Rooivleis, ’n bedryf in die knyp?

Share This Post

Estimated reading time: 4 minutes

’n Afname in besteebare inkomste, minder vleisuitvoere en die effek van bek-en-blouseer is van die redes wat gegee word vir die huidige traagheid in die vleisbedryf.

Volgens die markkommentator Chris Derksen is pryse tans merkbaar laer as verlede jaar dieselfde tyd. Veilingspryse per kilogram lewende gewig voor belasting het in die week van 31 Julie tot 7 Augustus in die Noord-Vrystaat as volg daar uitgesien: 

Speenkalwers <200kg / Weaners <200kgR/kg33,07+0,98%
Speenkalwers 200-250kg / Weaners 200-250kgR/kg33,32+4,26%
Speenkalwers >250kg / Weaners >250kgR/kg31,16+0,97%
A klas / A gradeR/kg29,35+0,03%
B klas / B gradeR/kg00,00N/A
C klas vet koeie / C grade fat cowsR/kg21,10-0,33%
C klas maer koeie / C grade thin cowsR/kg18,28-0,27%
Slagbulle / Slaughter bullsR/kg21,80-0,41%
Stoorlammers / feeder lambsR/kg44,00+1,55%
Slaglammers / slaughter lambsR/kg40,40+0,07%
Stoorskape / lean ewesR/kg34,11-1,04%
Vetskape / fat sheepR/kg32,03-0,74%
Kleinbokkies / kidsR/kg50,00+1,54%
Bokooie / ewesR/kg40,00-0,05%

Volgens PM Swart, Vleissentraal se afslaer op Standerton, kan ’n mens nie daarvan wegkom dat pryse die resultaat van vraag en aanbod is nie. Die vraag na rooivleis in die verbruikersmark is traag, en dit vloei terug na pryse wat op veilings betaal word.

“Daar is bloot nie geld in die plaaslike ekonomie nie, wat die koopkrag van die verbruiker dramaties kortwiek. Dit lei daartoe dat verbruikers na goedkoper alternatiewe soek, tot voordeel van vark- en hoendervleis.”

Lees meer oor die toekoms van rooivleis hier.

Voerkrale sluit, laat leemte

’n Ander faktor, glo hy, is dat verskeie voerkrale die afgelope tyd gesluit het, onder andere as gevolg van die bek-en-klouseer-uitbrekings die afgelope twee jaar. Van hierdie voerkrale het ’n leemte in hulle omgewings gelaat, terwyl ander deur groot voerkrale oorgeneem is. Die effek is dat die voerkraalbedryf oorwegend in die hande van ’n paar groot spelers is. 

’n Derde faktor is die swak mielie-oes in groot dele van die Hoëveld, wat graanboere onder groot druk geplaas het. “Daar word algemeen gesê dat mieliegeld beeste koop. As daar nie mieliegeld is nie, plaas dit beespryse onder druk. Boere is bekend daarvoor dat hulle baie vinnig op markseine reageer. As die beesprys hoog is soos ’n paar jaar gelede, produseer boere baie vinnig meer beeste om die geleentheid te benut. Die gevolg is dat daar gou ’n ooraanbod van diere is, wat die prys weer onder druk plaas. Hierdie is dus ’n normale, voorspelbare tendens.”

Hy sê drie aspekte speel ’n rol in die herstel van die mark. Daar moet meer uitvoere van rooivleis plaasvind, die plaaslike ekonomie moet verbeter en meer rolspelers moet die voerkraalbedryf betree.  

Lees meer oor die rooivleiswaardeketting se verbetering hier.

Verbruikers koop minder

Lenel Oosthuizen, voerkraalbestuurder van die Midlands Group se Blokhuis-voerkraal by Harrismith in die Oos-Vrystaat, sê die afname in die besteebare inkomste van verbruikers speel ’n baie groot rol, terwyl die afname in uitvoere, onder andere as gevolg van bek-en-klouseer, nog ’n belangrike faktor is.

“Voerkrale is baie huiwerig om vee op veilings te koop, uit vrees vir ’n herhaling van die bek-en-klouseer-uitbrekings van verlede jaar. Min voerkrale sal ’n herhaling van verlede jaar se krisis kan oorleef. Dit plaas verdere druk op veilingspryse. Dit is opmerklik dat, hoewel produsentepryse tans so laag is, dit tog nie deurspoel na supermarkpryse nie.”

Volgens Roelie van Reenen, hoof van voorsiening by die Beefmaster-groep, het hulle ’n moeilike 2024 voorsien, op grond van redes wat wissel van ekonomiese druk tot by vrese oor biosekuriteit.

Die prys van dierevoer het die hoogte ingeskiet, wat dit baie uitdagend maak om beesvleis teen pryse te produseer wat vir beide produsent en eindverbruiker aanvaarbaar is, sê hy. Daarmee saam is verbruikers onder geweldige ekonomiese druk as gevolg van ’n afname in besteebare inkomste. Dit het ’n direkte invloed op die vraag na rooivleis, wat ’n baie uitdagende siklus veroorsaak vir al die spelers in die waardeketting. Produsente, op hul beurt, staar hoë produksiekoste in die gesig.

Internasionale vraag

Hoofsaaklik as gevolg van ekonomiese druk in China, sê Roelie, het die internasionale rooivleismark ook stoom verloor. Die vraag neem in China af as gevolg die ekonomie wat om verskeie redes onder druk is.

Die sleutel tot groei in die Suid-Afrikaanse vleisbedryf is uitvoere en die ontwikkeling van nuwe markte, maar dit moet gesien word in die lig van vrese oor biosekuriteit, veral weens bek-en-klouseer. 

Die bedryf gaan gebuk onder onvoldoende biosekuriteitsmaatreëls, veral in die lig van herhaalde uitbrekings in verskillende dele van die land, soos nou in die Oos-Kaap. “Hierdie gebrek, saam met ’n gebrek aan selfdissipline binne die bedryf, vererger die situasie. Dit is tot nadeel van die totale waardeketting.

“Die een ligpuntjie is die voorspellings van ’n goeie reënseisoen op grond van ’n versterkende La Niña weerpatroon. Intussen is dit ’n kwessie van gordels intrek en bestaande markte beskerm.

Chris Derksen sê daar is tans drie ligpuntjies op die horison, die petrolprys wat weer effens gedaal het, rentekoerse wat na verwagting sal afkom en die politieke situasie wat verbeter het, veral in vergelyking met die res van die wêreld. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 35 of 2024

The weekly pork carcass prices are brought to you...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...