Produsente teen ysige weer en brandgevaar gewaarsku

Estimated reading time: 5 minutes

Suid-Afrikaanse produsente moet gereedmaak vir stortreën, sterk winde, koue en verwoestende golwe en selfs ’n bietjie sneeu. Só waarsku die Suid-Afrikaanse weerdiens.

“’n Kouefront sal na verwagting die Wes-Kaap teen Vrydagaand tref. Dit beteken dat reën van Vrydagmiddag af in die suidwestelike dele van die Wes-Kaap verwag kan word. Die reën sal waarskynlik teen Saterdag na die Noord- en Oos-Kaap versprei en teen Sondag die oostelike dele van KwaZulu-Natal en Mpumalanga bereik,” het die weerdiens in ’n persverklaring genoem.

Hou geskeerde en jong vee veilig

“Ek is op die oomblik besig om te skeer, so as daar iemand is wat oor hierdie weer bekommerd moet wees, dan’s dit nou hierdie ou,” het Billy van Zyl, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging, vroeër aan AgriOrbit gesê. “Geskeerde diere is toevallig van die diere wat die grootste risiko loop om in sulke weer seer te kry.”

Van Zyl sê produsente moet in die tyd veral op hul hoede wees en die weer en hul kudde fyn monitor. “Daar is drie goed wat ’n skaap laat vrek – wind, koue en reën. As een daarvan nie teenwoordig is nie, is die kans vir vrektes reeds minder, maar as al drie dié gevare teenwoordig is, is die kans vir probleme baie groot.”

Produsente moet hul diere veilig hou deur die diere voor die naweek in skuilingskampe te beveilig. “Dít is baie veilig. Ons almal het rante en skuilingskampe. Kry jou diere op ’n veilige plek.”

Peter Cloete, voorsitter van Agri Oos-Kaap, sê tot op hede was sterk winde die grootste probleem vir dié provinsie. “Op die oomblik lyk dinge nog onder beheer, want dis nie baie koud nie, maar ons sal nog moet sien hoe die dinge vorentoe lyk.”

Cloete het ook Van Zyl se woorde beaam en gesê dat produsente spesifiek hul geskeerde bokke en skape, asook jong diere, in dié tyd veilig moet hou. “Vir nou is dit al wat mens kan doen.” 

Klik hier vir Johan van den Berg se verslag oor die weer.

Gevaarligte flits

Die weerdiens het oranje waarskuwings uitgereik vir wind-, sneeu- en brandgevaar in sekere dele van die land. Ontwrigtende sneeu word verwag, wat daartoe kan lei dat groot bergpasse gesluit word,  gemeenskappe geïsoleer is en veeverlies verwag kan word. Die waarskuwing is spesifiek uitgereik vir die Chris Hani en Joe Gqabi Distriksmunisipaliteite asook die Matatiele, Umzimvubu, Raymond Mhlaba en Dr. Beyers Naude (Graaf Reinet) Plaaslike Munisipaliteite op Sondag en Maandag.

Die weerdiens het ook aangedui dat Oos-Kapenare op die hoede moet wees vir skadelike winde wat informele nedersettings, eiendom en tydelike infrastruktuur Vrydag en Saterdag kan beskadig.

Verder word uiters hoë brandgevaartoestande gedurende Vrydag in die Sarah Baartman, Chris Hani en Joe Gqabi Distriksmunisipaliteite sowel as die Nelson Mandelabaai-metro verwag.

’n Geel waarskuwing vir stormsterkte winde (tussen 50 tot 70km/h) asook rukwinde (80km/h) is uitgereik vir Wes- en Noord-Kaap se binneland, asook suidelike Namakwaland.

Brandgevaar

Bekende landbou meteoroloog, Johan van den Berg, sê die brandgevaar sal spesifiek aangevuur word deur ’n sterk noordwestewind wat verwag word. “Die kommer is veral dat dele van die Kalahari, wat geen reën ontvang het nie, ’n groot brandgevaar inhou.”

Die Koördinerende Komitee vir die Welsyn van Lewendehawe (LWCC), het ook in ’n persverklaring kommer uitgespreek oor brandgevaar en produsente gemaan om diere veilig te hou. Volgens die LWCC is voorkoming en voorsorg baie belangrik gedurende hierdie weersomstandighede.

Die komitee sê in die meerderheid van die land (somerreënvalstreke) strek die brandseisoen gewoonlik van Julie tot vroeg in Oktober en brandpaaie moes reeds teen Junie in plek gewees het.

Die LWCC deel nog ’n paar wenke:

• Lig bure in van enige brandverwante aangeleenthede en koördineer aksieplanne met hulle.

• Werk saam met die plaaslike brand- en/of rampbestuurskomitee.

• Verseker dat brandgevare langs oop paaie uitgeskakel of verminder word.

• Waarsku plaaspersoneel van gevare en leer hulle watter aksies om te vermy.

• Sorg dat daar ’n brand-waarskuwingstelsel vir die plaas in plek is.

• Maak seker dat brandspanne op die plaas weet wat om te doen.

• Sorg dat brandspanne se beskermende klere en diensbare toerusting in orde is.

• Kontroleer dat voertuie en toerusting in ’n goeie toestand is.

• Sorg dat daar ontsnaproetes en ontruimingsplanne vir vee in plek is.

• Maak seker dat diere vir beide oppervlakkige velbeserings en diep longskade ondersoek word. • Raadpleeg die plaaslike veearts vir advies. – Susan Marais, AgriOrbit

RSG Landbou: 2 Oktober 2023 – geborg deur Plaas Media

Goeie nuus vir landbou en inwoners wat afhanklik is van water uit die Kougadam...

Plaas TV: Klimaatslim boerdery, AFMA Forum, Agbiz Graan- en Oliesade-simposium en Kubota-trekkers

Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is...

Strategies for managing seasonal infertility in pigs

Estimated reading time: 7 minutes The phenomenon of seasonal infertility among pigs is real,...

Avoid unilateral changes to the employment contract

Estimated reading time: 4 minutes The employment contract can be of immense value to...