Francois Engelbrecht, navorsingsgroepleier en hoofnavorser in klimaatstudies, modellering en omgewingsgesondheid by die WNNR, skryf op www.nwk.co.za dat die reënseisoen nou by ’n kruispad staan en na enige kant toe kan gaan.

Die positiewe aspek van El Niño-gebeurtenisse is dat ons goeie vooruitsigte het om die uitwerking daarvan af te wag, wat beteken dat produsente kan beplan om hierdie impak te verlig sover as wat dit moontlik is. Teen die einde van die somer van 2016/17, in die teenwoordigheid van ’n swak La Niña-gebeurtenis wat maklik tot ’n neutrale toestand kan verswak, moet ons daarop let dat klimaatswetenskap tans nie duidelike leiding ten opsigte van reënvalverskynsels in die komende somertydperk kan gee nie.

Sulke seisoene het in die verlede dikwels met feitlik normale reënval gepaardgegaan, maar dikwels ook met droogte of baie goeie reënval oor die provinsies. Dit is dus ’n seisoen waar die landbousektor so ver as moontlik moet beplan vir ’n seisoen wat óf goed óf sleg kan wees ten opsigte van totale reënval.

Kan ons in die somer ’n goeie reënvalseisoen verwag?

Eerstens moet daarop gelet word dat die 2016 La Niña waarskynlik ’n swak gebeurtenis sal wees. Teen die middel van September 2016 was die gemiddelde see-oppervlaktemperatuur van die belangrikste deel van die sentrale tot oostelike Stille Oseaan, die sogenaamde Niño 3,4-streek, byna op die drempel van -0,5°C, wat die teenwoordigheid van ’n swak La Niña-gebeurtenis aandui.

Die meeste klimaatsmodelvoorspellings, byvoorbeeld dié wat deur die Internasionale Navorsingsinstituut in New York versprei word (http://iri.columbia.edu/our-expertise/climate/enso/current), dui daarop dat die La Niña-gebeurtenis aanvanklik swak sal bly, en dat aanvaar kan word dat dit in die somer van 2016/17 verder tot ’n neutrale toestand sal verswak.

Wat is die implikasies van ’n swak La Niña-gebeurtenis vir somerreënval in Suider-Afrika? Waar gemiddelde somerreënval-totale (Desember tot Februarie) oor Noordwes en die Vrystaat vergelyk word met see-oppervlaktemperature (tydperk van Oktober tot Desember) in die Niño 3,4-streek, soos in die tydperk 1901 tot 2013 waargeneem is, word aangedui dat die meeste El Niño-gebeurtenisse (Niño 3,4-see-oppervlaktemperatuur-anomalieë wat gemiddeld hoër as 0,5 °C is) met laer-as-normale reënval oor die twee provinsies geassosieer word, terwyl die meeste La Niña-gebeurtenisse (Niño 3,4-see-oppervlaktemperatuur-anomalieë gemiddeld laer as -0,5 °C) met bonormale reënval geassosieer word.

Vir neutrale jare (see-oppervlaktemperature tussen -0,5 °C en 0,5 °C) was reënval oor die twee provinsies dikwels byna normaal, maar soms ook beduidend laer as normaal of hoër as normaal. Klimaatstatistiek kan dus nie enige duidelike leiding verskaf oor wat om in die komende somer ten opsigte van reënvalverskynsels oor die Vrystaat en Noordwes te verwag nie.

Soos vroeër genoem word, is numeriese klimaatsmodelle tydens neutrale toestande in die Stille Oseaan ook nie so vaardig om tussen nat en droë somers oor die binnelandse streke van Suid-Afrika te onderskei nie. – Francois Engelbrecht van die WNNR vir NWK

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY