Friday, December 13, 2024

Pasop vir hondsdol seeleeus dié vakansie

Estimated reading time: 2 minutes

Nadat verskeie mense oor die afgelope maande deur aggressiewe Kaapse pelsrobbe langs die kaapse kus aangeval is, word die publiek gewaarsku om hierdie vakansie op hul hoede te wees vir moontlike hondsdol soogdiere in Suid-Afrika.

Dié waarskuwing is gesamentlik uitgereik deur die Departement van Landbou, die Departement van Bosbou, Vissery en die Omgewing, die Departement van Gesondheid en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS).

Mense is spesifiek gewaarsku om kennis te neem dat Kaapse pelsrobbe, ’n tipe seeleeu, ’n besonder hoë risiko inhou. Dit is die eerste keer dat hondsdolheid oor ’n lang tydperk in ’n seesoogdierbevolking voorkom.

Lede van die publiek word gemaan om te alle tye ’n veilige afstand tussen hulself en seeleeus te hou. Tewens, die NIOS het mense vermaan om rondloperdiere te vermy en geen onbekende dier aan te raak nie.

DALRRD het bevestig dat sewe mense vir die jaar tot en met 2 September aan hondsdolheid oorlede is. Drie van dié sterftes was in KwaZulu-Natal, drie in die Oos-Kaap en een in Limpopo.

Hondsdolheid is ’n dodelike virussiekte wat alle soogdiere kan aantas en word deur die speeksel van besmette diere na mense oorgedra. Speeksel kan oorgedra word deur ’n byt, snye of ’n lek.

Hondsdolheid tas die brein aan en is ’n doodsvonnis as die mens of dier eers kliniese simptome toon. Dit kan egter voorkom word deur diere in te ent of onmiddellik mediese hulp te ontvang as ’n mens in kontak met ’n besmette dier was. – Susan Marais, Plaas Media

DALRRD se inligting van Januarie 2014 tot Desember 2023 dui daarop dat hondsdolheid by ’n verskeidenheid soogdiere regoor die land voorgekom het. (Bron: DALLRD)