James Kean by sy trop melkbeeste.

Langtermyn volhoubaarheid behoort voorrang in elke boer se gedagtes te geniet. ’n Mens behoort in staat te wees om ongunstige omstandighede te weerstaan, wat beteken dat jy veerkragtig is. Veerkragtigheid is egter afhanklik van die hoeveelheid maatreëls wat ’n mens in goeie tye instel om jou in staat te stel om in moeilike tye te oorleef.

Verskeie faktore beïnvloed egter die langtermyn volhoubaarheid van ’n boerdery-onderneming. Volgens James Kean, ’n melkboer van Mooirivier in KwaZulu-Natal en voorsitter van die Upper Midlands Agricultural Transformation Initiative (Umati), sluit dit internasionale politiek, klimaatsveranderinge en plaaslike politiek in.

Hy sê die politieke situasie in Suid-Afrika is ongelukkig plofbaar en onvoorspelbaar, wat dit baie moeilik maak om voorbereid te wees. Een feit kan egter nie betwis word nie, en dit is dat die welstand van kommersiële boere toenemend sal afhang van die aantal suksesvolle swart kommersiële boere wat hulle help om hulself in hul distrik te vestig.

“Indien ons as wit boere in hierdie streek wil floreer en landbou tot almal se voordeel wil bevorder, is dit noodsaaklik dat ons soveel as moontlik swart boere moet help om ook voorspoedig te wees. As ons dit nie doen nie, sal die streek onstabiel raak en landbou sal toenemend minder produktief raak.”

Sosio-ekonomiese ontwikkeling

Umati is gevorm om hierdie uitdaging die hoof te bied. Umati is ’n gesamentlike onderneming deur die Mooi-Mpofana Landbouvereniging, Kamberg-vallei Vereniging and Nottingham Road Grondeienaarsvereniging, in samewerking met die Mpofana-munisipaliteit.

In ’n neutedop is Umati ’n nie-winsgewende organisasie met die doel om transformasie in die landbou- en toerismesektor te bevorder, waar kommersiële boere sosiaal-ekonomiese ontwikkelingsinisiatiewe mentor en bevorder om mense van verskillende rasse en inkomstegroepe in die Hoër Middellande-gebied te bevoordeel.

James benadruk dat Umati ’n fasiliteerder is wat die rolspelers in verskeie projekte bymekaarbring. Die fokus is op vennootskappe tussen die plaaslike gemeenskappe om ’n beter lewe vir almal te bewerkstellig. Die huidige projekte wat Umati hanteer, het betrekking op suiwel, beesvleis, gewasse, groente, varke, ruiterkuns, toerisme, hernubare energie en inheemse plante.

Onderwys en infrastruktuur

“Ons glo twee van die kernbeginsels vir die bereiking van ons doelwit om ons streek te stabiliseer, is onderwys en die ontwikkeling van infrastruktuur. Kortliks kom dit daarop neer dat ons op die ontwikkeling van voornemende jong boere moet fokus. Net so moet ons die besproeiingskapasiteit van die streek verhoog deur meer damme te bou as ons wil hê dat hierdie nuwe boere suksesvol produktief moet wees.”

Planne vir twee damme in die boonste dele van die Klein Mooi- en Hhlatikuluriviere word tans gefinaliseer, terwyl ’n aantal kleiner damme vanaf die hoofrivier ook vir ontwikkelende boere beplan word. Dit sal help met die verskaffing van water aan afgeleë huishoudings en vee.

“Verskeie inisiatiewe is aan die gang wat onderwys betref. Behalwe student-internskappe op plase, is daar ook leerlingskappe vir ons personeel en hul kinders, waar ons beplan om verskillende SETA-kursusse te ontwikkel om relevante kwalifikasies te struktureer. Ons kry ondersteuning hiermee van organisasies soos die Melkprodusente-organisasie.”

James (regs) saam met Ndjabula Gumede, een van die studente wat vir hom werk.

Tersêre opleiding

Umati en sy lede ondersteun ook ses leerlinge by Weston Landboukollege in Mooirivier. Die idee is dat hulle elke jaar ’n aantal nuwe leerlinge gaan ondersteun, sodat mettertyd al hoe meer studente deur Umati ondersteun word.

“Indien ons hierdie kinders op skool en tydens hul tersiêre opleiding kan ondersteun, asook om op plase hul internskap te doen en praktiese ervaring op te doen, sal daar groot vordering wees in die vestiging van die volgende geslag boere in ons streek wat tot volhoubaarheid sal bydra.”

James sê Umati dra reeds meer as ’n halfmiljoen rand per jaar tot onderwys by.

’n Nuwe generasie boere

Die boere wat deel is van Umati neem die opvoeding van ’n nuwe geslag boere baie ernstig op en stel baie belowende jong mense aan om hulle aan ’n lewensvatbare werkomgewing bloot te stel. Hulle werk in samewerking met verskeie opleidingsinstellings, sowel as die Future Farmers-inisiatief van Judy Stuart in Howick.

Die oorheersende eienskap waarna James in die studente soek, is dat hulle ná hul aanstelling ’n positiewe houding sal hê om hard te werk. “Ons is op soek na mense wat bereid is om ekstra moeite te doen om suksesvol te wees. Melkboerdery is uiters veeleisend en nie iets waar ’n mens die ligte smiddae vyfuur kan afskakel en huis toe gaan nie. Dus het ons mense nodig wat die wil en toewyding het om hul take te voltooi, ongeag watter tyd van die dag of nag dit is.”

James het op die oomblik vyf van hierdie studente in diens. Een van hulle, Ndjabula Gumede, berei homself voor om volgende jaar met die hulp van Future Farmers, Australië toe te gaan en sy opleiding verder te verbreed deur daar op plase te werk.

James se seun, Thomas, en ’n student, Mpathwenhne Dlamini, wat heeltyds vir die Keans-familie werk.

Klimaatsverandering

James sê behalwe die politieke situasie, is klimaatsverandering ook ’n groot uitdaging vir langtermyn-volhoubaarheid. “Dit is een ding om veerkragtig te wees tydens ’n korttermyn-droogte. Daarteenoor bring klimaatsverandering totaal ander uitdagings.

“Klimaatsverandering het die potensiaal om ’n melkboer wat van weiding afhanklik is, se hele boerdery om te keer. Langtermyn-volhoubaarheid hang af van hoe ’n mens jou boerdery kan aanpas sodat dit steeds optimaal funksioneer in veranderende klimaatstoestande. Een van die grootste uitdagings is byvoorbeeld om seker te maak dat jou weidings by ’n veranderende klimaat aangepas is, en multi-spesie weidingsgewasse vorm ’n belangrike komponent.

“Umati het met die Worldwide Fund for Nature kragte saamgesnoer in ’n poging om die doeltreffendheid van besproeiing te verbeter en kunsmisverbruik te verminder. Die tipe koei wat ’n mens melk, moet ook by ’n veranderende omgewing aangepas wees. Ek het gevind dat kruiskoeie met ’n kleiner raam beter by ’n warmer klimaat aangepas is as die temperatuur styg.”

Verbeter veerkragtigheid

James sê die onlangse droogte, wat deur baie boere as een van die ergstes nog beskryf word, was ’n wekroep om stelsels te gebruik wat ’n mens se boerdery meer veerkragtig en volhoubaar sal maak.

“Ons het besluit om voerstoor- en menggeriewe in te rig wat ons in staat sal stel om ons voervoorsiening-kapasiteit beter te bestuur. Ons kan nou spesifieke belangrike tydperke in koeie se lewens verbeter deur strategiese voeding sodat hulle hul volle potensiaal bereik, soos die opstoomtydperk voor kalwing en die uitgroei van verse.

“Boonop is ons nou in staat om vinnig te reageer om ’n suiwer weidingsgebaseerde stelsel aan te vul met ’n gedeeltelik gemengde voerstelsel indien ons onvoldoende weidings het. Dit stel ons in staat om ons melkproduksievlakke te handhaaf.”

James sê veerkragtigheid impliseer nie net versigtige beplanning nie, maar vereis ook dat enige onderneming reserwes het, sodat dit selfs in moeilike omstandighede suksesvol kan wees. Hierdie reserwes sluit voer, water en geld in.

“Dié planne moet egter insluit om na die welstand van ’n mens se gemeenskap en die sukses van medeboere, wat in Suid-Afrika swart boere moet insluit, om te sien,” sê hy. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel James Kean by 082 802 0973.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY