Min dinge maak ’n boer se gal so suur soos ’n skaap of bok wat langs die krip doodlê en waaraan een of ander karnallie sonder betaling gevreet het. Dit is heeltemal menslik dat die woede die boer se rede kelder en dat foute gemaak word met die identifikasie van die skuldige. Ongelukkig lei dit noodwendig tot ondoeltreffende beheermaatreëls wat nie die probleem vir die boer oplos nie. Baie boere maak die fout om te aanvaar dat ’n rooijakkals die prooi doodgemaak het omdat die rooijakkals die bekendste skadeveroorsakende dier is.

Om te bepaal watter spesie roofdier die skade veroorsaak het, moet die toneel soos ’n forensiese ondersoek vir leidrade gefynkam word. Die volgende leidrade moet gesoek word:

  • Roofdierspore – katspore het geen kloumerke nie terwyl die hondagtige diere en jagluiperds wel kloumerke wys.
  • Roofdiermis – sommige spesies soos die rooijakkals kan soms ná die vretery naby die karkas mis om die gebied af te baken en die prooireste teen ander roofdiere te beskerm.
  • Tipe en grootte van die prooi – die grootte, naamlik volwasse skaap of lam wat doodgemaak is, dra by tot die uiteindelike identifikasie van die roofdier.
  • Bytplek – dit is een van die kardinale leidrade waarsonder roofdieridentifikasie feitlik onmoontlik is.
  • Vreetplek – dit is gewoonlik ’n baie sterk en eenduidige leidraad vir die identifikasie van die roofdier en sal ook inligting verskaf of aasvretery sekondêr tot die predasie plaasgevind het.
  • Metode van vreet – hier moet gekyk word na of die roofdier die pens gevreet het en of hy dit eers verwyder het, asook hoe die dier die karkas gevreet het.
  • Krapmerke aan die prooidier se karkas – dit is hoofsaaklik katte soos rooikatte en luiperds wat duidelike krapmerke op die prooidier se lyf maak.
  • Roofdierhare – sommige roofdiere laat van hul eie hare op die prooi agter.
  • Verskuiling al dan nie van die karkas – sommige roofdiere bedek die karkas ná vretery terwyl ander dit glad nie doen nie.
  • Frekwensie van predasie – die gereeldheid waarmee predasie plaasvind gee ook ’n aanduiding van die roofdier wat betrokke is.

Die beste werkwyse vir die boer is om netjiese aantekeninge te maak en met die selfoon genoeg foto’s te neem. Dit gebeur dikwels dat boere vir my ’n stel foto’s aanstuur en dan kan mens dadelik ’n 90% diagnose maak. By spore moet ’n verwysing soos ’n sakmes of ’n patroondoppie langs die spoor geplaas word want “ ’n groot spoor” beteken niks nie! Sulke foto’s kan met die slimfone sommer per whatsapp gestuur word vir vinnige identifikasie en raad met die probleem.

Om identifkasie in hierdie artikel breedvoerig te behandel, is gans onmoontlik. Daarom word boere na die Predasiebestuursforum se webtuiste www.pmfsa.co.za verwys waar ’n legio inligting gratis beskikbaar is. Die volledige gids oor predasiebestuur is ook daar beskikbaar om afgelaai te word in Afrikaans én Engels. Boere behoort hulself ten minste te vergewis van die basiese leidrade wat tot akkurate identifikasie van die roofdier sal lei, maar kom ons gee ’n oorsig.

Spore. Soos reeds genoem, kan spore gebruik word, maar dit is belangrik om die spore af te neem vir deskundige identifikasie. ’n Rooijakkals se spoor is soos ’n hond s’n met die voorpoot en agterpoot wat nie beduidend in grootte van mekaar verskil nie. Daar is duidelik klou- of naelmerke by die jakkals se spoor, net soos by dié van die hond, silwervossie en bakoorvos.

Rooikatspore is effens groter as rooijakkalsspore, maar die naelmerke is afwesig. Let egter op dat wanneer die rooikat ’n groot prooi soos ’n volwasse skaap plattrek, daar wel enkele spoormerke gaan wees waar die naels wys omdat die kat besig is om dood te maak en vas te trap. Sulke spore sal egter baie sleepmerke ook wys soos wat die kat met die skaap baklei het.

