Monday, October 3, 2022

Rekordpryse vir Ile de France dui op gehalte diere

Estimated reading time: 3 minutes

Doelgerigte en gesamentlike pogings om hoogstaande gehalte Ile de France-skape aan die mark te lewer is geslaagd en is duidelik sigbaar in die goeie pryse wat stoet- en kommersiële ramme en ooie op veilings behaal.

Stefan Conradie, president van die Ile de France-genootskap, sê ten opsigte van rasgetalle kan dié skaapras nog nie met ander rasse kompeteer nie. Alhoewel, as dit by die beskikaarstelling van topgenetika kom, beweeg dié genootskap beslis vorentoe. “Ons is opgewonde om te sien hoe die ras ook begin groei in terme van getalle.”

Dit kom nadat ‘n nuwe Suid-Afrikaanse rekordprys onlangs vir ‘n Ile de France-stoetram losgeslaan is. BS 190120 van Hageland Ile de France (Pty) Ltd, het R120 000 op hul tweede jaarlikse Jakaranda Ile de France-veiling by die Fire en Wine-arena in Pretoria behaal. Die koper was Vaughan Olckers van die Solstice Stud Farm naby Vanderbijlpark in Gauteng. Die vorige rekordprys vir ‘n Ile de France-stoetram was R105 000.  

Lees meer oor Vleissentraal se aangepaste veilingsskedule hier.

‘n Suksesvolle veiling

Beide Mark Gietzmann en Flip de Bruyn, eienaars van Hageland Ile de France, is baie tevrede met dié rekordprys asook die konstante pryse wat ramme en ooie op die veiling behaal het. Hageland bestaan uit ‘n stoet- en kommersiële kudde en word onderskeidelik intensief in Klerksdorp en semi-intensief in Fochville bedryf.

Gietzmann en De Bruyn het dié veiling saam met Corné Els van die Jancor Ile de France-stoetery naby Amersfoort, Mpumalanga, aangebied. Corné du Plessis van CDP Afslaers was die afslaer. Gietzmann sê BS 190120 is drie jaar oud en kom uit ‘n bewese stamboom. Sy “absolute teenwoordigheid” staan uit en hy is in terme van bouvorm in ‘n ander klas.

Olckers sê dit is vir hulle ‘n voorreg om in dié top gehalte ram te kan belê en hy is beslis ‘n aanwins vir hul kudde. Die tweede hoogste prys vir ‘n Hageland-stoetram op dié veiling was R90 000. Die kopers was Nicolai Raubenheimer en Jan Coetzee van J2 Ile de France naby Durbanville in die Wes-Kaap. Twee afsonderlike Hageland-ooie is vir R20 000 elk aan onderskeidelik Arrie Klopper van Dorsland Vleis en Stoet, en Phillip en Luan van der Walt verkoop.  

Verbetering in rasgehalte

Conradie sê dié rekordpryse wat deur Ile de France-diere op veilings behaal word is ‘n duidelike weerspieëling van die algehele verbetering van dié ras in Suid-Afrika. Telers lewer goeie genetika en saam met streng seleksie dra dit daartoe by dat meer mense nou in die ras belê. “Dié pryse is vir ons baie goeie nuus, want dit beteken die wyer skaapboerderybedryf begin erkenning gee aan dít wat die genootskap besig is om te doen.” Conradie sê dié goeie pryse is verder ook ʼn veertjie in die hoed van Hageland en ander telers. Die genootskap komplementeer hulle vir die gehalte diere wat hulle aan die mark beskikbaar stel.

Vir meer inligting kontak Mark Gietzmann by 083 278 7784 of mark@hageland.co.za of Flip de Bruyn by 082 557 9978 of flip@hageland.co.za of June Wiid by die Ile de France-genootskap by 051 410 0900 of iledefrance.co.za. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Related Posts

Weeklikse plaashek-rooivleispryse / Weekly farm gate red meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Die jongste vleispryse word...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Hydroponic feed for intensive sheep production

Academics around the world tend to reject hydroponic feed...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Ivermektien: Veilig vir dier én mens?

Estimated reading time: 4 minutes Die potensiaal van ivermektien...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...