Renostergenetika word gekenmerk deur klein bevolkings, die bewaring van genetiese diversiteit, genetiese bottelnekke en die onvermydelike uitsterwing van sommige subspesies. Alle renosters in die wêreld word bedreig weens grootskaalse stropery as gevolg van die wanopvatting in die Ooste dat die diere se horings medisinale kragte het.

Read it in English.

Renosters word saam met perde en sebras geklassifiseer onder die orde Perissodactyla – diere met ’n onewe aantal tone. Perde en sebras het een toon, terwyl renosters drie tone het. Renosters word dus verder geklassifiseer onder die familie Rhinoceroses, waaronder vyf spesies en verskeie subspesies wêreldwyd voorkom.

Sowat 3 500 eenhoring-renosters (Rhinoceros unicornis) kom in Indië en Nepal voor, terwyl die Javaanse (Rhinoceros sondaicus) en Soematra-renosters (Dicerorhinus sumatrensis) met sowat 100 diere elk as kritiek bedreig geklassifiseer word.

Die skets illustreer die verskille tussen verskillende renosterspesies. (Skets: www.rootingforrhino.org)

In Suid-Afrika kom twee renosterspesies voor, naamlik die witrenoster (Ceratotherium simum) en die swartrenoster (Diceros bicornis). Hoewel daar ongeveer 20 000 witrenosters in Suidelike Afrika voorkom, is hul Cites-status “amper bedreig” as gevolg van die grootskaalse stropery vir hul horings.

Die sowat 5 000 swartrenosters in Afrika word as kritiek bedreig geklassifiseer. Die Ceratotherium- en Diceros-spesies het volgens fossielrekords ongeveer sewe miljoen jaar gelede afgewyk, en daar is tans drie swartrenoster- en twee witrenostersubspesies.

Swartrenosters

Na raming was daar in 1969 ongeveer 65 000 swartrenosters in Afrika. Die bevolking het egter met 96% afgeneem in die volgende 25 jaar, sodat daar teen 1993 slegs 2 475 oor was. Daarna het hulle weer vermeerder, sodat daar teen 2010 weer 4 880 was. Daar is dus tans net ongeveer 5 000 erg bedreigde swartrenosters in Afrika oor. Hulle kom hoofsaaklik in Suid-Afrika (±1 900), Namibië (±1 750), Kenia (±600), Zimbabwe (±400) en Tanzanië (±100) voor.

Vroeër jare het heelwat onsekerheid oor die swartrenoster-subspesies bestaan. Sewe subspesies van swartrenosters is oorspronklik beskryf, maar later is net vier subspesies erken. Tans is net drie subspesies oor, naamlik Diceros bicornis minor (hoofsaaklik in Suid-Afrika), Diceros bicornis bicornis (hoofsaaklik in Namibië) en Diceros bicornis michaeli (hoofsaaklik in Kenia). Die vierde subspesie, Diceros bicornis longipes van Kameroen, het in 2006 uitgesterf.

Radio: Belangrikheid van renostergenetika

Tans behoort amper die helfte van die oorblywende swartrenosters in Afrika aan die subspesie D. b. minor, waarvan die meeste in Suid-Afrika voorkom. D.b. diceros kom hoofsaaklik in Namibië voor, terwyl ongeveer 500 D.b. michaeli in Kenia voorkom. Ongeveer ses D.b. michaeli is in die sestigerjare na die Addo Olifant Park geskuif, waar hulle nou ’n sub-bevolking van ongeveer 60 diere vorm. Hulle het nooit natuurlik hier voorgekom nie, maar dien nou as ’n addisionele genetiese bron. Al drie hierdie subspesies kom in verskeie lande in Afrika voor, asook in dieretuine wêreldwyd.

Tabel 1: Aantal swartrenoster (Diceros bicornis) subspesie-bevolkings.

Subspesie Ekologiese streek Geografiese streek Status Aantal*
D. b. minor

D. b. bicornis

D. b. michaeli

D. b. longipes

Sentraal, suid

Suid, wes

Oos

Noord, wes

Hoofsaaklik Suid-Afrika en Zimbabwe.

Namibië en Suid-Afrika.

Kenia, Tanzanië en Suid-Afrika.

Kameroen en moontlik Tsjad

Kritiek bedreig

Kwesbaar

Kritiek bedreig

Uitgesterf

2 220

1 920

742

*Desember 2010.

 

Klein populasies

Die meeste van Suid-Afrika se swartrenosters (Diceros bicornis minor) is afstammelinge van ongeveer 110 swartrenosters wat in die 1930’s in die Hluhluwe-iMfolozi- en Mkhuze-wildreservate in KwaZulu-Natal was, asook ’n paar renosters wat van Zimbabwe na die Nasionale Krugerwildtuin geskuif is.

