Prof Johan Willemse tydens die werkswinkel.

Soos oudergewoonte het prof Johan Willemse van die Universiteit van die Vrystaat se kwartaallikse landboumark-vooruitsigtewerkswinkel produsente van heinde en ver gelok. Die werkswinkel is op 9 Februarie by die Biker’s Church net buite Bloemfontein gehou, en is deur Nedbank geborg.

Terwyl prof Willemse gefokus het op ekonomiese aspekte, het Johan van den Berg van Santam Landbou produsente toegespreek oor die huidige weer scenario en vooruitsigte. Hier volg ’n paar vooruitsigte wat beklemtoon is by die geleentheid.

Ekonomiese vooruitsigte deur prof Willemse:

  • In 2017 het die landbousektor in Suid-Afrika ’n positiewe bydrae gemaak tot die land se ekonomie. Daar word egter verwag dat die landbousektor in 2018 ’n negatiewe bydrae gaan maak tot die ekonomie.
  • Suid-Afrika se in- en uitvoer beweeg tans na ’n balanseerpunt.
  • In 2018 kan ’n daling in rentekoerse in Suid-Afrika verwag word weens ’n wêreldwye verhoging van rentekoerse.
  • Daar word verwag dat die rand-dollar wisselkoers tussen R11 en R12 teenoor die dollar gaan bly.
  • Daar sal begrotingstekorte wees aangesien Malusi Gigaba, minister van finansies, beraam het dat skuld op 52% gehou moet word. Pres Jacob Zuma het egter gesê hy kort R100 miljard vir onderwys en dit het veroorsaak dat die skuld tot 62% verhoog word.
  • Daar kan verwag word dat BTW met 2% sal styg.
  • Marginale koerse kan verhoog word.
  • BTW op diesel gaan verhoog.
  • Donald Trump wil die dollar se waarde verswak sodat die VSA se uitvoer gestimuleer kan word.
  • Daar word beraam dat die ekonomie met 3% oor die volgende drie jaar gaan groei.
  • Na verwagting sal inflasie onder beheer bly.
  • Grondpryse daal stelselmatig en dit gaan ’n invloed hê op boere se balansstate. Grondpryse gaan veral daal in die Wes-Kaap.
  • Die grootse wêreldwye risiko’s vir landbou is:
    • Ekstreme weer.
    • Natuurrampe
    • Kuberaanvalle
    • Databedrog
    • Klimaatsverandering

Prof Willemse maak die volgende voorstelle oor waar Cyril Ramaphosa kan begin om die land te verbeter:

  • Hy moet begin deur die staatseenhede reg te ruk (Eskom, Telkom, ens.).
  • Hy moet korrupsie bekamp.
  • Ekonomiese groei moet gestimuleer word met werkskepping.

Oor markbewegings vir kommoditeite sê prof Willemse die volgende:

 Mielies

Volgens prof Willemse ervaar die VSA die afgelope tyd ’n laer mielieprys weens ’n groot oes, wat ook ons mark beïnvloed. Dit wil voorkom of die wêreldvoorraad van mielies wel aan die afneem is, en daar word verwag dat ons pryse nog relatief laag gaan bly vir die volgende twee tot drie jaar voordat dit tot vroeër vlakke herstel.

Suid-Afrika se surplusvoorrade kan nog nie uitgevoer word nie omdat ons prys te hoog is – ’n prys van R1 600-R1 700 per ton sal help om voorrade uit te voer. Prof Willemse skat vanjaar se mielie-oes op sowat 10,5 miljoen ton en sowat 4 miljoen ton se oordrag van die vorige seisoen. As in ag geneem word dat die binnelandse verbruik sowat 10 miljoen ton per jaar is, sal dit nie ’n slegte plan wees vir produsente om hulle te beskerm deur middel van ‘put-’ en ‘call-’ opsies nie.

Vee

Die veebedryf toon laer produksievlakke as twee en drie jaar tevore. In Desember 2017 is sowat 30% minder skape en beeste geslag as in Desember 2016. Prof Willemse voorspel dat die vraag na rooivleis gaan groei indien die ekonomie groei. Indien die ekonomie nie gaan groei nie, gaan daar oor sowat drie jaar ’n ooraanbod in die mark wees as die nasionale veekudde herstel het. Ons prima-snitte word gemaklik uitgevoer mits die prys van beesvleis onder of by R45/kg bly.

Met betrekking tot voerkrale is Willemse van mening dat hulle nie geld maak teen huidige speenkalf- en karkaspryse nie. Voerkrale koop en voer op die oomblik net kalwers om die proses (voerkraal, abattoir, ontbeningsaanleg, ens.) aan die gang te hou en dit sal glad nie sin maak vir kleiner produsente om self vee te voer nie.

Uit die gehoor is genoem dat die groepe diere wat by die voerkrale aankom, steeds ’n 50/50 of 60/40 verhouding tussen bul- en vers-kalwers het, ondanks die kuddebou-fase waarin die bedryf homself bevind. Daar is ook genoem dat dit moontlik veroorsaak word deur produsente wat hul kalwers moet verkoop om die droogte se skuld te delg, en eerder ouer koeie langer hou as om meer verse terug te hou.

Met betrekking tot skape het prof Willemse genoem dat die pryse bo invoerpariteit is. In Desember 2017 is pryse bo R80/kg ervaar en het sedertdien nader aan R70/kg beweeg. Daar word verwag dat pryse ook vir die volgende twee tot drie jaar teen dié vlakke gaan bly, namate van die droogte herstel word.

Weervoorspellings

Johan van den Berg tydens sy aanbieding.

Kort- en langtermynvoorspellings deur Van den Berg sluit die volgende in:

  • Oor die kort termyn kan ’n afname in reënval verwag word.
  • Oor die lang termyn word ’n toename in reënval verwag.
  • In 2018 is daar ’n 70% kans dat ’n La Niña weerverskynsel kan realiseer en nat jare kan verwag word.
  • Temperature het oor die afgelope 100 jaar met 1°C gestyg.
  • Die droë toestande wat ons die afgelope drie jaar ervaar, het ook in die verlede al gebeur. Dit is ’n siklus wat herhaal word.
  • In die Wes-Kaap kan droër toestande oor die lang termyn verwag word.
  • Ryp kan dalk later as gewoonlik kom weens die reën en die seisoen wat laat aangebreek het.
  • Vir Februarie, Maart en April lyk sake positief met ’n 60-70% kans vir nat toestande.

Teks deur Markus Monteiro en WA Lombard van die Universiteit van die Vrystaat.

Die volgende werkswinkels vind plaas op: 20 April, 24 Augustus en 2 November.

Vir meer inligting, kontak Willie de Jager by WillemDe@Nedbank.co.za of skakel 051 400 5755.

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY