Estimated reading time: 3 minutes
Tydens Richter Simbras se 17de veiling is Lot 4, Richter Power (JHR19820) vir ʼn nuwe Suid-Afrikaanse (SA) rekordprys van R375 000 verkoop. Dr Obakeng Mfikwe van Lekatu Simbras, Lichtenburg, is sy nuwe eienaar. Hiermee verbeter die seun van Richter Prairie, sy vaar se vorige rekordprys van R370 000 vir die ras.
Al 27 bulle op die aanlynveiling is teen ’n gemiddelde prys van R100 650 via SwiftVee verkoop. Die naashoogste pryse was R220 000 wat vir Lot 2, die poenskop Richter Baros (JHR18667C), betaal is, en R200 000 wat vir Lot 13 (JHR19861) betaal is. Jenet van Niekerk van Zarissa Simbra, Ficksburg, het hom gekoop. Nege van die 27 bulle behaal meer as R100 000-stuk. Vleissentraal Bloemfontein het die veiling aangebied en Ian Grobbelaar was die afslaer.

“Ons kyk dankbaar terug op ons afgelope vyf veilings en sien hoe die genetika verbeter en die gemiddelde pryse geleidelik groei,” sê Chris Richter van Richter Simbras. Van ’n gemiddelde prys van R75 000 in 2018, R85 000 in 2019, R95 000 in 2020 en R99 000 in 2021, het dit vanjaar tot R100 650 verbeter. Dìe Simbrateler van die plaas Leeukop buite Bloemfontein is ’n tevrede boer en sien uit na 2023.
Meer oor Richter Simbras
Richter Simbras is in 1999 geregistreer. Diere vir die stoet is uit ’n goed gevestigde Brahman- en Simmentaler-stoete, wat eers deur Richter se oupa, Chris, en toe sy pa, Jan, bedryf is, gekies. Nadat hy sy studies aan Stellenbosch Universiteit voltooi het, het hy die stoetbestuur, waar finansiële bestuur die kern van die onderneming vorm, oorgeneem.

Die stoet streef daarna om geharde, produktiewe beeste te teel, en daarom is die vrugbaarheid en strukturele korrektheid van hulle diere ononderhandelbaar. Die stoet het elke jaar beeste van uitnemende kwaliteit en waarde tydens hul produksieveiling beskikbaar. – Saamgestel deur Renate Louw, AgriOrbit
Besoek gerus Richter Simbras se webblad by www.richtersimbras.co.za of volg hulle Facebook-blad.
Lees ‘n ander artikel oor Simbras:Top diere op Hoogland Simbra- en Simmentaler-studiegroep Jongbulskou.