Dit is vir my altyd so lekker om mense se antwoorde en reaksies te hoor as jy vir hulle vra hoe dit gaan. Sonder om die meeste van die tyd daaroor te dink, het baie van ons al standaard antwoorde oor die jare gememoriseer. En hierdie antwoorde weerspieël dikwels ook ons algemene ingesteldheid en gemoedstoestand.

So byvoorbeeld sal ’n persoon wat minder positief oor die lewe is of wat nie goed voel oor sy omstandighede nie, jou maklik antwoord met: “Ag wat, ons kap maar aan” of “Ja jong, so onder die omstandighede …” of die bekende “Dit help mos nie om te kla nie, want niemand sal tog luister nie”.

As iemand begin met: “Nee wat, dit het al voorheen beter gegaan”, dan het hy my aandag reeds verloor. Ek weet dit kan nie altyd net goed gaan met ons nie, maar wil jy regtig iemand anders se dag ook donker inkleur deur te kenne te gee hoe sleg en aaklig die lewe is? En dikwels as jy sulke mismoediges met ’n lag in die stem probeer opbeur deur te sê: “Dit kan darem nie so erg wees nie”, word jy gepeper met alles wat in die wêreld verkeerd gegaan het.

God se Skepping

Ek luister een oggend baie vroeg na ’n bekende radiostasie in Pretoria terwyl ek in Gauteng op reis is en gooi amper my motor om toe ek die uitlating van die vroulike omroeper hoor wat praat oor die weervoorspelling van die dag.

Terwyl soveel landbouers en baie stedelinge smag na uitkoms in die vorm van reën, merk sy op dat daardie spesifieke dag weer ’n miserabele dag gaan wees met baie nat toestande en reën wat vir die hele Pretoria en omgewing voorspel word. Ek kon eers nie glo wat ek hoor nie, totdat sy dit opvolg met: “Hopelik is dit een van die dae verby en kan ons weer die somersklere uithaal.”

’n Wyse predikant se opmerking het in my jeug al ’n permanente indruk gelaat, toe hy eenkeer gesê het dat ons nooit moet praat van ’n slegte dag as ons na die weer verwys nie. Die liewe Vader het elke dag gemaak en of dit reën, sneeu of sonskyn is, dit is Sy Skepping. Ons is nie daar om dit te kritiseer nie, of om ’n dag wat Hy geskep het, te beskryf as miserabel, sleg of aaklig nie.

Ek vermoed ons kan nog vergewe word as ons praat van ’n ongemaklike sterk wind wat waai of van ’n stormsterk Suidooster, of ongemaklike hoë temperature, maar nooit sleg of miserabel nie!

’n Positiewe beeld

Ek wonder wat sal mense soos Rolene Strauss, Donald Trump, Robert Mugabe, Adriaan Strauss en Naledi Pandor sê as ons vandag vir hulle kan vra hoe dit gaan. Ek vermoed daar sal wyduiteenlopende antwoorde wees, maar oor die algemeen dink ek mense in leierposisies behoort ’n positiewe beeld te skep om mense wat na hulle opkyk vir inspirasie hoop te gee.

Dalk het ek te gou oor oom Robert gepraat. Al waar dit goed gaan met hom en sy volgelinge, is sy persoonlike bankrekening. Watter pragtige voorbeeld was Adriaan nie verlede jaar toe hy tydens groot laagtepunte in Springbokrugby steeds die teleurstellings positief kon verwerk en nie in sak en as gaan sit het en klappe links en regs uitgedeel het nie.

Passievol oor die lewe

Die voormalige Pukke-rektor en deesdae weer landbou-ghoeroe, Herman van Schalkwyk, het ’n pragtige antwoord as jy verneem hoe dit met hom gaan. Hy sê prontuit: “Ek is aan die brand!” Is dit nie wonderlik en aansteeklik nie? Ek is aan die brand. Ek is passievol oor die lewe. Ek het woema om die uitdagings van hierdie dag aan te pak en ek wil my roeping vandag ten volle uitleef om ’n verskil rondom my te maak. Ek wil die wêreld vandag omkeer sodat mense kan sien ek gryp my geleenthede aan.

So as iemand ooit weer vir jou vra hoe dit gaan, dink mooi voor jy antwoord. Hoekom begin ons nie van vandag af ons antwoord met “Dankie, ek is geseënd en dit gaan goed” nie? Of beter nog: “Ek is aan die brand.” – Pieter Möller, Veeplaas

 

 

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY