Monday, August 15, 2022

Riglyne vir die voer van uitskotkoeie

Estimated reading time: 4 minutes

Sowat 10 tot 20% van ’n koei/kalfboerdery se inkomste word uit die verkoop van uitskotkoeie gegenereer. Sekere faktore moet egter oorweeg word om wins te maak indien hierdie diere gevoer word.

Maer koeie bied ’n geleentheid om wins te maak deur te kapitaliseer op die kompensatoriese groeipotensiaal. Gesonde maer koeie tel vinniger gewig op as koeie in ’n goeie kondisie. Kompensatoriese groei by maer koeie lewer die hoogste omsetpotensiaal en verminder dus die koste van wins.

Sommige maer koeie is jonk en groei steeds. Hulle het dikwels al ’n kalf gehad en is ondergewig weens melkproduksie tydens laktasie. Sekere maer koeie kan nie slagkoeie word nie. Koeie wat longskade opgedoen het of swaar parasietladings het, sal minder doeltreffend wees, tensy die probleem behandel word. Ouer koeie (> 4 jaar) kan gevoer word, maar hou in gedagte dat hul voeromset swakker as dié van jonger koeie sal wees.

Maer, dog gesond = beste wins

Gewigsverlies by diere behels ’n verlies in die balans van vet teenoor proteïen. Wanneer hierdie diere dus gevoer word, is die herwinning van proteïen stadiger as vet. Koeie wat in normale of goeie kondisie is, sal geneig wees om meer vet aan te sit, wat weer tot verlaagde voeromset lei. Winste daal namate hierdie diere gevoer word, omdat vet toenemend neergelê word. Die koeie moet dus maer wees, maar gesond.

Proewe deur die Universiteit van Kansas in Amerika het getoon dat vyfjaaroue uitskotkoeie wat vir 28 dae gevoer is, ’n gemiddelde groeitempo van 2,1kg/dag en ’n uitslagpersentasie van 50,6% gehad het. Dié wat vir 56 dae gevoer is, het teen 1,99kg/dag gegroei en ’n uitslagpersentasie van 54% gehad. Dit word aanbeveel dat hierdie koeie ’n oorimplantaat ontvang om die beste voeromset te verseker.

Koeie word meestal in die herfs uitgeskot. Gebaseer op historiese gemiddeldes, styg pryse gewoonlik vanaf die verkooptydperk in Februarie/Maart, maar daal dan tot ’n laer punt in November/Desember. Pryse is op ’n hoogtepunt tussen Maart en Augustus.

Vetkleur en hoë-energie rantsoene

Daar bestaan verskeie verbruikerspersepsies oor wit en geel beesvet. Prof Frikkie Maré van die Universiteit van die Vrystaat, en redakteur van Veeplaas, het in ’n navorsingsartikel uitgewys dat slegs 25% van Suid-Afrikaanse beesvleis vanaf weidings afkomstig is (geel vet), en dat produsente laer pryse vir geel vet aangebied word. Soveel so, dat hulle tot ongeveer R157,5 miljoen per jaar minder vir hul produk ontvang.

Hierdie studie het die verbruikersvoorkeure vir beesvetkleur in die Wes-Kaap getoets en die meeste verbruikers (43,74%) verkies wit vet. Geel vet is die resultaat van koeie op weidings wat groot hoeveelhede karoteen verteer. Welige groenweiding bevat tot 500μg karotenoïede per gram, terwyl grane minder as 5μg/g bevat. Hoëgraandiëte sal dus help om geel vet na wit vet om te skakel.

Lees meer oor uitskotbeginsels.

Die mees doeltreffende en winsgewende manier om uitskotkoeie af te rond, is om ’n hoë-energie rantsoen vir ’n kort tyd te voer, gebaseer op die kondisie van die koeie. Voerkoste en die beste tydsberekening moet oorweeg word om op markpryse te kapitaliseer.

Probiotika vir rumengesondheid

Die voer van hoë-energie rantsoene bring egter sekere uitdagings soos suurpens mee. Om die aanpassing van uitskotkoeie op hoëgraanrantsoene te vergemaklik, kan ’n enkele mondelingse dosering van Megasphaera elsdenii toegedien word. Raadpleeg jou plaaslike voedingkundige of veearts in dié verband.

Onlangse proewe het gewys dat Megasphaera elsdenii doeltreffend gebruik kan word om uitskotdiere vinnig af te rond. Die behandelde diere is vir slegs 35 dae gevoer en het verbeterde rumengesondheid getoon, waaronder ’n groter papille-area (sien Foto 1 en 2) en verminderde rumenontsteking. Hulle het ook ’n beter gewigstoename (9,7%), voerinname (3,6%) en voerdoeltreffendheid (6,2%) gehad. Die warm karkasgewig van die behandelde diere was 8,6kg swaarder. – dr Johan van Rensburg (BVSc MRCVS), besturende direkteur, ABE Biotech

Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rensburg by 082 336 5498 of johan@abebiotech.co.za.

Must read

Samesmelting wink vir twee landboureuse

Estimated reading time: 4 minutes GWK se aandeelhouers het onlangs ten gunste van die voorgestelde samesmelting van GWK en VKB gestem. Dié besluit is tydens ʼn spesiale aandeelhouersvergadering wat op Douglas aangebied is geneem. VKB...

Land Bank responds to claims regarding its debt recovery processes

Estimated reading time: 2 minutes Land Bank has noted recent social media posts of claims that the bank and its legal representatives have been involved in aggressive methods of liquidating clients who have defaulted...

RSG Landbou: 15 Augustus 2022 – geborg deur Brahman SA Beestelergenootskap

Agri Oos-Kaap het onlangs hul 20ste jaarkongres aangebied. RSG Landbou was ook daar om die 2022 Agri Oos-Kaap jongboerwenner, Morné Fitzhenry, te ontmoet. Hy is eerste aan die woord in Maandag se aflewering van...

Katoen-verwysingsprys: Week van 8 – 12 Augustus 2022

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee. Hierdie is slegs ’n afgeleide prys wat bereken word op...

SACTA webinar – the future of seed and cultivar technology

Estimated reading time: 4 minutes The South African Cultivar and Technology Agency (SACTA) is a non-profit company and its main responsibility is to administer the statutory law on certain self-pollinated grain crops. SACTA recently...