Alle grappies op ’n stokkie, die somer is hier en dis weer tyd om te braai. Die Plaaskos-span is onlangs uitgedaag om sosaties vir voorgereg, hoofgereg en nagereg te bedien. Dié tradisionele kerrie-skaapsosaties was die wenner in die hoofgereg-afdeling. Ons deel binnekort nóg lekker sosatieresepte, soos wafels op ’n stokkie en ’n Caprese-slaai voorgereg-stokkie.

Lewer 8 porsies

Bestanddele

 Marinade

2 uie, gekap

2 eetlepels botter

1 eetlepel kerriepoeier

1½ teelepel borrie

2 eetlepels suiker

1 teelepel mielieblom

1 teelepel sout

2 koppies wynasyn

½ koppie fyn appelkooskonfyt

Vleis

2kg ontbeende skaapboud, in blokkies gesny (3cm)

15 klein uitjies, gekook

250g streepspek, in repies gesny

1 pak gedroogde appelkose

14-16 sosatiestokkies, in water geweek

Metode

  1. Kook uie in ’n bietjie water vir marinade. Voeg botter by sodra water verdamp en braai uie tot sag. Voeg kerrie en borrie by en braai.
  2. Voeg die res van die bestanddele vir die marinade by en kook vir 15 minute.
  3. Giet die marinade oor die vleisblokkies in ’n bak. Moenie ’n staalbak gebruik nie.
  4. Laat oornag staan om te marineer.
  5. Ryg vleisblokkies, uie, spek en gedroogde appelkose om die beurt op die stokkies.
  6. Braai sosaties oor matige kole tot bruin en gaar.

Kry nog resepte vir #BraaiDag hier:

#FarmFare: Hawaiian chicken & pineapple kebabs

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY