Estimated reading time: 2 minutes

Februarie 2022 sal onthou word as die maand waarin Rusland die Oekraïne ingeval het.  Alhoewel dit ʼn oorlog vêr van Suid-Afrika is, gaan dit vêrreikende gevolge op Suid-Afrika en Suid-Afrikaanse landbou hê.  Die inval het ʼn onmiddellike reaksie op kommoditeitspryse tot gevolg gehad. Alhoewel die styging in sekere pryse net tydelik was die dag van die aanval (soos die geelmielieprys in Figuur 1), het die pryse van kommoditeite soos koring, sonneblomsaad, ru-olie en kunsmis net aanhou styg.

https://www.agriorbit.com/sa-agriculture-registers-an-8-year-on-year-expansion-in-2021/

Op die ekonomiese front het die rand, wat gedurende die eerste deel van Februarie redelik sterk gestaan het teen die dollar, die dag na die Oekraïne inval begin verswak teen die dollar. Teen die einde van die maand het die rand teen onderskeidelik R15,29 en R17,15 teen die dollar en euro verhandel.  Die inflasie van beide verbruikers- en produsente pryse het in Januarie effens verlangsaam tot onderskeidelik 5,7% en 10,1%. Die ekonomiese groei syfers (BBP) vir die vierde kwartaal van 2021 is bekendgemaak.  Alhoewel die ekonomie jaar-op-jaar met 1,7% in die vierde kwartaal gegroei het, was dit effens minder as die 2,9% van die derde kwartaal. 

Die prys van geelmielies het gedurende die eerste deel van Februarie effens gedaal, voor dit skerp gestyg het na die inval op Oekraïne. Die prys het daarna weer gedaal en aan die einde van die maand teen R3 870/ton gesluit. In die natuurlike veselmark het die eerste bokhaarveiling van 2022 goed gevaar met die mark aanduider wat tot R415,27/kg gestyg het. Dit is 3% meer as die laaste veiling van 2021, en 26,1% meer as die eerste veiling van 2021.  Die aanduiderprys van Responsible Wool Standard (RWS)-wol het tydens die laaste veiling in Februarie effens tot R197,07/kg gestyg, 0,8% meer as tydens die vorige veiling.

Figuur 1: Die prys van geelmielies.

In die rooivleisbedryf het ons gesien dat die karkaspryse van skaap en bees gedurende Februarie effens opwaarts geneig het, maar die prys van varkvleis het skerp gedaal. A2 lam- en -beeskarkas aankooppryse was onderskeidelik R86,85/kg en R56,32/kg teen einde Februarie, terwyl die prys van klas O varkkarkasse (80 tot 90kg) R24,95/kg was. Die prys van speenlammers het ook effens gestyg gedurende Februarie, maar speenkalwers se prys het gedurende die tweede helfte van die maand begin terugsak. Speenlammers en kalwers het teen die einde van Februarie teen onderskeidelik R43,75/kg en R40,75/kg verkoop. – Prof Frikkie Maré, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat.

Vir meer inligting kontak vir Frikkie Maré by MareFA@ufs.ac.za