Home General agriculture Palmer amarant: ‘n Groen monster bedreig SA landbou

Palmer amarant: ‘n Groen monster bedreig SA landbou

353

Palmer amarant, ‘n uitheemse onkruid wat groot skade kan veroorsaak, kom nou in Suid-Afrika voor. ‘n Gids is nou beskikbaar om met die identifisering van hierdie indringer te help. Laai asseblief die volledige gids hier af vir meer inligting.

Meer oor die Palmer amarantgids

Die doel van die gids is om enigiemand in staat te stel om Palmer amarant te kan identifiseer waar dit ook al in Suid Afrika, en selfs Suider-Afrika, mag voorkom.

Identifikasie van Palmer amarant word bemoeilik deurdat sekere kenmerke daarvan soortgelyk aan dié van ander amarant-soorte is, waarvan daar altesaam 17 soorte in Suid-Afrika alleen aangetref word. Daarom word sommige van die ander amarant-soorte uit die staanspoor ook in hierdie gids uitgebeeld. Sien bladsye 5 tot 10 vir foto’s van ander amarant-soorte wat met Palmer amarant verwar kan word.

Benewens hulpverlening met identifisering van die plant, wil ons ook bewusmaking skep rondom die gevare wat Palmer amarant vir Suid-Afrikaanse landbou inhou.

Ons vra jou samewerking om Palmer amarant op te spoor waar dit ook al in Suid-Afrika, en selfs in suider-Afrika, mag voorkom.

Waarom is Palmer amarant wêreldwyd ‘n probleem?

Aangesien Palmer amarant eers relatief onlangs in Suid-Afrika ontdek is, is daar op hierdie stadium nog geen inligting oor die impak daarvan op Suid-Afrikaanse landbou bekend nie.

Manlike en vroulike blomme is op aparte plante en bloeiwyses is tot 60cm lank.

‘n Ontsettende impak daarvan op Suid-Afrikaanse landbou word egter in die afsienbare toekoms (ongeveer 2030) voorsien. Gelukkig kan ons by die Amerikaners leer, beide wat betref die skadelike uitwerking van hierdie onkruid op gewasproduksie, sowel as beheermaatreëls. Metodes vir beheer sal in ‘n afsonderlike publikasie behandel word.

‘n Wetenskaplike ondersoek in Amerika het bepaal dat die plant weerstandigheid teen agt meganismes van onkruiddoderwerking toon (in totaal is daar 15 meganismes). Lees meer hieroor by http://www.weedscience.org.

In mielies kan een plant per vierkante meter tot 10% opbrengsverlies lei en tien plante per vierkante meter tot 90% opbrengsverlies. In sojabone kan gemiddeld 0,3 plante per vierkante meter ‘n opbrengsverlies van 10% veroorsaak en drie plante per vierkante meter ‘n opbrengsverlies van 50%.

Een plant kan tot 600 000 sade produseer en sade kan drie jaar lank kiemkragtig in die grond oorleef. In ‘n veldproef is Palmer amarant-plantgetalle oor ‘n tydperk van ses jaar deur middel van intensiewe beheer met onkruiddoders en handskoffels, met soveel as 98 verlaag. Hierdeur is die saadgetalle in die grond tot 18 miljoen sade per hektaar verlaag. In die kontrole, waar beheer nie toegepas is nie, het saadgetalle in die grond vanaf 170 miljoen sade per hektaar tot 1,1 biljoen sade per hektaar toegeneem.

Palmer amarant is inheems tot die semi-ariede dele van Amerika, wat beteken dat dit goed aangepas behoort te wees vir groot dele van Suid-Afrika se gewasproduksiegebiede.

Teen 1975 was dit nog nie as ‘n onkruid in Amerika gereken nie, maar teen 1989 was dit as onkruid geklassifiseer by katoen in twee state van Amerika. Teen 1995 het dit in hierdie twee state onder die top tien skadelike onkruidsoorte getel en teen 2005 was dit die nommer een onkruid by mielies, katoen en sojabone in Amerika.

Eienskappe van Palmer amarant

  • Die genus Amaranthus behoort tot die familie Amaranthaceae en sluit ongeveer 75 spesies wêreldwyd in. In Suid-Afrika is daar ongeveer 17 spesies, waarvan sommige inheems is en ander uitheems. A. palmeri behoort aan ‘n subgroep van tien spesies wat tweehuisig is (geslagte is op aparte plante) en al tien soorte is inheems tot Noord-Amerika.
  • Dit is ‘n somerplant wat hoë dag- en nagtemperature, asook lang dae, verkies. Die plant se lewensiklus word binne een jaar voltooi (eenjarige plant) en die plante is gevoelig vir ryp.
  • Die stam is tipies rooigroen en kan tot twee meter lank groei. Dit het ook baie sytakke.
  • Blare is haarloos en besonder lang blaarstele is opvallend. Soms is die blaarsteel langer as die blaarskyf. Jong blare is lansetvormig (spiesvormig) en raak met ouderdom meer ovaal. Op ouer blare is die are ‘n witterige kleur. Sommige plante se blare het ‘n V-vormige chevron aan die bokant.
  • Manlike en vroulike blomme is op aparte plante en bloeiwyses is tot 60cm lank − veral die terminale vroulike bloeiwyses is besonder lank. Manlike bloeiwyses is sag by aanraking en stuifmeel is sigbaar daarop. Vroulike bloeiwyses is hard en stekelrig.
  • Palmer amarant-bestuiwing geskied gewoonlik deur wind. Sade is klein (1 tot 2mm in deursnee), glad, rond of plat, en blinkswart (eintlik diep pers) wanneer dit ryp word. Sterk wind, asook water, voëls, diere en landboumasjinerie kan sade ver vervoer. Een vroulike plant kan tussen 60 000 en 600 000 sade produseer.
  • Die groot genetiese diversiteit maak dit hoogs aanpasbaar by ‘n groot verskeidenheid van omgewings. Dit ontwikkel ook baie gou weerstand teen verskeie meganismes van onkruiddoderwerking.

Belangrike vrae en oorwegings vir Suid-Afrikaners

  • Wat lê vir ons voor met ‘n formidabele onkruid soos hierdie?
  • Kan ons verspreiding verhoed en dit dalk selfs uitroei?
  • Hoe lank voor dit so skadelik hier by ons raak soos in Amerika?
  • Kan ons Amerikaanse lesse en praktyke net so toepas of gaan die plant hier by ons uniek wees – minstens in sekere opsigte?

Jou hulp word benodig

Help asseblief ons navorsingspan by die Universiteit van Pretoria, en uiteindelik ook Suid-Afrikaanse landbouers, om oplossings vir hierdie uiters skadelike, nuwe uitheemse onkruid in ons midde te vind.

Jy kan help deur op die uitkyk te wees vir Palmer amarant en, meer belangrik, ons in kennis te stel indien jy vermoed dat Palmer amarant in ‘n gebied teenwoordig is. Moenie huiwer om alarm te maak nie, want al mag dit dalk nege uit tien keer ʼn vals alarm wees, is daardie een geval uit tien die een wat van enorme waarde vir ons sal wees. Die aanstuur van foto’s word ook sterk aanbeveel. – Prof Charlie Reinhardt, Projekleier: South African Herbicide Resistance Initiative (SAHRI), Universiteit van Pretoria

Blare is haarloos en besonder lang blaarstele is opvallend. Soms is die blaarsteel langer as die blaarskyf.

Vir meer inligting, kontak Prof Charlie Reinhardt by 083 442 3427 of dr.charlie.reinhardt@gmail.com.