Pieter Möller skryf die volgende in ‘n onlangse uitgawe van Veeplaas:

Hoe vinnig het hierdie jaar nie verbygesnel nie? En daar was nog so baie wat ek wou doen en plekke wat ek wou besoek voordat die jaar om is. Ek dink die oorblywende tydjie gaan net te kort wees om alles te probeer inpas, dus sal ek maar my lysie vir 2018 begin aanpas en prioritiseer.

Iets wat ek beslis voor die einde van die jaar wil doen, is om die Weskus te besoek en koue ystee en warm botterbroodjies tussen die rotse en seegras te geniet. En miskien, net miskien as dit regtig baie warm is, sal ek ’n Germaanse bruisdrankie saam met ’n stukkie kaas van Philadelphia oorweeg. En vir die kersie op die koek, net om anders te wees, sal ek ’n framboos-melkskommel by die stasie in Darling gaan drink.

Ons land het sulke wonderlike plekke en besienswaardighede, dat ek eintlik die hele jaar sal moet afvat om by alles uit te kom. Ek hoor dikwels die kritici praat van ’n land wat as gevolg van al die misdaad, korrupsie en swak rand nooit weer sal regkom nie. Maar soos gewoonlik sien ek weer, saam met die positiewes tussen ons, al die uitdagings wat binnekort vir ons wag.

’n Reis na beter tye

Ek is verseker nie familie van Siener van Rensburg nie, maar ek sien in my geestesoog ’n paar skobbejakke wat voor die einde van 2017 aan die pen gaan ry oor al hul wandade. Ek voorspel ook dat ’n paar ooms met lang dasse tydens ’n konferensie aan die einde van die jaar gaan besluit tot hiertoe en nie verder nie. Besluite wat ’n waterskeiding veroorsaak, word geneem en geestelike en ander leiers staan weer op om voor te vat in die reis na beter tye.

Vir baie kan dit dalk vergesog klink, maar ek glo werklik ’n ommeswaai is naby. As dit ook net weer heerlik kan reën, kan ons verder moed skep om verandering te bewerkstellig. Ek dink dus met my hele hart dat ons gerus maar ons goedjies kan begin pak en die positiewe reis kan aanpak.

In die Weermag-dae van destyds het ons in die Vloot altyd van ons deftige uitgaandrag of “step-outs” gepraat as jou “mooi-moois”. Ek sal wat wil gee om weer in my “ice-cream suit” te kan inpas en voort te marsjeer op die pad van voorspoed, melk en heuning. ’n Pad wat afgebid is en nie met ander se geld omgekoop is nie.

Positiewe atmosfeer

Tydens die onlangse, baie suksesvolle ALFA 2017 in Parys, was dit wonderlik om almal weer so geesdriftig te sien – nie net oor die vleisbedryf nie, maar oor die hele landbousektor. Almal, van die boere, produsente en verbruikers tot die energieke touleiers, het tot ’n gees van entoesiasme en omgee vir mekaar en die land bygedra. Ek was sommer weer opgewonde oor die positiewe atmosfeer in ’n tyd waarin ons maar min goeie nuus kry.

Die volgende dag het ek die landbouers by Douglas in die Noord-Kaap besoek en dieselfde geesdrif ervaar. Plaaslike landbouers wat hul skool en gemeenskap op soveel terreine help, dat ’n mens ’n boek daaroor kan skryf. En op pad daarheen vertel leierboer Cor van Vuuren uit Wolmaransstad op die radio, wat die plaaslike landbougemeenskap vir honderde gesinne en bejaardes in hul omgewing doen. Hier is nog mense wat my hart warm laat klop!

Goeie vooruitsigte

So as jy nou besluit om saam te gaan op die pad van voorspoed en geluk, kan jy maar op die wa klim. Groot en goeie vooruitsigte wag in die volgende paar maande vir ons, mits ons ons kant bring. Ons moet weer ’n slag voorraadopname doen en dankbaar wees vir al die klein dingetjies in die lewe, wat ons dikwels as vanselfsprekend aanvaar.

Wanneer laas het jy om jou gekyk? Die oop ruimtes, pragtige natuurskoon en hemelruim. Die diere van die veld en die vars lug wat ons inasem (ek sien die Sasolburg-inwoners rol nou hulle oë). Ja, ons het al gewoond geraak aan baie dinge, maar as ons weer dankie kan sê en onsself voor Hom verootmoedig, is ’n nuwe gevoel van entoesiasme weer voelbaar teenwoordig. Gryp dit aan!

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY