Estimated reading time: 2 minutes
Die Rooivleisprodusente Organisasie (RPO) Noord-Kaap het onlangs bekendgemaak dat daar verskeie gevalle van brandsiekte in die provinsie aangemeld is.
Na wat verneem kon word is die siekte reeds op 14 plase in die Noord-Kaap aangemeld, in die gebiede van Kimberley, De Aar, Prieska, Carnarvon, Brandvlei, Garies, Sutherland en Williston. Die plase waar die siekte aangemeld is, is reeds onder kwarantyn geplaas en volgens die voorsitter van RPO Noord-Kaap, Johan van der Colff, is die siekte moontlik aangedra deur diere wat aangekoop is. Hy sê die meeste gevalle wat aangemeld is, is in gebiede waar brandsiekte nie gewoonlik voorkom nie, maar hy glo dat die uitbreking redelik onder beheer is.
Brandsiekte – kry die groot jeuk onder beheer hier.
“Veeartse en tegnici het dit redelik goed onder beheer en ek vertrou dat dit nie verder sal versprei nie, maar ’n mens moet ook nooit te gerus wees nie. As jou plaas onder kwarantyn is, al het jy nie die siekte op jou plaas nie en is jy net ’n aangrensende plaas, kan jy vir ten minste ses weke nie bemarking doen nie.
“Niks mag van jou plaas afgaan of inkom nie. Dit het ‘n groot invloed op jou ekonomie en daarom is dit belangrik dat almal moet saamwerk om hierdie siekte in die kiem te smoor,” is Colff se mening.
Die bedryfsbeampte van RPO Noord-Kaap, Julize Volschenk, het ʼn ernstige beroep op skaapprodusente gedoen om te sorg dat die nodige biosekuriteitsmaatreëls in plek is en dat nuwe diere eers in kwarantyn geplaas moet word, voordat hulle tussen vee geplaas word.
Volschenk het ook genoem dat daar opgelet moet word na voertuie waarmee die diere vervoer word, klerasie en toerusting wat gebruik word as daar met die diere gewerk word. Dit kan alles bydra tot die verspreiding van die siekte.
Lees meer oor die stigmas en swak bestuur wat die skaapbrandsiekte-vuur stook.
Dit is ’n siekte wat baie vinnig kan versprei en slegs vinnige optrede kan verseker dat dit onder beheer gehou word, is haar mening. Indien die siekte onder jou kudde opgemerk word, moet dit ook by die staatsveearts aangemeld word.
Die RPO het ook ʼn inligtingstuk versprei waarin die kontaknommers van staatsveeartse is. Volschenk nooi produsente uit om haar by 076 424 2791 te kontak vir enige verdere inligting. – Koos du Pisanie, AgriOrbit