HomeAgri NewsRoetekaart na suksesvolle beesboerdery

Roetekaart na suksesvolle beesboerdery

Estimated reading time: 3 minutes

Die Langspruit Boerevereniging het onlangs sy tweede jaarlikse beesboeredag in die Reitz-omgewing van die Vrystaat aangebied. Die tema van die dag was “ ‘n Roetekaart na ‘n suksesvolle beesboerdery”. Die doel van die dag was om produsente te leer hoe om hulle produksiestelsels te verbeter en hulle kuddes te ontwikkel.

Verskeie kenners in die beesbedryf het waardevolle inligting en advies met die deelnemers gedeel. Die dag was ook ‘n geleentheid vir produsente om mekaar te ontmoet en ervarings uit te ruil.

Lees meer oor vleisprystendense.

Volgens Francois Scholtz, die ondervoorsitter van die vereniging en die dryfkrag agter die geleentheid, is die onderwerpe gekies om fundamentele fasette van winsgewendheid aan te spreek.

Sprekers gee raad aan produsente

Die eerste spreker was Jan de Jongh, ‘n ervare interras- en vetveebeoordelaar. Hy het gewys hoe om vir wenslike bouvormeienskappe te selekteer. Hy het ‘n koei en ‘n bul gebruik om sy punt te illustreer.

Daarna het Gerrit van Zyl, ‘n Bonsmarateler van Dewetsdorp, vertel hoe hy sy beesboerdery na ‘n hoëdigtheidsbeweidingstelsel omgeskakel het. Hy het gesê dat sy doel was om ‘n beter opbrengs op sy kapitaal te kry as wat hy by die bank kon verdien.

Die enigste manier om dit te doen is om die koeikudde volhoubaar te vergroot. Hy het sy plaas sowat sewe jaar gelede só opgedeel dat hy sy kudde daagliks na ‘n nuwe kamp skuif. Die lang rusperiodes wat hy op hierdie manier bewerkstellig, het ‘n merkwaardige effek op sy veld gehad en só kon hy sy veebelading verdubbel.

Lees meer oor die onlangse RPO Noord-Kaap kongres.

Op hierdie manier het hy ’n wins van R1 041/ha teen ʼn 100% belading, tot R1 278 teen 150%, en R1 652 teen 200% verhoog. 

Volgende aan die beurt was die bekende radiopersoonlikheid, komediant en seremoniemeester, Pieter Möller. Hy het ‘n bemoedigende boodskap van hoop en positiwiteit gelewer, waarna dr Shaun Morris, bekende voerkraalveearts, sleutelpunte in neo-natale kalfgesondheid uitgewys het.

Die sleutel tot neo-natale kalfgesondheid, het hy beklemtoon, lê by genoeg, goeie kwaliteit kolostrum (biesmelk) binne die eerste ses ure na geboorte. Die kalf se vermoë om kolostrum effektief te benut is op sy hoogste binne die eerste twee ure na geboorte. Vanaf sewe ure na geboorte begin hierdie vermoë dramaties afneem totdat dit na 24 uur heeltemal verdwyn.

Die laaste spreker, Henning Vermaak van die maatskappy Essential Nutrient Systems (ENS), het die prentjie afgerond deur riglyne vir doelgerigte strategiese voeding vir optimale produksie te gee.

Sy raad was dat produsente, met behulp van die nodige kundiges, die potensiaal en tekortkominge van hulle voervloeiprogram deeglik moet bepaal en daarvolgens strategiese aanvullings doen.

Die mikpunt van die geleentheid, sê Scholtz, is om hierdie ‘n jaarlikse instelling te maak sodat kennis rondom winsgewende beesboerdery verder gedeel kan word. – Izak Hofmeyr, AgriOrbit

Must Read

Cream of the crop recognised during yield competition

Estimated reading time: 2 minutes The best of the best was recently crowned at Grain SA’s Grow for Gold Awards ceremony held in Johannesburg....