Die gevaar van klein bevolkings is dat hulle baie maklik kan uitsterf – byvoorbeeld as gevolg van ’n natuurramp of as hulle gestroop word, maar ook as gevolg van inteling en die verlies aan genetiese verskeidenheid. Die enigste manier om die uitsterf van ’n klein groepie diere te verhoed, is om hulle so vinnig as moontlik te vermeerder en na ander gebiede met ’n geskikte habitat te skuif.

Dit is dan ook sedert die 1960’s en 1970’s met die Hluhluwe-iMfolozi- en die Mkhuze-swartrenosters gedoen, en so is nog swartrenosterbevolkings in die parke in KwaZulu-Natal en elders in Suid-Afrika gevestig. Hulle word dus nou as ’n meta-populasie bestuur, en diere word uitgeruil om inteling te beperk. Die risiko van uitsterwing as gevolg van inteling of stropery kan dus beperk word.

Tans is die Suid-Afrikaanse D. b. minor swartrenosterbevolkings in staats- sowel as privaat besit in Suid-Afrika. Indien van hierdie groepe met uitsterwing as gevolg van inteling bedreig word, kan hulle aangevul word met relatief onverwante diere uit ander groepe.

Vestiging van verskillende lyne

Die bestuur van klein bevolkings is egter redelik kompleks. Die belangrikste is om te probeer om verskillende bevolkings of lyne te vestig en hulle baie goed te monitor. Sou van hierdie bevolkings dan tekens van agteruitgang weens inteling toon deur lae vlakke van vrugbaarheid en min of swak kalwers, kan diere van ander bevolkings ingebring word.

Agteruitgang weens inteling kan in een generasie heeltemal verdwyn deur bloot onverwante diere as ouers te gebruik. Deur die DNS van die verskillende bevolkings te bestudeer, kan bepaal word watter spesifieke diere tussen groepe uitgeruil kan word.

Die genetiese studies behels die bestudering van sogenaamde mikro-satelliete, wat merkers op die DNS van die diere is. Indien die merkers byvoorbeeld grootliks dieselfde is, beteken dit dat daar nie veel genetiese verskeidenheid tussen die diere is nie en hul genetiese diversiteit laag is. Indien die merkers grootliks dieselfde is binne bevolkings, maar verskil tussen bevolkings, kan dit beteken dat die bevolkings eerder apart moet bly en dat hulle miskien eerder as subspesies beskou kan word.

Genetiese vraagstukke

Indien die groepe egter geneties geskei moet bly, kan dit lei tot inteling binne die groep, wat intelingsdegenerasie en moontlik uitsterwing kan veroorsaak. Die genetika van klein bevolkings is dus nie ’n presiese wetenskap nie, en kan tot moeilike vraagstukke met verskillende wetenskaplike antwoorde en menings lei. Verskillende menings bestaan ook oor die bewaring van renosters.

Al behoort die meeste van die oorblywende swartrenosters aan die D. b. minor subspesie, het genetiese mikrosatellietstudies egter getoon dat hulle ook geneties die laagste vlakke van genetiese diversiteit toon in vergelyking met die ander swartrenoster-subspesies. Hierdie lae vlakke van genetiese diversiteit is moontlik deur ’n genetiese bottelnek veroorsaak (hulle stam omtrent almal af van relatief min diere in ’n relatief klein geografiese gebied), of anders was D.b. minor histories nog altyd geneties homogeen.

Indien hulle wel histories, voordat hulle deur die genetiese bottelnek was, ook lae vlakke van genetiese diversiteit getoon het, behoort dit hulle nie soveel te beïnvloed nie. Die ander twee subspesies (D. b. bicornis van Namibië en D. b. michaeli van Kenia) het histories oor baie groter gebiede voorgekom en die die hoër vlakke van genetiese diversiteit kan dalk bloot ’n refleksie wees daarvan.

Karsten en medewerkers voel dat die genetiese diversiteit van D. b. minor nie rede tot kommer is nie, aangesien dit in lyn of selfs hoër is as die waardes wat voorkom by ander groot soogdiere in dieselfde omgewings. Anderson-Lederer het egter ook genetiese diversiteit met mitochondriale DNS-studies ondersoek, en hulle voel dat daar wel rede tot kommer is, aangesien die swartrenosters in die Hluhluwe-iMfolozi-park tekens van intelingsdegenerasie kan begin toon omdat hul reproduksietempo laer is as wat wenslik is.

Witrenosters

Daar is twee witrenoster-subspesies, naamlik die mees algemene suidelike witrenoster (Ceratotherium simum ssp. simum) en die kritiek bedreigde noordelike witrenoster (Ceratotherium simum ssp. cottoni).

Grootskaalse stropery het meegebring dat beide wit- en swartrenostergetalle in Suid-Afrika en in ander Afrika-lande gekwyn het, in sommige plekke reeds tot die punt van uitwissing.

Die suidelike witrenoster het eens wydverspreid in die bosveldgebiede van Suidelike Afrika suid van die Zambesirivier voorgekom. Hulle het egter teen die einde van die 19de eeu amper uitgesterf, toe net een bevolking van ongeveer 20 tot 50 diere in KwaZulu-Natal oor was.

Teen die einde van 2010, ná jare van beskerming en talle verskuiwings, het die bevolking tot meer as 20 000 diere gegroei, waarvan meer as 90% steeds in Suid-Afrika voorkom. Die suidelike witrenoster kom ook in Namibië, Kenia, Zimbabwe, Botswana en Swaziland voor, met enkele diere in ander lande. Die meeste van Suid-Afrika se witrenosters kom in die Krugerwildtuin voor, met ongeveer 25% in privaatbesit in 2010.

Grootskaalse stropery

Die suidelike witrenosters het egter ook soos die swartrenosters deur ’n genetiese bottelnek gekom, omdat al 20 000 diere in werklikheid afstammelinge van die 20 tot 50 diere in KwaZulu-Natal is. Verder word hulle tans deur ’n grootskaalse stropery vir hulle horings bedreig.

Hoewel daar ’n paar jaar gelede nog enkele wilde noordelike witrenosters in ’n park in die Demokratiese Republiek van die Kongo was, kon hulle sedertdien glad nie opgespoor word nie en word algemeen aanvaar dat hulle in die natuur uitgesterf het.

Colin Groves het in 2010 ’n artikel gepubliseer in die vooraanstaande PLOS Journal, wat ’n saak probeer uitmaak om die noordelike witrenoster-subspesie tot ’n aparte spesie van die suidelike witrenoster te laat verklaar. Ander wetenskaplikes het egter van hom verskil, hoofsaaklik omdat dit tegnies van akademiese belang is – die noordelike witrenoster is kritiek bedreig en gaan uitsterf.

Teen November 2015 was nog net drie noordelike witrenosters (’n bul en twee koeie) oor. Hulle het aan die Dvůr Králové Dieretuin in die Tsjeggiese Republiek behoort, maar is na die Ol Pejeta Conservancy in Kenia geskuif, waar hulle 24 uur per dag deur gewapende wagte opgepas word. Hierdie renosters is prakties onvrugbaar – die vraag is nou eerder of en hoe met spesiale tegnieke van hierdie noordelike witrenoster-gene bewaar moet of kan word.

Swartmark vir renosterhoring

Hoewel renostergetalle suksesvol vermeerder is en oor die algemeen toeneem as gevolg van voortgesette bewaring, is die swartmark vir renosterhoring ’n groot bedreiging vir hulle voortbestaan. Die suidelike witrenoster is op die oomblik die talrykste subspesie, met 20 000 diere wat hoofsaaklik in verskillende bevolkings in Suid-Afrika en in buurlande voorkom. Die noordelike witrenoster gaan uitsterf.

Swartrenoster-getalle is heelwat minder, met ongeveer 5 000 diere in totaal. Hier is drie subspesies nog aktief – een hoofsaaklik in Suid-Afrika met ongeveer die helfte van die diere, een in Namibië met amper die helfte van die diere en die oostelike swartrenoster in Kenia, met ongeveer 500 diere. Die vierde subspesie het so onlangs as 2006 uitgesterf. Al drie die oorblywende subspesies het bevolkings in verskillende lande, wat hopelik hul bewaring sal verseker.

Daar is ook organisasies wat hulle beywer vir die bewaring van renosters. Die Universiteit van Pretoria het reeds die inligting van meer as 15 000 renosters en hulle DNS-besonderhede op hulle RhODIS-databasis (Rhino DNA Index System) geberg, en hierdie inligting is al suksesvol gebruik om stropers mee tronk toe te stuur.

Daar is lae vlakke van genetiese diversiteit binne D.b.minor, wat hoofsaaklik in Suid-Afrika voorkom, maar die voordeel is egter dat dit bekend is en bestuur kan word om die renoster se voortbestaan – ten spyte van die aanslag teen hulle – te verseker. – Helena Theron, SA Stamboek

Vir meer inligting, kontak die outeur by epos helena@studbook.co.za

 

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY