Estimated reading time: 4 minutes
Die faktore wat die marges op karkas- en speenkalf- of speenlampryse bepaal, is die oorsaak dat die gaping tussen dié twee pryse die laaste ruk groter geword het. Die marges op karkasse is dus nie abnormaal hoog nie, het prof Frikkie Maré van die Universiteit van die Vrystaat tydens die Rooivleis-abattoirvereniging (RVAV) se kongres by die Lord Charles Hotel in Somerset-Wes, gesê.
“Die marge op ’n beeskarkas is maar 34% regdeur die waardeketting, terwyl dit so hoog as 30% is vir ander produkte in die kleinhandel,” sê hy.
Die tema van sy toespraak was ‘Die huidige ekonomiese klimaat en die impak daarvan op die rooivleisbedryf’.
Heelwat vrae oor prysgaping
Volgens Prof Maré het daar die afgelope ruk heelwat vrae oor die verskil tussen karkas- en speenkalfpryse, die groterwordende gaping tussen die twee pryse en die feit dat speenkalfpryse baie vinniger as karkaspryse gedaal het, opgeduik.
“As jy na die faktore wat die pryse beïnvloed kyk, is die tendens verstaanbaar. Daar is drywers wat die twee pryse in verskillende rigtings druk. Die pryse het mekaar vir baie jare gevolg en was die afgelope vyf jaar redelik naby aan mekaar. Die karkasprys het einde verlede jaar basies teruggesak tot 2021 se prysvlakke, maar die speenkalf- en speenlampryse het verder gedaal tot vlakke wat ons laas in 2018 gesien het.”
Kry die weeklikse rooivleispryse hier.
Mielieprys, ekonomie en beurtkrag die oorsaak
Voerkoste is een van die drywers wat die speenkalf- en speenlampryse afgedruk het. “Mieliepryse het die afgelope jaar bo R5 000 per ton gedraai, wat dit duur maak vir voerkrale om hierdie diere af te rond. Hulle moes dus die diere se aankoopprys verlaag.”
Aan die ander kant sukkel die ekonomie, wat meebring dat vleis nie vinnig genoeg verkoop word nie. Beurtkrag plaas verdere druk op die verbruiker. “Dis veral goedkoper snitte wat nie vinnig genoeg oor die rak skuif nie,” sê prof Maré. “Hierdie snitte vat gewoonlik lank om gaar te maak en die verbruiker het nie noodwendig die tyd (elektrisiteit) om dit te doen nie.”
Dit is ook belangrik om te onthou dat die hele karkas verkoop moet word. Die marges op goedkoper snitte moet verlaag word om dit uit die stelsel te kry, terwyl die pryse vir prima-snitte basies dieselfde bly om ’n marge op die karkas te verseker.
Uitvoermark nie sleutel tot hoër vleispryse
Prof Maré het bygevoeg dat ’n groter uitvoermark vir rooivleis gereeld as die sleutel tot hoër rooivleispryse voorgehou word. “As ’n mens na die probleme in die uitvoermark kyk, sal jy sien dat Suid-Afrika se dieregesondheidstatus (bek-en-klouseer) die hoof oorsaak van die sluiting van uitvoermarkgrense is.
Dit beteken dat ons net vleis na Afrika en die Midde-Ooste kan uitvoer. Die lande in hierdie gebiede het nie noodwendig hul eie kuddes nie en is nie bekommerd dat bek-en-klouseer na hulle toe sal versprei nie.
“Die probleem is dat die pryse op dié markte baie dieselfde as op ons binnelandse mark is. Ons verdien nie premies daarop nie. Groter abattoirs en uitvoerders voer dus vleis teen basies dieselfde prys as die binnelandse prys uit om ons binnelandse mark tot ’n mate te beskerm,” sê hy.
Vind meer oor die Rooivleisdienste-organisasie uit hier.
Naspeurbaarheid: Nasionale stelsel nodig
“Om ’n premie vir ons produk te kry, moet ons meer vleis na lande uitvoer wat ons in dollars, euros en ponde kan betaal. Dit beteken dat ons ons dieregesonheidstatus moet herwin. Die enigste manier om dit te doen, is om ’n naspeurbaarheidstelsel in plek te stel.”
Afrika het 50 lande waarvan 49 reeds ’n naspeurbaarheidstelsel het. “Suid-Afrika is die enigste land wat nie so ’n stelsel in plek het nie. Elke tweede persoon in Suid-Afrika probeer om sy eie stelsel vir sy eie behoeftes op die been te bring, maar ongelukkig werk dit nie. Ons het ’n nasionale naspeurbaarheidstelsel nodig om uitvoergrense oop te maak,” sê hy.
“As bek-en-klouseer weer uitbreek, sal ons die area kan afbaken en bewys lewer dat die vleis uit ander areas kom en geskik vir uitvoer is. Daar kan dus nie meer oor die belangrikheid van en die behoefte na ’n nasionale naspeurbaarheidstelsel geargumenteer word nie. Ons moet ophou praat en die stelsel daadwerklik in plek sit.” – Hugo Lochner, AgriOrbit