Estimated reading time: 2 minutes
Die rand het gedurende die eerste helfte van Augustus krag verloor, maar het tot ‘n mate herstel soos die maand verloop het. Die rand het teen onderskeidelik R18,84 en R20,43 teenoor die Amerikaanse dollar en die euro gesluit.
Beide die verbruikersprysindeks (VPI) en die produsenteprysindeks (PPI) het in Julie skerp gedaal. Die VPI het na 4,7% (jaar-op-jaar) gedaal en die PPI na 2,7% (jaar-op-jaar). Die prima-uitleenkoers staan steeds stil op 11,75% .
Die geelmielieprys ry op die oomblik wipplank, maar beweeg redelik sywaarts. Die prys het ‘n hoogtepunt van R3708/ton bereik, maar het na die einde van die maand toe teruggesak en teen R3577/ton gesluit.
Die nuwe wolseisoen het op ‘n laagtepunt begin en het verder krag verloor na die tweede en derde veiling vir maand, ongeag die feit dat die aanbod van bale nie baie hoog was nie. Alhoewel daar sterk kompetisie was tussen kopers het die Australiese mark ook verswak en saam met die rand wat versterk het, het pryse gedaal.
Lees meer oor weimielies op die veeplaas hier.
Die aanwyserprys vir gesertifiseerde skoonwol het in Augustus teen R162,10/kg gesluit. Die bokhaarveilings het ook weer begin, maar ook op ‘n laagtepunt weens die styging van rentekoerse in Europa. Die aanwyserprys vir die veiling was R334,69/kg.
Beeskarkaspryse het tydens Augustus taamlik sywaarts met ‘n klein styging beweeg. Die maand het teen ‘n gemiddelde A2-prys van R53,14/kg, `n B2-prys van R49,51/kg en `n C2-prys van R46,36/kg afgesluit. Die speenkalfprys was uiters stabiel in Augustus en die verwagting is dat dit so gaan bly vir die volgende paar weke. Die gemiddelde prys het teen R34,47/kg gesluit.
Skaapkarkaspryse het tydens Augustus met ‘n gemiddeld van omtrent R4,00/kg gedaal. Die A2-prys het teen R85,48/kg gesluit, die B2-prys teen R62,71/kg en die C2-prys het ook tot en met R62,65/kg verswak. Die gemiddelde speenlampryse is ook op ‘n sterk afwaartse tendens en produsente kan net hoop dat dié tendens binnekort sal omswaai. Die gemiddelde speenlamprys het teen R39,22/kg gesluit.
Die prys van klas O-varkkarkasse (Figuur 1) is besig om volgens verwagting te styg hoe nader ons aan Desember kom, maar dit is wel vinniger as vorige jare. Die prys het die maand teen R33,02/kg afgesluit. – Hannes Venter en prof Frikkie Maré, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat