Sowat vyf jaar gelede het beide vee- en wildboere uit verskeie dele van die land die Predasiebestuursforum gekontak met navrae oor ‘vreemde’ rooijakkalse wat hul hare óf gedeeltelik, óf heeltemal verloor het. Nadere ondersoek en gesprekke met verskeie bekende veeartse het aan die lig gebring dat dit brandsiektemyte was wat hierdie benarde situasie veroorsaak het.

Daar was berigte uit die Oos-Kaap, Noord-Kaap vanaf Beaufort-Wes, deur Koffiefontein tot naby die Kalahari van rooijakkalse wat erg onder brandsiekte deurgeloop het. Sommige distrikte se rooijakkalse het feitlik uitgesterf deels as gevolg van die erge besmetting. Op wildplase rondom Phalaborwa in Limpopo was jakkalse uiters skaars nadat brandsiekte onder hulle gemaai het.

Gesprekke met veeartse en ekoloë het die hipotese daargestel dat die uitsonderlike groot jakkalsbevolking spanning in die bevolking veroorsaak en wanneer ’n spesie onder druk kom, raak dit baie meer vatbaar vir parasiete en siektes. Die kwelvraag is ook gestel hoe die myte so vinnig en wyd onder die rooijakkalsbevolking kon versprei.

Prof Graham Kerley van die Nelson Mandela Universiteit en sy navorsingspan het bevestig dat rooijakkalse oor ongekende lang afstande beweeg, soos byvoorbeeld vanaf die Addo Olifant Nasionale Park na die Karoo Nasionale Park, wat ’n hele paar honderd kilometer van mekaar is. Met sodanige wye verspreiding, is dit vanselfsprekend dat jakkalse mekaar met die parasiet aansteek.

Brandsiektemyte is spesiespesifiek

Predasiespesialis dr Gerhard Verdoorn van Griffon Gif-inligtingsentrum het heelwat navrae oor jakkalse wat brandsiekte het gedurende Januarie vanjaar vanaf boere ontvang. Een van die navrae het van JJ van der Walt wat naby Middelburg, Mpumalanga boer, gekom. Hy het vier sulke jakkalse, waarvan die toestand baie swak was en die hare byna heeltemal weg was, geskiet.

Brandsiektemyte veroorsaak erge irritasie en laat die hare uitval. As gevolg van die konstante irritasie, gaan sulke diere agteruit totdat hulle heeltemal uitgeteer raak en vrek. Boere is met reg bekommerd dat die myte na vee, wild en selfs hul honde oorgedra kan word, maar veeartse is dit eens dat dit nie gebeur nie omdat die myte spesiespesifiek is.

Tweedens is daar nog nooit gevalle aangeteken waar kleinvee, grootvee of wild onder brandsiektemyte deurgeloop het nie – selfs nie in gebiede waar daar baie gevalle van brandsiekte onder jakkalse was nie.

Boere se hulp gevra

Dr Verdoorn het verder vir boere gevra om op te let na bakoor- en silwervossies om te sien of hulle ook met die myte besmet geraak het, en tot dusver het niemand so iets onder die twee vosspesies waargeneem nie. Alle aanduidings is dat die mytplaag slegs tot rooijakkalse beperk is.

Hy het drie jaar gelede op die reservaat Breslau naby Pontdrift, sy jaarlikse jagtog beleef en ook spesifiek na die jakkalse gekyk, maar daar was slegs enkelinge met tekens van brandsiekte en geen teken van brandsiekte onder enige van die wildsbokke nie.

Indien boere sulke jakkalse waarneem, moet hulle probeer foto’s neem en dit aan dr Verdoorn, via WhatsApp op 082 446 8946, stuur. Die plaasnaam sowel as distrik waar dit voorkom, moet ingesluit wees. – Persverklaring, Predasiebestuursforum