Estimated reading time: 5 minutes
Die primêre rooibosteeprodusente in die Wes- en Noord-Kaap het sowat twee maande gelede die Rooibosteeprodusente-vereniging gestig om die gemeenskaplike belange van die rooibosteeprodusent te dien.
Volgens Werner Nieuwoudt, voorsitter van die Rooibosteeprodusente-vereniging, het produsente hulle eie vereniging gestig omdat hulle as primêre produsente gevoel het dat hulle nie ’n spreekbuis het waar gemeenskaplike sake bespreek word nie. Die ander rolspeler in die bedryf is goed georganiseerd en werk saam, maar produsente het nie ’n organisasie gehad wat kon verseker dat hulle inspraak het in sake wat hul direk raak nie.
“Met die nuutgestigte vereniging wil rooibosteeprodusente seker maak dat hulle hul regmatige plek as aandeelhouers rondom die rooibosteetafel inneem en so hul belange beskerm en bevorder. Die primêre doelstelling van die vereniging is dan ook om ’n gemeenskaplike spreekbuis te wees en om ’n gemeenskaplike front te vorm om produsente se belange te beskerm. Die vereniging moet die bedryf ondersteun, groei bevorder en kohesie binne die bedryf bou,” sê Werner.
Lees meer oor hoe rooibosprodusente klimaatslim raak hier.
Vereniging goed verteenwoordig
Die rooibosteebedryf is in die fynbosbioom van die Wes- en die Noord-Kaap se winterreënvalstreek geleë. Om seker te maak die vereniging verteenwoordig produsente oor die hele produksiegebied, is die gebied in 13 streke verdeel. Vir elke streek is daar ’n streekverteenwoordiger gekies om op die bestuur van die vereniging te dien. Uit die 13 bestuurslede is ’n voorsitter, ondervoorsitter en twee dagbestuurslede verkies.
Werner sê die bestuur van 13 lede is groot, maar het gevoel dat die vereniging direk op plaasvlak met produsente in kontak moet wees en hulle wou nie aanvanklik met ’n te klein bestuur begin nie.
“Om seker te maak daar is nie ’n konflik van belange tussen produsente en verwerkers nie, is daar ’n pertinente bepaling in die grondwet van die vereniging dat ’n direkteur by een van die verwerkers ’n lid van die vereniging kan wees, maar hy of sy mag nie op die bestuur van die vereniging dien nie,” sê Werner.
Finansiering moenie ’n las wees nie
Werner sê die vereniging se finansieringmodel is nog nie gefinaliseer nie. Met die stigting van die vereniging is daar ’n aansluitingsfooi van R1 000 per lid gevra. Daar is nie onderskeid tussen groot en klein produsente getref nie.
Hy voel die finansiering van die vereniging moenie ’n addisionele las op produsente wees nie. Die bestuur sal dus na addisionele inkomstebronne kyk en nie net na inkomste van ledegeld of heffings nie.
Die fondse wat tot dusver ingevorder is, is hoofsaaklik vir die stigting van die vereniging gebruik. Werner het Agri Wes-Kaap bedank vir die ondersteuning met die stigting van die vereniging. Die bestuur van die vereniging het ook besluit om Agri Wes-Kaap as sekretariaat van die vereniging aan te stel.
Lees meer oor die geskiedenis van rooibosverbouwing hier.
Die vereniging bepaal nie pryse nie
Produkpryse, en veral die verwagtinge van lede dat hul organisasie beter pryse vir hul produkte moet beding, is ’n kwessie wat altyd by diensorganisasies opkom en al onmin tussen lede en die bestuur van die organisasies veroorsaak het, sê Werner.
“Dit is belangrik om te weet dat die Rooibosteeprodusente-vereniging se beleid is om nie by prysbepaling betrokke te raak nie. Markkragte moet pryse bepaal. Ons weet daar gaan prysskommelinge wees as gevolg van vraag en aanbod, maar ons gaan nie daarby inmeng nie.”
“Die vereniging gaan dus nie ’n drukgroep wees om hoër pryse te beding nie. Prysskommelings raak almal in die rooiboswaardeketting. Ons voel die vereniging kan met genoegsame bedryfsinligting en toegang tot inligting ons lede beter adviseer en so beter stabiliteit kry wat prysskommelings betref.”
Die vereniging wil die primêre produsent met inligting bemagtig om meer holisties en strategies na die toekoms van die bedryf te kyk en hul beplanning oor ’n langer termyn te doen. Werner meen ook dat die bedryf met groter samewerking tussen produsente en ander rolspelers in die bedryf, soos verwerkers, bemarkers en die Rooibosteeraad, groei en werksgeleenthede kan skep.
Lees meer oor die Khoi en San se betrokkenheid tot rooibos hier.
Vereniging moet relevant bly
Werner sê die Rooibosteeprodusente-vereniging is nog in sy kinderskoene. Daarom lê daar nog baie werk voor om seker te maak dat die organisasie relevant bly.
“Ons moet verseker dat die rooibosteebedryf volhoubaar bly deur gefokusde navorsing oor onder meer plantmateriaal, genetika, grondgesondheid, boerderypraktyke en klimaatsverandering, en groter samewerking. Navorsing moet behoeftegerig en tot die grootste voordeel vir die produsent wees.”
“Daar is baie meer gemeenskaplike raakvlakke as wat daar kompeterende raakvlakke is. Ons moet dit ontgin en seker maak ons bly relevant dat die bedryf groei en volhoubaar bly. As ons oor tien jaar terug kyk, moet ons kan sien die vereniging het waarde toegevoeg, die bedryf laat groei en werkgeleenthede geskep. Dit is waarvoor ons vereniging staan,” sê Werner.– Hugo Lochner, AgriOrbit