’n Pluimpie vir die wolbedryf met nuutverkose IWTO-voorsitter

596

Die Internasionale Wol- en Tekstiel-organisasie, beter bekend as die IWTO (International Wool Textile Organisation), se uitvoerende komitee het onlangs ’n nuwe voorsitter vir sy markintelligensie-komitee verkies, nadat Chris Wilcox aangedui het dat hy in April as voorsitter uittree.

Wilcox se opvolger is niemand anders nie as Isak Staats, wat as algemene bestuurder van die Wol- en Bokhaarafdeling by BKB werksaam is, en ook verskeie ander rolle in die wol- en bokhaarbedryf beklee.

Tydens ’n gesprek met Plaas Media, het Staats, vir wie die nominasie ’n groot verrassing was, gesê dit is uiters belangrik vir Suid-Afrika se produsente en die bedryf as geheel om by die groot wêreld van wol betrokke te wees. “Dit is een van die redes waarom ek by die IWTO se markintelligensie-komitee betrokke is, want op die ou end hou dit ’n direkte voordeel vir ons land se produsente in.”

https://agriorbit.com/wol-en-sybokhaarbedryf-verwelkom-twee-nuwe-direkteure/

Die markintelligensie-komitee verteenwoordig al die lande wat deel van die IWTO is. Die funksie daarvan is om markinligting in terme van aanvraag en aanbod te versamel, sowel as om veranderinge in die wolmark fyn dop te hou. Volgens Staats is daar heelwat faktore wat ’n invloed op die hele waardeketting het, byvoorbeeld, die hoeveelheid wol wat geproduseer word en in voorraad is, die invloed wat droogtes op die bedryf het, die aantal meulens wat werksaam is en hoe gesond hul besigheid is, en hoe die eindverbruikersmark daar uitsien.

Die markintelligensie-komitee bestaan slegs uit ’n handjievol verteenwoordigers wat verder ook ondersoek instel na die invloed van nuwe neigings in die mark, soos die feit dat heelwat mense deesdae van die huis af werk, wat die vraag na pakke klere laat staan het. “Daar was terselfdertyd ’n toename in die vraag na gemakliker klere en die komitee kyk ook na die invloed wat dit op elke speler in die wolbedryf het,” voeg Staats by. “Dit is interessant dat ons gevind het dat baie mense tog nog steeds pakke klere, of gemaklike klere by die huis dra, en dit het ’n positiewe uitwerking op die bedryf.”

Suid-Afrika verteenwoordig ongeveer 2% van die wêreld se wol, met Australië as die grootste wolproduseerder in die wêreld. En tog word Suid-Afrika deur minstens vier voorsitterskappe by die IWTO verteenwoordig, naamlik biosekuriteit, volhoubaarheidspraktyke, die tegniese komitee en nou ook die markintelligensie-komitee. In 2019 het die IWTO vir Wolf Edmayr, BKB se vorige besturende direkteur, tot die organisasie se president verkies, en die huidige sekretaris-generaal is Dalena White, wat voorheen aan Cape Wools Suid-Afrika verbonde was.

’n Jaarlikse hoogtepunt op die veselbedryf, die IWTO-kongres, is geskeduleer om vanjaar vanaf 17 tot 21 Mei virtueel plaas te vind. Staats sal tydens die kongres ’n aanbieding doen. – Carin Venter, AgriOrbit