Die buitengewoon hoë reënval in die somerreënvalgebied het plek-plek groot skade aan graanaanplantings aangerig. As daar egter na die groter prentjie gekyk word, is ons nie bekommerd oor ’n nasionale krisis nie, sê Pieter Taljaard, hoof uitvoerende beampte van Graan SA.

“Met al die hartseer en skade op sommige plekke, lyk die situasie oor die algemeen goed en hoewel dit nog vroeg in die seisoen is, is dit veilig om te sê dat daar vir die 2021/22-seisoen ’n gemiddelde somergraan-oes verwag kan word.”

Hy sê die bedryf sit steeds met ’n groot oordragvoorraad wat uitgevoer moet word. “Kommer oor die reënskade moet nie die mielie-uitvoer stop nie. Die huidige pryse is op goeie vlakke en kan boere met misoeste help om deur die krisis te kom.”

Nat misoes erger as droë misoes

Taljaard sê ’n mens moet altyd onthou dat ’n nat misoes sielkundig baie erger is as ’n droë misoes. Hy en Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, het verlede Vrydag en Saterdag gebiede besoek wat erg deur die reën en hael geraak is. Ook boere naby Hoopstad waar die hael en verspoelings twee weke gelede groot skade aangerig het.

“Een van die boere wat ons besoek het, het alles verloor, maar ten spyte daarvan is dit bemoedigend om te sien dat die boer en ook ander wat erg deurgeloop het, die skade aanvaar en reeds planne maak om dit te oorkom. Dit wys hoe sterk hul geloof is. Hulle bly hoop,” sê Taljaard.

“’n Klomp van die boere moet nou net deur hierdie seisoen kom. Daar is individue wat alles wat hulle geplant het, verloor het. Die kanse dat hulle kan oorplant is skraal, want daar is net ’n week oor om te plant en die gronde is deurnat.”

Daar is wél prentjiemooi aanplantings

Taljaard sê die kort en die lank is dat daar baie skade is, maar dit wissel van gebied tot gebied. Daar is egter ook baie mooi graan.

“As Schweizer-Reneke as voorbeeld geneem kan word: in totaal is 20% van die aangeplante hektaar in die gebied blootgestel, waarvan 10% weg is en die ander 10% se lot oor die volgende twee tot drie weke deur die weer bepaal sal word. Die ander 80% is egter uitstekend en bo-normaal.”

By Wesselsbron kan die reënskade aan die totale aanplantings nader aan 60% wees, maar daar is ook dele waar die mielies, sonneblom en soja’s prentjiemooi is, sê hy.

Kommer oor paaie

Buiten die skade aan direkte insette en oeste, sit sommige boere ook met skade aan infrastruktuur. Dit is ’n groot probleem, sê Taljaard.

“Daar is plekke waar tersiêre en sekondêre paaie tot 2m diep weggespoel het. Die paaie moet dringend reggemaak word omdat graan oor ’n paar maande op hierdie paaie na die silo’s uitgery moet word. Die boere het nie die kapasiteit om hierdie paaie te herstel nie.” – Hugo Lochner, AgriOrbit