In ‘n reeks artikels wat deur die loop van 2016 in Veeplaas gepubliseer is, skryf Hans-Jurie Moolman van Moolman & Pienaar Ingelyf oor ‘n verskeidenhied regskwessies wat vir die landbouers van belang is. AgriOrbit deel dié reeks artikels in die komende week. Die volgende artikel is in die Maart 2016-uitgawe van Veeplaas gepubliseer

“Dit is bekend dat Suid-Afrikaanse howe normaalweg kostebevele toestaan teen ’n party wat ’n saak verloor. Die doel daarvan is om aan die suksesvolle party in ’n saak die regshulp te verleen wat in ’n dagvaarding of hofaansoek gevra word, asook om tot ’n mate die suksesvolle party te vrywaar van die regskoste wat aangegaan moes word om suksesvol die hof se ingryping by die dispuut te verkry.

In die geval van dispute oor verblyf, het die Grondeisehof van Suid-Afrika sedert sy ontstaan afgewyk van bogenoemde beginsel en staan as ’n reël nie kostebevele ten gunste van ’n suksesvolle party toe nie. Die uitsondering tot die Grondeisehof se benadering rakende koste vind plaas waar die hof wel kostebevele toestaan om afkeer te toon oor die gedrag van een van die partye in ’n geding, en meer spesifiek die wyse waarop ’n party sy saak sou aanvoer.

Hulpbehoewende plaasbewoners

Die Grondeisehof se benadering oor regskoste is behoorlik gemotiveer in regspraak en die aanvanklike onderliggende redes was geskoei op die veronderstelling dat kostebevele teen plaasbewoners onbillik sou wees. Hierdie veronderstelling berus op die feit dat die meeste plaasbewoners hulpbehoewend is wanneer ’n geding gevoer word en dat kostebevele hierdie teikengroep sal ontmoedig om op hul regte aan te dring.

Litigasie in die Grondeisehof is ook op ’n meer filosofiese vlak gesien as litigasie wat die sosiale belang dien. Partye moet ook ten opsigte van die ontwikkeling van die reg, op hierdie gebied, nie ontmoedig word om die reg te help uitbrei nie.

In ’n land waar gelykheid voor die reg deel is van ons Grondwet se fundamentele regte, kan bogenoemde benadering verstaan en verdedig word en behoort dit gehandhaaf te word, indien die posisie van bogenoemde veronderstelde ongelyke toegang tot regsverteenwoordiging staties gebly het.

Toegang tot regsverteenwoordiging

Die werklikheid is egter dat die Grondeisehof se posisie staties gebly het, terwyl die kwessie van toegang tot regsverteenwoordiging drasties verander het. Die staat het sedert 1994 drastiese stappe gedoen om bogenoemde ongelykheid buite die howe reg te stel deur nie alleen toeganklikheid tot regsverteenwoordiging te verbeter nie, maar ook om die gehalte van regsverteenwoordiging in hierdie sake te verbeter. Tans word litigasie namens plaasbewoners deur die staat gefinansier en word gebruik gemaak van ’n paneel private regsfirmas in hierdie sake.

Die meganisme wat die staat ingestel het, het nie die posisie in die howe verander nie. Grondeienaars wat nie ook toegang het tot staatsgeld vir litigasie nie, vind dit toenemend moeilik om regsgedinge soos hierdie uit hul eie hulpbronne te finansier, terwyl die opponente tot hierdie sake bewapen is met staatsgeld en geen risiko loop om in die voer van ’n saak sonder meriete ’n kostebevel op die lyf te loop nie.

Vrae is onlangs in die Parlement aan die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming gerig oor die finansiering van verblyfdispute en die volgende insiggewende antwoorde is bekom:

  • ’n Totale hoeveelheid van 1 145 sake is hanteer.
  • Die staat het ’n gemiddelde bedrag van R57 284,34 per saak bestee.
  • Die staat en plaasbewoners het in 134 sake sukses behaal (in die opsig dat die hof teen grondeienaars beslis het).

Uit bogenoemde antwoorde kan bepaalde afleidings gemaak word wat kommer wek en ’n verwronge prentjie skets van wat veronderstel is om ’n stelsel te wees wat gelykheid voor die reg en geregtigheid bevorder:

  • Bykans R65 miljoen openbare geld is aan hierdie sake bestee.
  • Uit die totale bedrag wat bestee is, het slegs R7 676 101,56 sukses vir die staat opgelewer.
  • In verhouding dui bogemelde bedrae op 12% sukses en 88% mislukking.

Indien op ’n veronderstelling gewerk word dat die staat se opponente in hierdie sake (grondeienaars) hul sake uit hul eie fondse moes finansier, wys bogenoemde inligting daarop dat miljoene rande bestee moes word om sake sonder meriete sake te beveg. Daarmee saam, en met verwysing na die Grondeisehof se benadering tot kostebevele, bring hierdie benadering nie gelykheid voor die reg en geregtigheid mee nie.- HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf, Veeplaas Maart 2016″

Vir meer inligting, kontak HJ Moolman by 018 297 8799, 018 297 0397 of hj@mmlaw.co.za.

Vorige artikels in die reeks:

Oorbeweiding deur plaasbewoners se vee

Sien geleentheid in die dilemma van grondhervorming

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY