Estimated reading time: 4 minutes
Hoewel daar negatiewe elemente aan ’n vakuum is, kan positiewe aspekte ook daaraan gekoppel word en diegene wat hulself wel in ‘n vakuum bevind, kan deur betrokke te raak by georganiseerde landboustrukture en kommoditeitsorganisasies, uitdagings aanpak. Prof Frikkie Maré, hoof van landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het op Vrystaat Landbou (VL) se jaarkongres wat onlangs in Bloemfontein plaasgevind het, goed aangesluit by die kongrestema; “Wie gaan die vakuum vul?” Hy het beklemtoon dat produsente in tye waar marktoestande ekonomies nie sin maak nie, moet besef dat hulle nie alleen in die leë ruimte van ’n vakuum is nie.
Die Suid-Afrikaanse vakuum
Prof Maré, wat ook die redakteur van Plaas Media se tydskrif Veeplaas, is, het verduidelik dat produsente hulself in ‘n vakuum bevind weens uitdagings soos onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening, swak paaie, ’n tekort aan dieregesondheidsprodukte en die swak status van dieregesondheid. Die land bevind hom ook by tye geïsoleerd in die wêreld, omdat produkte in sekere gevalle nie uitgevoer kan word nie. Droogtetoestande, diefstal, swak polisiëring, plaasmoorde en -aanvalle is bykomende negatiewe faktore wat ‘n rol speel.
Suid-Afrika se vakuum strek veel verder met aspekte soos die laaste “normale styging” in speenkalfpryse wat in 2017/18 voorgekom het. Die speenkalfprys het vanjaar gedaal tot onder die 2018-prys, wat tussen R33/kg en R39/kg gewissel het. Prof Maré het gesê dit is dieselfde geval met die speenlamprys, terwyl daar ook in die wolmark soortgelyke uitdagings is.
Daar moet ook in berekening gebring word dat inflasie tydens uitdagende jare nie onveranderd gebly het nie, terwyl insetkoste toegeneem het. Daarteenoor was mieliepryse relatief goed, maar het vanjaar ‘n afname getoon en hoewel kunsmispryse verlaag het, bly dit ’n uitdaging vir produsente om teen R3 500 ton/ha gegewe al die eksterne faktore winsgewend te boer.
Lees meer oor VL se veediefstalondersoek.
Vraag styg en aanbod bly onveranderd
Prof Maré het verduidelik dat, wanneer dit by vraag en aanbod kom, dit ekonomies sin maak dat veepryse hoër moet wees wanneer daar ’n lae aanbod is. Maar dit is tans nie die geval nie. Daarteenoor het die prys van mielies na R5000/ton gestyg, terwyl daar ’n goeie aanbod is. In terme van die vraag na vleisprodukte is dit stabiel, terwyl die aanvraag na mielies gestyg het. Hy het gesê as daar na per kapita-verbruik gelet word behoort die aanvraag na vleis ook te styg, veral met die land se hoë populasiegroei, maar dit word tans nie in die prys weerspieël nie.
Hierdie tendens laat dus baie vrae oor wispelturige marktoestande. Een antwoord hierop is dat die invloed van eksterne faktore soos beurtkrag en hoë brandstofpryse ’n reuse impak op die verbruiker, wat reeds finansieel swaarkry, het. Volgens prof Maré moet produsente hierdie situasie insien, want as voorbeeld het beurtkrag ’n invloed op byvoorbeeld die verbruik van voorkwartsnitte, want dit vereis lang gaarmaakmetodes.
Eksterne faktore soos dié veroorsaak dat die gaping tussen die verbruiker- en karkasprys vergroot en produsente is uit die aard van die saak ontevrede hieroor en bring dit dan onder die verbruiker se aandag. “Ons sê vir die verbruiker dat vleis veronderstel is om R52/kg te kos, en hulle moet nie R200/kg betaal nie .”In die proses gaan die verbruiker definitief nie lam- of beesvleis koop nie, want hulle kan gevriesde hoender goedkoper kry.
Die positiewe eienskappe van ‘n vakuum
Prof Maré het gesê dit is duidelik dat verskeie eksterne faktore produsente se situasie bemoeilik, maar daar is ook positiewe aspekte van ‘n vakuum. ‘n Vakuum bied hulle die geleentheid om tot hul volle reg te kom en planne te maak. Dít verg egter ’n spanpoging, waar betrokkenheid by georganiseerde strukture noodsaaklik is. Volgens prof Maré is een van die voordele van ‘n vakuum die feit dat daar niks daarin is wat prosesse kan affekteer nie. ’n Vakuum is ook belangrik om aksies op ‘n kleinskaal uit te voer. Hy het in hierdie verband beurtkrag as voorbeeld gebruik, want as dit nie ingestel is nie sou sonkragenergie nie so sterk na die voorgrond getree het nie.
Hy meen ’n vakuum is ook ’n bemagtigende omgewing, want weens ‘n tekort aan bloutong-enstof, kon ‘n omgewing geskep word vir private instansies om in terme van die vervaardiging daarvan, na die tafel te kom. ’n Vakuum skep ook ‘n skoon en stabiele omgewing waarin daar opgetree kan word. Hy het na Suid-Afrika se regstelsel as voorbeeld verwys waarin hofuitsprake dit steeds moontlik maak om soos in Koster en Swartruggens in Noordwes, water- en sanitasiedienste terug in die gemeenskap se hande te plaas. – Christal-Lize Muller, Plaas Media