Estimated reading time: 2 minutes

Altesaam 364 plaasmoorde is van 2016 tot 2021 geverifieer, maar slegs 33% van die gearresteerde oortreders is skuldig bevind. Só lui die jongste plaasmoordverslag van burgerregte-organisasie, AfriForum. Volgens die verslag, is gemiddeld 47% van aanvallers wat bekend is, in hegtenis geneem. Die meeste aangemelde plaasmoorde het in Gauteng voorgekom, en die minste in die Noord-Kaap. Die gemiddelde ouderdom van slagoffers was 57, en die meeste moordslagoffers was manlik. Skietvoorvalle was die hoofoorsaak van slagoffer-sterftes. Die data toon ook dat meeste aanvalle op Saterdae plaasvind.

Ernst Roets, hoof: beleid en aksie by AfriForum

In sy verslag beklemtoon AfriForum die swak arrestasie- en skuldigbevindingskoers van oortreders wat in daardie tyd by plaasmoorde betrokke was. AfriForum het die inhegtenisneming van verdagtes en die skuldigbevinding van oortreders met behulp van ’n oopbron media-analise ondersoek en beoordeel.

“Tydens plaasmoorde is gemiddeld 47% van aanvallers wat bekend is, in hegtenis geneem, maar net 33% van die gearresteerde oortreders is skuldig bevind. Dit is werklik skokkend en toon hoe die strafregstelsel slagoffers van plaasaanvalle in die steek laat,” sê Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie.

Trustfonds spits hom toe op landelike beveiliging, ondanks uitdagings

Die verslag het ook bevind dat daar nie ’n enkele jaar is waarin marteling nie plaasgevind het nie en dat gemiddeld 15% van die slagoffers van plaasmoorde gemartel is. Volgens Johan Nortjé, ’n navorser by AfriForum, is hierdie tendens uiters kommerwekkend en daar moet dringend aandag daaraan gegee word. In 2020 is 24% van die moordslagoffers gemartel. “Dit wys dat plaasaanvalle nie net ’n gewone misdaad is nie en geprioritiseer moet word,” sê Nortjé. – Press release, AfriForum

Klik hier om die volledige verslag te lees.