Thursday, September 12, 2024
HomeMagazinesRensbou Ankoles: Perfeksie is die enigste opsie

Rensbou Ankoles: Perfeksie is die enigste opsie

Estimated reading time: 7 minutes

  • Dail van Rensburg, eienaar van die Rensbou Ankole-stoetery tussen Delareyville en Stella in Noordwes, is na meer as twee dekades een van die voorste Ankole-stoettelers in die land.
  • Dié gesogte beesras, wat bekend is vir sy majestueuse horings, het aanvanklik Dail se belangstelling gewek in die laat 1980’s.
  • Die Ankole, wat goed aangepas is vir warm toestande, se gehardheid en vermoë om in strawwe omgewingstoestande te gedy is ’n waardevolle eienskap, sê van Rensburg.
  • Van Rensburg ondervind dat die Ankole se horings, veral in tropverband, ook dien as ’n goeie afskrikmiddel teen wilde diere en ander indringers.
  • Uit ondervinding glo van Rensburg dat Afrika-beesrasse, veral soos die Ankole, ’n belangrike rol het om te speel in die Suid-Afrikaanse beesbedryf.

Dail van Rensburg, eienaar van die Rensbou Ankole-stoetery tussen Delareyville en Stella in Noordwes, kan met reg ingenome wees oor wat hy al met dié taai Afrika-ras, oorspronklik afkomstig van Uganda, bereik het. Hy is na meer as twee dekades een van die voorste Ankole-stoettelers in die land en is heel beskeie oor die feit dat sy gesogte stoet al verskeie eerbewyse ingepalm het.

Read it in English.

Dail het hom in 1983, ná sy universiteits en weermagopleiding, by sy pa, Boetie, aangesluit. Sy pa het in daardie stadium reeds ’n gevestigde gemengde boerdery gehad. Ná sy pa se afsterwe het hy die leisels oorgeneem en vandag bedryf hy ook Santa Gertrudis- en Romagnola-stoeterye, kommersiële beeste, ’n plaasvoerkraal en ’n saaiboerdery bestaande uit mielies, sojabone en sonneblom. Sy passie en trots is egter duidelik sigbaar wanneer dit by sy Ankole-stoet kom.

Ankoles vang die oog

Dié gesogte beesras, wat bekend is vir sy majestueuse horings, het aanvanklik Dail se belangstelling gewek toe hy in die laat 1980’s vir die eerste keer Ankole-beeste by die Bloemfonteinse dieretuin onder oë gekry het. “Ek was so verbaas. Die ras het my geprikkel en ek het daar en dan besluit dat ek graag eendag van hierdie beeste wil hê.”

Dit was in daardie stadium die ras se indrukwekkende horings en sigwaarde wat hom beïndruk het. So gesê so gedaan, en in 2001 het Dail sy Ankole-stoetery begin. Sy kudde het aanvanklik uit koeie, verse en bulle bestaan en hy het later in 2017 die bul, Sugar Daddy, tydens ’n Thaba Nyoniveiling aangekoop. Vandaar het Dail oor die jare al verskeie bulle van hierdie stoetery, wat aan president Cyril Ramaphosa behoort, aangekoop om sy kudde op te bou en terselfdertyd suiwer te hou en inteling te verhoed.

Lees meer oor biosekuriteit op veeplase.

Uitstaande eienskappe

In sy strewe na perfeksie en om ’n goeie vleisbees uit sy Ankole-kudde te teel, sê Dail hy is ná 22 jaar in die Ankole-bedryf by tye steeds verbaas oor waartoe sy kudde in staat is. Dié gesogte ras se groot horings, waardeur bloed vloei en die diere afkoel, en bouvorm het hom aanvanklik aangetrek, maar verskeie ander raseienskappe het oor die jare begin uitstaan.

Die Ankole, wat goed aangepas is vir warm toestande, se gehardheid en vermoë om in strawwe omgewingstoestande te gedy is ’n waardevolle eienskap, sê Dail. Sy kudde het ook goeie siekteweerstand, veral ten opsigte van vrotpootjie wat in die somermaande ’n groot uitdaging in dié gebied kan wees. Boere het met die afgelope twee jaar se hoë reënvalsyfers probleme ondervind met dié siekte, omdat die vel bo die dier se kloutjies sag word weens die nat gras; met die geringste steek van ’n doring veroorsaak dit dan swelling en ontsteking in die poot. “Ek vermoed die vel bokant die hoefkroon van die Ankole is dikker of van so ‘n aard, dat hulle nie maklik vrotpootjie kan opdoen nie.”

Dail sê sy kudde is ook redelik bestand teen bosluisverwante siektes. Daarbenewens ondervind koeie boonop geen kalwings- of voorgeboortelike probleme nie. Dít, saam met vrugbaarheid, goeie karkas- en moedereienskappe, klein kalwers en kalfgemak, vergemaklik die bestuur van sy kudde wat onder ekstensiewe toestande produseer.

Dail ondervind dat die Ankole se horings, veral in tropverband, ook dien as ’n goeie afskrikmiddel teen wilde diere en ander indringers. Wanneer ’n trop bedreig word bly die beeste bymekaar. Hy glo weens dié eienskap, wat oor ’n tydperk van baie jare in die ras ingeteel is, word sy Ankole-kudde wat op van sy ander plase in hoëdiefstalrisikogebiede is, nie geteiken nie.

Ideaal vir kruisteel

Dail sê die Ankole is ook geskik vir kruisteeldoeleindes ten einde meer geharde en siektebestande vroulike diere met meer vleis te teel, wat onder strawwe weidingsomstandighede goed vaar. Hy meen dis ’n goeie opsie om ‘n Ankole-bul eenmalig by ’n bestaande koeikudde van ‘n ander beesras te sit, of om soos hy, ’n poena Santa Gertrudis-bul by ’n groep Ankolekoeie te sit.

Die eindresultaat was dat baie van die kalwers reeds poena en gehard was, en goeie karkaseienskappe gehad het.

Streng seleksiedoelwitte

Benewens die Ankole se goeie raseienskappe lê Dail se antwoord tot sukses daarin dat hy diere uit die staanspoor deur middel van streng seleksiedoelwitte reg teel. Hy selekteer deurlopend vir temperament en met die speen van kalwers vanaf sewe maande, word diere met ‘n ongewenste temperament uitgeskot. Dit dra daartoe by dat sy beeste mak is.

Hy selekteer ook vir vrugbaarheid en gereelde vroeë kalwing, en glo sy kudde is in dié verband uniek in die sin dat verse se eerste kalwing op twee jaar en vyf maande begin. Sy vroulike diere se liggaamskondisie speel hier ‘n groot rol, juis omdat hy vir goeie kondisietelling en karkaseienskappe selekteer. “Daar moet ’n definitiewe balans wees tussen die dier se horing en karkas.” Dail sê danksy die feit dat hy al in 1983 met Santa Gertrudis-beeste begin stoet het, het hy vroeg besef dat ’n teler voortdurend ’n goeie balans met vleisbeeste moet handhaaf en na goeie aspekte soos vrugbaarheid en vleiseienskappe moet let. Dit is ook sy benadering ten opsigte van sy Ankole-stoet. “Jy moet ’n bees teel met goeie horings en vleiseienskappe wat boonop ’n goeie kondisietelling kan handhaaf.”

Dail se uitgangspunt in dié verband is dat ’n dier wat homself nie in die veld kan handhaaf nie, ook nie gereeld sal kan kalf nie. Kondisietelling word bepaal deur na vetbedekking oor die lyf (ribbes en oor die rug) te let. “As weidingsomstandighede gunstig is, moet ’n bees in goeie liggaamskondisie wees, want as dit goed gaan en ’n bees is steeds skraal dan gaan daardie koei ongereeld kalf, want haar kondisie is nie optimaal nie.”

’n Kommersiële teikenmark

Dail teiken die kommersiële mark en verkoop van sy stoetdiere vir vleisdoeleindes uit die hand. Terselfdertyd lewer hy ’n bydrae tot die uitbreiding van dié ras in Suid-Afrika. Hy bied ook vanjaar op 5 Augustus in Frankfort sy eerste produksieveiling saam met Francois Coertsen van Parys aan. Van Dail se Ankole-bulle, -koeie en -verse asook Romagnola’s word te koop aangebied.

Dail glo die Ankole voeg beslis winsgewendheid tot die waardeketting. “Dit is wel ’n bees met ’n kleiner karkas, maar dit moet in berekening gebring word dat meer koeie per hektaar aangehou kan word. En om vleisproduksie te verhoog, kan ’n ander vleisbeesras op Ankoles gebruik word, terwyl die vrugbaarheids- en gehardheidseienskappe asook kalfgemak van die Ankole behoue bly.”

Uit ondervinding glo hy dat Afrika-beesrasse, veral soos die Ankole, ’n belangrike rol het om te speel in die Suid-Afrikaanse beesbedryf. “Dit gaan goed met die Ankole-bedryf in die land en getalle neem toe. Ek dink baie mense wil in hierdie ras belê en diere is al hoe meer bekombaar, omdat beesgetalle vermeerder het.” Dail meen die uitdagende omgewingstoestande in Suid-Afrika noodsaak juis dat daar met ’n beesras geboer word wat oor al die uitsonderlike raseienskappe van die Ankole beskik. Daar is gebiede in die land met minder goeie weidingstoestande waarvoor ’n Afrika-beesras aangepas is en kan reproduseer. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting kontak Dail van Rensburg by 082 809 8841 of dail@cluesnet.co.za.

Must Read

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse word weekliks aan u gebring deur Absa en die RPO. Neem kennis dat hierdie nie...