Saturday, September 14, 2024

Rooibosprodusent van die Jaar aangewys

Estimated reading time: 4 minutes

Nico Slinger van De Lille Boerdery duskant Clanwilliam, is as 2024 se Rooibosprodusent van die Jaar aangewys. Hy het sy toekenning ontvang tydens ‘n gala-aand wat deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou op die Clanwilliam-skouterrein aangebied is.

Die kompetisie was ‘n inisiatief van die Wes-Kaapse Departement van Landbou en Rooibos Beperk, en is deur Riana van Rensburg, landbou-adviseur van die Wes-Kaapse Departement van Landbou op Clanwilliam, geïnisieer.

Lees meer oor die Rooibosteeprodusente-vereniging hier.

Van Rensburg het tydens die geleentheid gesê die aanwys van die Rooibosprodusent van die Jaar is ‘n geleentheid wat geskep is om opkomende boere van die Cederberg ‘n platform te gee waar hulle teen mekaar kan meeding en hul boerderye met dié van ander kan vergelyk. Dit bied ook die geleentheid om erkenning aan die beste produsente te gee en hulle te vereer vir die goeie gehalte rooibostee wat hulle produseer.

Wenners word in vier kategorieë aangewys, naamlik:

  • Rooibosprodusent van die Jaar: ‘n Produsent wat meer as 1 250kg rooibostee per jaar produseer.
  • Opkomende Rooibosprodusent van die Jaar: ‘n Produsent wat minder as 1 250kg rooibostee per jaar produseer.
  • Beste Volhoubare Rooibosgemeenskap en die Beste Volhoubare Rooibosgemeenskap Agri-verwerking: Hierdie twee kategorieë verwys na gemeenskapsprojekte en groepe wat saam boer.

Die wenners verdien erkenning

In die kategorie, Rooibosprodusent van die Jaar, was Nico Slinger van De Lille Boerdery by Clanwilliam die wenner en Gerrie Koopman van die plaas Sonderwaterkraal, ook by Clanwilliam, is as naaswenner aangewys. In die kategorie, Opkomende Rooibosprodusent van die Jaar, is Maria Koopman van Sorco by Kleinvlei die wenner en Cheslin Koopman, ook van Sorco, die naaswenner.

Die Beste Volhoubare Rooibosgemeenskap is Sedervlei Rooibosboerdery Primêre Koöperasie en die naaswenner is Cederberg Voere Primêre Koöperasie. Wuppertal Oorspronklike Rooibos Primêre Landboukoöperasie is as die Beste Volhoubare Rooibosgemeenskap Agri-verwerking aangewys.

Die wenner van elke kategorie het prysgeld van R4 000 ontvang en die naaswenners R3 000 elk. Die wenner van die kategorie, Rooibosprodusent van die Jaar, het ook 1kg rooibosteesaad ter waarde van R5 000 ontvang.

Deelnemers aan die kompetisie is in twee afdelings geëvalueer, naamlik ‘n teoretiese afdeling en ‘n tegniese afdeling. In die teoretiese afdeling moes hulle onder meer uitstippel hoe hulle hul rooibosbesigheid begin het, wat die uitdagings in die bedryf is en hoe hulle nuwe aanplantings vestig.

‘n Spesiale komitee het die teoretiese afdeling geëvalueer en ‘n tegniese span het al die projekte besoek om punte in die tegniese afdeling te gee. ‘n Persentasie is aan elke afdeling gekoppel en so is die wenners bepaal, het Van Rensburg gesê.

Almal leer iets

‘n Hele paar punte het op die inskrywingsvorms uitgestaan. In die kategorie, Rooibosprodusent van die Jaar, het veral drie aspekte uitgestaan. Eerstens speel rekordhouding ‘n groot rol in suksesvolle rooibosverbouing. Tweedens het die vestiging van rooibostee ‘n groot impak op produksie. Derdens is die organiese verbouing van rooibostee nie moeilik nie en sorg dit vir beter pryse vir produsente.

By die kategorie vir Opkomende Rooibosprodusent van die Jaar was dit duidelik dat samewerking en wedersydse ondersteuning by die ontwikkeling van kapasiteit, vaardigheidsopleiding en bemarking, ‘n groot rol in suksesvolle rooibosboerdery speel. Hoewel sommige boerdery-eenhede klein is, verstaan hulle steeds hul besighede en die produsente ken hul markte en die markverwagtinge. Selfs op hierdie vlak is die bestuur van produksie die sleutel tot sukses, het Van Rensburg gesê.

Die kompetisie het uitgewys dat die opkomende boere van die Cederberg-streek met ’n unieke produk boer wat op geen ander plek in die wêreld verbou kan word nie. “Ons glo die kompetisie sal elke jaar groei. Terugvoering aan produsente sal hulle help om foute uit te skakel en ‘n selfs beter gehalte produk te lewer,” het Van Rensburg gesê. – Hugo Lochner, Plaas Media

Must read

Melkvervangers vir varkies groei in gewildheid

Estimated reading time: 4 minutes Vervangers vir sogmelk is nog nie so gewild in Suid-Afrika soos in Nederland of Denemarke nie. Dit neem wel stadig maar seker in gewildheid toe, waarskynlik weens die groter werpsels...
Wikus tussen sy Dohne-Merino’s. (Foto: Stefan Strydom)

Topskaapboer floreer met ’n simplistiese lae-inset benadering

Estimated reading time: 7 minutes Wikus Bekker, ’n Dohne-Merino-boer van die plaas Geluksdam by Edenburg in die Vrystaat, se passie vir teling, en sy toewyding en meelewing in sy boerdery is die hoeksteen van sy...

RSG Landbou: 12 September – geborg deur BKB

Estimated reading time: 2 minutes Daar is verskeie tipes melk op winkelrakke te koop en die verbruiker het dikwels vrae oor onder andere, die voedingswaarde van gepasteuriseerde melk. In moreoggend se RSG Landbou beantwoord Maretha...
Chris Schutte and his wife Reinette Schutte with AFMA chairperson Anina Hunter. Schutte received the Lifetime Achievement Award.

AFMA honours excellence

Estimated reading time: 4 minutes Anina Hunter of Epol Feeds was re-elected as chairperson of the Animal Feed Manufacturers Association (AFMA), while Michael Schmitz from Meadow Feeds was re-elected as vice-chairperson at the 77th AFMA...

RSG Landbou: 11 September – geborg deur BKB

Estimated reading time: 2 minutes Tyd raak min om in te skryf vir die 2024 LRF Veeskool wat vanaf 9 tot 11 Oktober by Aldam aangebied word. Die program is gefinaliseer en in vandag se...