Luiperds se spore is palmgrootte en sonder kloumerke. Voor- en agterpote se merke is maar ewe groot. Die hiënas soos bruin hiënas (strandwolf of bruinwolf soos die Karoomense hom noem) se spore is groot soos dié van ’n luiperd maar wys duidelik die kloumerke. Die voorpoot se spoor is ook beduidend groter as die agterpoot s’n vir beide die bruinwolf en die gevlekte hiëna. As die spore van bruinwolwe raakgeloop word, is daar ’n baie goeie kans dat die reukmerke wat hulle met die anale kliere teen grassies maak, ook opgespoor sal word. Honde vind hierdie reukmerke redelik intimiderend en as Flaffie se hare begin rys, moet jy weet die bruinwolf het sy merk gemaak.

Die merk is so 30cm bo die grond en is wit met donkerbruin, amper soos sjokolade, maar die reuk is baie sterk en amper kruie-agtig. Leeus se spore is baie groot en sonder kloumerke, maar sal selde of ooit op ’n gewone veeplaas aangetref word. Otters se spore sal naby water wees en is langwerpig. Daar is ook ’n duidelike sleepmerk van die stert tussen die spore.

Mis. Jakkalse mis soms baie naby aan hul prooi. Die mis lê oop en bloot en sal altyd met vars spore geassosieër word. Katte mis nie naby hul prooi nie maar leeus sal die bome naby die plek met uriene merk. Bruin hiënas en hulle gevlekte maters mis op kommunale misplekke, dus gaan daar geen mis naby die doodmaakplek wees nie.

Prooiptipe. By die tipe en grootte van die prooi is die moontlikhede legio. Luiperds vang enige dier van vlakhase tot beeskalwers. Bruin hiënas kan van skaaplammers tot jong kalwers vang, maar hul predasie is bitter min in vergelyking met ander roofdiere. Dit gebeur wel soms dat ’n ou mannetjie onder skape invaar en in een nag groot getalle doodbyt.

Gevlekte hiënas vang gewoonlik in tropverband die groot diere soos wild en beeste, maar ook in hul geval is predasie skaars omdat hulle self skaars is. Rooikatte vang klein lammers tot groot skape en selfs rooibokramme (glo dit, dit gebeur) terwyl groukatte slegs baie klein lammertjies tot en met ’n week oud sal vang. Groukatte se predasie is regtig onbeduidend in die groter prentjie.

Rooijakkalse is gedugte roofdiere wat klein lammers blitsig vankant maak en selfs groot rooibokke of hamels sal aandurf. Silwervosse pla soms by lammers tot maandoud, maar as die veetroppe reg bestuur word is hul skade maar baie min. Otters is soms geneig om skape te takel, maar die aantal gevalle per jaar kan op een hand getel word.

Bytplek. Dit is een van die beste aanduiders en moet deeglik ondersoek word. Rooijakkalse en silwervosse byt onder die kaak en verwurg die prooidier deur die lugpyp toe te knyp. Rooikatte doen dieselfde, maar byt onder die keel, net soos wat leeus en luiperds sal maak. Jagluiperds byt ook onder die keel net soos die leeu sy prooi aan die keel sal gryp en doodwurg.

Bruin hiënas byt agter op die nek of bo-op die prooidier se skedel. Die bytplek se gate is groot en omtrent drie vingers uitmekaar met erge kneusing as gevolg van die kragtige byt. Gevlekte hiënas byt enige plek aan die lyf en die prooidier word uitmekaar geskeur. Dieselfde geld vir gewone honde wat vee aanval; dis ’n onaardige gemors as honde skape aanval. Otters byt die skape aan die neus en versmoor die diere op dié manier.

Vreetplek en vreetwyse. Jakkalse maak die ribbekas oop en vreet aan die binnegoed voordat hulle dan verder aan die ribbekas sal vreet. ’n Karkas waarvan die ribbekas netjies oopgemaak is met die pens wat eenkant lê is ’n gewiste teken van ’n rooijakkals. Daarenteen vreet die silwervossie heel anders. Hy maak die vel op die borsbeen stukkend en vreet sagte borsvleis en blad onder die vel uit. Rooikatte vreet ekslusief aan die boud en sal selde of ooit aan die ribbekas peuter.

’n Luiperd vreet ook eers aan die boud, maar sal later die res van die karkas verorber. ’n Bruinwolf vreet van agter af, naamlik die boud, rug, ribbekas, bene en pote. Daar bly dikwels net die kop en nek oor as dit ’n klein prooi is. Honde verskeur hul prooi met stukke ledemate en lyf wat die hele toneel vol lê. Gevlekte hiënas laat selde enige reste agter en dra dit wat ná die feesmaal oorbly, weg. Otters vreet net die wange, neus en bietjie van die nekvleis van die prooidier.

Krapmerke en hare. Die rooikat skop vas teen sy prooi as hy hom takel en die diep krapwonde is maklik sigbaar onder die dier se pens, op sy ribbekas en boude. Luiperds wat groot prooi vang, sal ook krapmerke laat terwyl daar nooit krapmerke is as die hondagtige roofdiere vang nie. Prooi wat deur rooikatte gevang is, het dikwels ’n redelik sigbare versameling rooikathare op die karkas. Die hare is rooi met silweragtige punte en kan veral maklik op skape se velle of wol waargeneem word. Jakkalse laat geen hare op hul prooi agter nie.

Wegsteek van die karkas. Rooikatte is geneig om karkasse met takke toe te krap of onder die bosse in te sleep, maar dit is nie by elke predasie-insident die geval nie. Jakkalse doen geen moeite met karkasse nie, hoewel hulle na karkasse sal terugkeer om te aas. Luiperds neem hul prooireste boom toe, maar die ander roofdiere los dit net daar in die veld.

Predasiefrekwensie. Hier is ’n redelike opsomming van die onderskeie roofdiere se manhaftigheid om gereeld hulself aan die boer se vee te vergryp:

  • Vang gereeld met ongereelde tussenposes, met ander woorde die predasie duur voort, maar dis nie streng voorspelbaar nie. Die vangplekke kan baie wyd uitmekaar wees.
  • Vang basies elke aand as daar genoeg mak diere op aanbod is en die vangste is meestal in dieselfde omgewing (selfde kamp).
  • Vangste is ongereeld en dikwels oor verskeie plase heen.
  • Bruin hiënas. Vangste is uiters skaars onder vee, maar as ’n enkele dier gevang word is die kans skraal dat dit weer sal gebeur. Indien die wolf egter ’n aantal diere in een nag doodbyt, gaan dit weer gebeur. Sulke insidente is egter uiters seldsaam.
  • Gevlekte hiënas. Vangste is uiters skaars en ongereeld.
  • Sal slegs klein lammers in die begin van lamtyd vang en vang gereeld soos klokslag.
  • Vang slegs baie klein lammers en ongereeld. Hul impak is onbeduidend.
  • Vang uiters selde vee en dit is enkele insidente. Hul impak is weglaatbaar.

Weereens wil ek veeboere wys op die berg inligting wat die Predasiebestuursforum huisves. Lees dit tog met aandag, maar as boere vashaak, skakel my gerus by 082 446 8946 vir ’n vinnige diagnose en raad. Om goedsmoeds diere voor die voet dood te maak, is dikwels die verkeerde ding om te doen, want dit kan die verkeerde uitwerking op die ekologiese balans hê en vir die boer meer probleme skep. Diere soos bruin hiënas wat landwyd voorkom, is uiters waardevol omdat hulle groot roofdiere is wat ’n dempende effek op die regte skaapdiewe soos rooikjakkalse en rooikatte het. Groukatte se impak is so laag dat mens hulle bloot oor die hoof moet sien as een dalk ’n lam vang.

Hou moed en hou die kop reg sodat akkurate diagnoses gemaak word as predasie skielik begin. Ons sal help waar ons kan! – Dr Gerhard H Verdoorn, Griffon Gifinligtingsentrum

Vir meer inligting, kontak dr Gerhard H Verdoorn by nesher@tiscali.co.za 082 446 8946.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY