Kaap se onlangse kongres hier.
Die bedryf lewer ook ’n verskeidenheid van dienste
Onder hierdie dienste val dieregesondheid waar daar agter die skerms hard baklei word om entstowwe beskikbaar te kry en biosekuriteit bevorder word. Dit sluit ook die werk wat die bek-en-klouseer span doen, die hantering van uitbrekings van staatsbeheerde dieresiektes, en privaat en publieke vennootskappe in.
Steyn het onder meer na die onlangse bek-en-klouseer uitbrekings verwys en genoem dat daar nog nie weer verdere uitbrekings was nie. Dit is alles danksy die veeartsenydienste wat die siekte kon beheer en inperk.
Sy het ook verwys na die vennootskappe tussen Suid-Afrika, Namibië en Botswana wat weer afgestof is en reeds goeie resultate opgelewer het. ’n Goeie uitkoms daarvan is dat dr Pierre van Rooyen op die genetika-advieskomitee dien. Hierdie komitee aandag aan die nodige protokolle tussen die drie lande gee.
Steyn het beklemtoon dat alle rolspelers in hierdie visie moet inkoop. Die produsente is die belangrikste rolspelers en elke individu kan begin deur te kyk na sy/haar dieregesondheidstatus. Hieronder val die biosekuriteit wat op elke plaas toegepas moet word.
“As Suid-Afrika droom om rooivleis uit te voer is dit juis hier waar die pad gelyk moet loop. Dit geld ook vir veilings en abattoirs waar dieregesondheid ʼn al hoe groter rol begin speel. Die ideaal is dat elke dier wat verhandel of geslag word se dieregesondheid gewaarborg kan word,” sê sy.
Hiermee saam loop ’n goeie naspeurbaarheidstelsel. Sy meen daar is reeds baie gedoen om hierdie databasis op te stel en as die stelsel uitgerol word sal dit ’n enorme groot voordeel vir die hele bedryf wees. Die belangrikste is dat elke produsent ook betrokke moet raak hierby deur sy diere te tatoeëer en rekordhouding te doen.
“Die laaste skakel van die waardeketting in die rooivleisbedryf is ook die verbruiker en daar word ook tans navorsing gedoen oor die verbruikerspatrone en maniere om die verbruiker ten opsigte van rooivleis op te voed.”
Steyn is baie opgewonde oor Visie 2030 en volgens haar hou dit geweldig baie voordele vir almal in die waardeketting in. – Koos du Pisanie, AgriOrbit